Gidshonde
‘n Held vir elkeen en oë vir dié wat nie kan sien nie! Hulle gee hoop en ‘n lewe vir mense met siggestremdheid. Gidshonde word van jongsaf opgelei en word meer as net hul eienaars se oë. Hulle gee leiding, beskerming, mobiliteit en geselskap.
Hulle is van ‘n goedgeteelde, genetiese bloedlyn en word versigtig met die hand gekies om ‘n persoon se beste vriend, beskermer en helper te kan wees.
Wat maak ‘n goeie gidshond?
Gewoonlik word Golden Retrievers en Labradors as gidshonde opgelei omdat hulle so baie van die karaktereienskappe het wat nodig is vir ‘n uitstekende assistenthond. Ander rasse is egter ook al met sukses as gidshonde opgelei. Op 6 – 8 weke oud, kry hondjies hulle eerste kans om opgelei te word. Vrywillige hondjiestappers stel die klein hondjies bekend aan die landmerke, geluide en reuke van die omgewing waar hulle so ‘n kritiese rol gaan speel.
Omdat gidshonde in die toekoms baie by publieke verblyf, restaurante, supermarkte en op openbare vervoer gaan wees, word hulle opgelei om onberispelike maniere te hê. Hulle het ook die vermoë om allerhande afleidings, soos katte, te vermy. Alle gidshonde wil graag tevrede stel en is gewillig om te werk. Vanaf 1 jaar begin hulle met volledige opleiding om al die vaardighede aan te leer wat nodig is om ‘n blinde of siggestremde persoon te lei.
‘n Paar van die vaardighede wat gidshonde leer
- Loop in ‘n reguit lyn in die middel van die sypaadjie;
- Vermy hindernisse;
- Moenie kortpad vat nie, behalwe as hy aangesê word;
- Stop by randstene en wag vir die bevel om die pad te kruis, of om links of regs te draai;
- Skat hoogte en wydte sodat hulle eienaar nie sy/haar kop of skouers stamp nie;
- Hoe om verkeer te hanteer;
- Lei ‘n persoon van punt A na punt B in ‘n reguit lyn.
Twee dinge wat gidshonde nie kan doen nie
- Kan nie die roete na ‘n nuwe bestemming uitwerk nie;
- Kan nie verkeerstekens lees nie.
Gidshondopleiding:

Gidshonde kry hulle aanduidings en opdragte van die persoon wat hulle vergesel, so dit hang van die persoon af om te besluit watter roete hulle verkies en of dit veilig is om ‘n straat of kruising oor te steek. Met herhaling sal gidshonde later die roete onthou, maar dit bly die persoon se verantwoordelikheid om altyd te weet waar hulle is.
Die opleiding kan maar rof wees – soos dit moet wees – en nie alle jong honde maak die paal nie. Vir die meerderheid wat dit wel maak, is die kennismaking met hulle nuwe eienaar die begin van ‘n vennootskap wat rondom 7 jaar sal duur. Meeste van die gidshonde wat op die oomblik opgelei word, sal een van die dae die honde vervang wat aftree.
Vaardigheid en ervaring is nodig om die regte hond by die regte eienaar te sit. Die eienaar se hoogte, die lengte van sy/haar treë en die lewenstyl, dra alles by tot die tipe gidshond wat by hom/haar sal pas. Die “paartjie” sal vir tot vier weke intensiewe opleiding kry voordat hulle saam sal kwalifiseer.
Hoe lank dien hulle as gidshonde?
Gidshonde werk vir omtrent vyf tot ses jaar, afhangende van hoe veeleisend sy werkslewe is. Daarna is dit tyd om die harnas neer te lê en af te tree. Aan die einde van hulle werkslewe, bly die hond gewoonlik aan as ‘n troeteldier.

