Dienshonde vir die sieklike en gestremde persoon

Dienshonde wat die sieklike en gestremde persoon bystaan

Dienshonde:

Dienshonde gee mense met gestremdhede die geleentheid om die lewe so normaal as moontlik te leef. Die teenwoordigheid van ‘n dienshond verhoog die persoon se onafhanklikheid en verminder die behoefte aan versorgers. Vir mense met ontwikkelings- en verstandelike gestremdhede, kan dienshonde ook wonderlike ysbrekers wees en hul patiënt uit sosiale isolasie help.  

Nie alle dienshonde is dieselfde nie en die tipe ondersteuning wat hulle bied verskil ook. Party mense kort fisiese ondersteuning, soos parapleë, kwadrapleë, serebraalgestremdes en die met veelvuldige sklerose, terwyl ander met ontwikkelingsgestremdheid (bv. outisme) en geestesgesondheid (bv. post-traumatiese stressindroom), ‘n heel ander tipe ondersteuning van hul wolhelde benodig.

Daar is baie verskillende soorte dienshonde wat reg is om die wêreld aan te durf en ‘n verskil in iemand se lewe te maak. Nie net bied hulle ‘n helpende poot nie, maar hulle word regtig ‘n mens se beste vriend – ‘n vriend wat dit die moeite werd maak om elke dag op te staan en te leef. Hier is ‘n paar soorte dienshonde: 

Fisiese Dienshonde

Die Gidshond

Gidshonde is opgelei om die blinde en siggestremde persoon te lei. Die gidshond word van kleinsaf afgerig om ‘n baie besige wêreld vol geraas en hindernisse, aan te durf. Hulle is van ‘n goedgeteelde genetiese bloedlyn en versigtig met die hand gekies om as ‘n gidshond te dien. 

Die Gehoorhond

Doofheid is ‘n eensame gestremdheid en kan ‘n mens geïsoleerd laat voel. Gehoorhonde maak die wêreld toeganklik en bring ook geluk en vreugde mee. Maar die belangrikste van als is dat die gehoorhond groter onafhanklikheid, geselskap en ‘n gevoel van geborgenheid bied. Gehoorhonde is opgelei om die gehoorgestremde te help reageer op klanke soos die alarm, deurklokkie, telefoon en baie meer. 

Die Mobiliteitshond

Die mobiliteitshond verbeter die lewens van baie mense wat met ‘n fisiese gestremdheid leef, deur hulle te help om meer aktief, onafhanklik en selfstandig te wees. Dit gee hulle ook ‘n beter selfbeeld. Mobiliteitshonde bied fisiese ondersteuning vir balans en kan voorwerpe en items vir hulle eienaars (wat nie vrylik kan beweeg nie), aandra. 

Mediese Dienshonde

Mediese Dienshonde

Mediese dienshonde is opgelei om individue met komplekse gesondheidskwessies te help. Hulle bied groter onafhanklikheid en kan moontlik selfs hul eienaar se lewe in ‘n noodgeval red. Hulle word geleer om reukveranderinge, wat geassosieer word met lewensbedreigende mediese voorvalle, te identifiseer.

Diabete moet daagliks waak teen gevaarlike lae bloedsuikervlakke (hipoglisemie). Wanneer daar nie waarskuwingtekens is nie, kan dit ‘n dramatiese effek op die lewens van beide die diabeet en sy/haar familie hê. Sommige diabete met lae vlakke moet hulle bloedsuikervlakke doelbewus verhoog om ernstige aanvalle te voorkom.

Met hulle goeie reuksintuie, is die honde opgelei om enige verandering in bloedsuikervlakke – wat registreer as ‘n spesifieke reuk op die persoon se asem – onmiddellik op te tel. Wanneer dit buite die normale vlak daal of styg, sal die dienshond sy baas waarsku, hulp gaan kry of selfs noodsaaklike mediese voorraad gaan haal.  

Epileptiese Waarskuwingshonde en Reaksiehonde

Hoofsaaklik is hierdie honde amper meer soos ‘n “alarmsisteem”, terwyl hulle ook help, beskerm en dien. ‘n Mens kry twee verskillende tipe honde wat opgelei is om met epileptiese aanvalle te help: epileptiese reaksiehond en epileptiese dienshond. ‘n Reaksiehond is byvoorbeeld opgelei om te begin blaf sodra ‘n kind ‘n epileptiese aanval kry om sodoende die familielede se aandag te kry. ‘n Epileptiese waarskuwingshond kan byvoorbeeld tussen die persoon (wat ‘n aanval kry) en die vloer gaan lê om die persoon se val te keer. Party Epileptiese honde is opgelei om ‘n geprogrammeerde hulpverleningstelsel te aktiveer, soos ‘n pedaal wat ‘n alarm laat afgaan.

Allergie-opsporingsdienshonde

Allergie-opsporingshonde vergesel hulle base om allergiese stowwe (allergene) by die skool, sosiale geleenthede en by enige ander daaglikse uitstappie op te spoor. Die honde gebruik dieselfde tegnieke as wat gebruik word om plofstof uit te snuffel. Wanneer hulle ‘n allergiese reuk kry, identifiseer hulle die plek deur daar te gaan sit en met die neus uit te wys. Honde kan selfs oorblyfsels uitwys waar daar vroeër ‘n allergiese stof was.

Die basiese konsep en opleidingsmetodes is dieselfde, ongeag watter tipe stof. Die honde is veral nuttig vir mense wat die risiko loop van anafilakse, ‘n potensieel lewensgevaarlike allergiese reaksie wanneer daar in kontak gekom word met ‘n allergeen. 

Emosionele Ondersteunings- en Terapiehonde


Het jy geweet dat die voelgoed-hormone (serotonien, prolaktien en oksitosien) en die streshormoon kortisol, afgeskei word wanneer jy ‘n hond 15 minute lank vryf?

Terapiehond

‘n Terapiehond is ‘n hond wat opgelei is om mense in hospitale, ouetehuise, verplegingstehuise, versorgingstehuise, skole, rampgebiede en mense met leergestremdheid te help en te vertroos. Niks kan vergelyk word met die vertroosting wat ‘n terapiehond gee aan iemand wat terminaal siek is of getraumatiseerd en mishandel is nie. 

Emosionele Ondersteuningshonde

Emosionele ondersteuningshonde gee troos en ondersteuning aan die persoon wat aan verskeie geestes- en/of emosionele afwykings ly, in die vorm van liefde en geselskap. Anders as met dienshonde, word daar nie van hierdie honde verwag om enige spesifieke taak te verrig nie. Hulle word gebruik vir emosionele stabiliteit en onvoorwaardelike liefde en troos. Hulle kan help met angs, depressie, bipolêre- of gemoedsafwykings, paniekaanvalle, vrees/fobies en ander sielkundige en emosionele toestande.  

Outisme Ondersteuningshond

‘n Outisme-ondersteuningshond kan ‘n kind se vermoë om deel te hê aan onderrig, sosiale interaksie en ontspanningsaktiwiteite, verbeter. Die kameraadskap verminder stres wat geassosieer word met sosiale situasies en interaksie met ander mense. Elke outisme-ondersteuningshond is anders, want elke kind is uniek. 

Geestesgesondheid-ondersteuningshond

Ondersteuningshonde vir geestelike gesondheid, bevorder hulle base se lewenskwaliteit deur hulle te help om onafhanklik te leef. Elke dienshond is handgeleer om aan die individu se spesifieke behoeftes te voldoen en om binne en buite die huis te help.

Dit vat ‘n toegewyde span om dienshonde met sukses te teel, groot te maak en op te lei. Ons kan nie genoeg dankie sê vir al hulle harde werk en moeite wat in die proses ingaan om so ‘n ongelooflike verskil in baie mense se lewens te maak nie.

Scroll to Top