DIY-Hondespeelgoed
Hondespeelgoed kan nogal ‘n duur storie raak as jou woef te entoesiasties oor sy gunsteling speelding word. Dis waar dat jy ‘n hele reeks duursame, kleurvolle en prettige speelgoed aanlyn kan koop, maar as jy geld wil spaar en jou deel vir die omgewing wil doen, hoekom oorweeg jy dit nie om jou eie DIY-hondespeelgoed te maak nie?
DIY-hondespeelgoed is beslis goedkoper, maar nog ‘n voordeel is dat dit spesifiek vir jou hond gemaak kan word, bv. grootte en aktiwiteitsvlak. Ons het ‘n paar speelgoed ingesluit wat honde kan help met hulle probleemoplossingsvaardighede. Hmmm… dis nou as jou hond nie alreeds te slim vir sy eie beswil is nie.
Touspeelding
Jou hond sal mal wees oor hierdie interaktiewe speelding. Dis maklik om te maak, kleurvol en wonderlik vir enige grootte hond. Verslap of trek die diameter van die tou net stywer om jou hond te pas.
Benodigdhede
- 1 x ou t-hemp
- ‘n Skerp skêr
- Optioneel: tennisbal
Instruksies
- Stap 1: Sny die ou t-hemp(-e) in repe van omtrent 50 cm lank en omtrent 7 cm breed. As jy ‘n dikker of dunner tou wil hê, kan jy net die wydte van die repe aanpas.
- Stap 2: Sit al die repe stewig bymekaar en knoop hulle vas aan een end.
- Stap 3: Nadat jy dit geknoop het, verdeel die repe in drie dele en maak ‘n basiese vlegsel. Knoop dit stewig vas aan die ander end.
- Opsioneel: As jy ‘n bietjie meer pret wil inbring, kan jy altyd ‘n ou tennisbal vat en twee gate aan weerskante maak. Ryg die gevlegde tou dan deur die bal.
Hondekoshouer
Herwin jou ou plastiekbottels en hou jou hond besig met jou eie DIY hondekoshouer. Dit is maklik om te maak en jou hond sal mal wees daaroor! Hierdie speelding sal jou hond beslis heeldag stimuleer en besig hou.
Benodigdhede
- Gepaste plastiekbottels of leë waterbottels wat gewas en droog is.
- Klein/medium grootte korrels om die bottels te vul.
- Roomkaas, ansjovissmeer of grondboontjiebotter.
Instruksies
- Stap 1: Vul die bottel met klein/medium grootte korrels. Die hoeveelheid sal afhang van hoeveel bottels jy gaan gebruik en hoeveel kos jy vir jou hond ‘n dag afmeet.
- Stap 2: Gebruik ‘n teelepel van jou hond se gunsteling smeer (roomkaas, ansjovissmeer en grondboontjiebotter sal beslis die truuk doen). Smeer dit oor die bokant van die bottel (moenie die bottel toemaak nie – die korrels moet steeds maklik kan uitval).
- Stap 3: Versprei die bottels in die erf en kyk hoe jou hond dit geniet om die bottels uit te snuffel, die lekker smeer af te lek en dan daarmee te speel totdat elke gryntjie korrel uitgeval het vir hulle eetplesier!
Hou maar ‘n ogie oor jou hond sodat hy nie homself seermaak as hy dalk deur die plastiek sou byt nie!
Balspeelding
Benodigdhede
- 1 x ou piepende bal
- 1 x ou T-hemp
- Lint (ten minste 1 m in lengte)
Instruksies
- Stap 1: Sny die materiaal in sy lengte in twee stroke.
- Stap 2: Vou die materiaalstroke in half en draai dit om die ball (sit die bal in die middel van die voue).
- Stap 3: Draai die lint ‘n hele paar keer stewig om die basis van die bal (sien prentjie), voordat jy die lint styf vasknoop.
- Stap 4: Sny dan die stert van jou materiaal in ‘n klomp stroke (gebruik drie stroke op ‘n keer) en vleg dit in verskillende seksies. Maak jou vlegsel so styf as moontlik (dit maak dit ‘n bietjie moeiliker vir klein tandjies om uitmekaar te skeur). Gebruik die orige materiaal aan die einde van die vlegsel en maak ‘n stewige knoop aan die onderkant van die vlegsels om dit in plek te hou.
Vola! ‘n Splinternuwe hondespeelding vir jou beste vriend – en dit in minute!
Lekkernyhouer
Benodigdhede
- ‘n Groot leë grondboontjiebotterhouer met sy deksel.
- ‘n Lang kombuispapierkartonrol.
- ‘n Handvol klein lekkernye of korrels.
Instruksies
- Stap 1: Merk die kartonrol waar dit in die grondboontjiebotterhouer pas.
- Stap 2: Sny die rol in drie seksies (dit hoef nie dieselfde grootte te wees nie).
- Stap 3: Plaas al drie seksies in die houer.
- Stap 4: Sny ‘n gat in die houer, wat groot genoeg is vir die lekkernye om deur te pas (omtrent die grootte van ‘n 20 c of 50 c muntstuk, afhangende van die grootte van die lekkerny). Moenie die gat in die middel sny nie. Jy kan ook ‘n gat of twee aan die kante van die houer sny.
- Stap 5: Vul die houer met lekkernye en korrels en sit die deksel op. .
- Hier is ‘n skakel na ‘n stap-vir-stap video-uittreksel: https://www.youtube.com/watch?v=kJ6a4K8HXJ4
Nou kan jy jou hond vir ure dophou en kyk hoe hy daai lekkernye probeer uitkry!

