Jou klein kattekind regeer die huishouding, reg? Sy’s die lig van jou lewe en sal haar lewe lank jou vermaak en jou beste maat wees. Maak dus seker dat sy haar beste lewe leef deur die beste kwaliteit kos te kry wat al die boksies afmerk vir smaaklikheid en voedingswaardes. Goeie kos sal verseker dat jy ‘n gelukkige kat het wat ‘n lang en gesonde lewe sal leef.
Katte se voedingsbehoeftes
Siende dat katte basies karnivore is, benodig hulle primêr ‘n vleisgebaseerde dieet. Sommige katkos bevat ook grane, maar daar’s baie omstredenheid oor die vraag of katte regtig koolhidrate nodig het en of dit net gebruik word as ‘n kosvuller. Katte kan wel koolhidrate verteer, maar die kwaliteit van die kos word bepaal deur die persentasie diereproteïene in vergelyking met ander bestanddele.
Katte benodig ook taurine en aragidoonsuur, wat gewoonlik teenwoordig is met katkos wat meestal diereproteïene en ‘n reeks vitamiene en minerale bevat.
Kyk na die etiket
Die beste manier om te verseker dat jou kat die beste katkos kry wat sy nodig het vir uitstekende voeding en gesondheid, is om na al die verskillende katkosse se etikette te kyk en dan ‘n besluit te maak. Bestanddele word per gewig gelys, dit wil sê, die bestanddeel wat die grootste deel van die blik of pak se inhoud opmaak, sal eerste gelys word.
As diereproteïene van hoë gehalte is, sal dit pertinent genoem word – bv. tuna, salm, bees, hoender, ens. – in plaas daarvan om net gelys te word as pluimvee- of vleisbyprodukte. Maak seker dat jy hiervoor uitkyk. Al die vleise sal eerste genoem word, dan die organe (bv. niere en lewer) en dan die hoë-kwaliteit grane (bv. hawermout, gars, soja) en plantmateriaal.
Nat of droë katkos?
Dit hang volkome af van jou kat se persoonlike smaak en voorkeur. Die kundiges is vinnig om vir jou te sê, “slegs nat kos, want dit het ‘n hoër voginhoud”, of “slegs droë kos, want dis meer gebalanseerd”… maar dan weer, die kundiges het nog nooit jou kat ontmoet nie, het hulle? Gee jou kat die keuse tussen nat, droë en selfs nat-en-droog, en kyk wat sy die meeste geniet. Probeer om ‘n balans van beide nat en droë kos te gee. As jou kat ‘n mediese toestand het of jy is besorg oor haar gesondheid, praat dan gerus met jou veearts oor wat die beste voeding vir haar sal wees.
Premium katkos
Premium katkos bevat hoër kwaliteit bestanddele met groter verhoudings tussen proteïene en vette, in vergelyking met swak gehalte katkos. Daar’s heelwat verskillende katkoshandelsmerke om van te kies, so maak seker dat jy behoorlike huiswerk doen en maak jou keuse volgens die kwaliteit en bekostigbaarheid – koop die beste vir jou kat teen die prys wat jy kan bekostig. Maak ook seker dat die handelsmerk waarin jy belangstel, nie onlangs enige herroepe gehad het nie en wees bewus van algemene klagtes wat kliënte mag hê.
Weereens, indien jy enige twyfel het, gesels met jou veearts.
Kies volgens jou kat se lewensfase
Klein katjies se voedingsbehoeftes is baie anders as senior katte s’n. Hulle jong, vinniggroeiende lyfies benodig ‘n hoër verhouding tussen goeie kwaliteit proteïene en vette om hul groei en energiebehoeftes te bevredig. Dieselfde verhouding sal ouer katte baie vet maak! Senior katte benodig laer-kalorie kosse wat met ‘n spesiale mengsel van vitamiene en minerale verryk is. Byvoorbeeld, ouer katte is geneig tot nierkwale, dus moet hulle dieet so geformuleer word om minder druk op hul niere te plaas.
As jy enige vrae of twyfel het, gaan sien gerus jou veearts. Hulle behoort vertroud te wees met jou kat se gesondheidsgeskiedenis en kan daarvolgens aanbevelings maak om jou kat se gesondheid te bevorder en te ondersteun.
