Winter kruip stadig nader en dis nou die perfekte tyd om ‘n paar veranderinge aan te bring vir die kouer weer en uit te vind of jou troeteldiere nie dalk ook koud kry nie. Katte wys nie sommer as iets pla nie en kom graag voor asof alles purrfek is. Hulle steek pyn en ongemak goed weg, so dit is dus jou verantwoordelikheid om vas te stel of hulle die koue wintertemperatuur goed hanteer. Kyk of jou kat enige van die volgende beskrywings toon en volg die wenke om seker te maak sy’s so gemaklik as moontlik hierdie winter.
1. Sy’t die bewerasie
Buitenhuise katte sal gouer bewe, veral as hulle die hele oggend besig was om buite rond te baljaar. Siende dat dit nie normaal is vir ‘n kat om te bewe nie, sal jy dit sommer maklik optel.
2. Haar ore, neus en stertpunt is koud
Wanneer katte hulle liggamshitte moet reguleer om hulleself warm te hou, lei hulle ledemate gewoonlik eerste daaronder. Hulle verminder die bloedvloei na hulle ledemate om minder hitte te verloor en meer te fokus op bloedsirkulasie na hul lewensorgane. As jy dink jou kat kry koud, kan jy haar ore, neus en stertpunt aanraak om jou vermoede te bevestig.
3. Sy lyk soos ‘n pofferige stuk brood
Katmense sal die ‘katbrood’-posisie ken – ‘n ineengekrimpde kat met haar pote en stert styf onder haar ingetrek. Wanneer katte koud kry, kan hulle ook hulle pels ‘n bietjie oppof vir ekstra isolasie.
4. Sy’s liefdevoller as gewoonlik
Jy mag dalk dink dat jou kat ‘n mobiele, purrrende klein verwarmertjie is wat jou in die winter kan warm hou, maar eintlik is jy haar groot, tweebeen, kosverskaffer hitteverspreider. As jou kat meer dikwels op jou skoot wil opkrul, is dit moontlik dat sy koud kry (en jy word net gebruik vir jou warm bloed en aanhoudende gevrywery).
5. Sy soek die warm kolle uit
Jou kat mag haarself onder die bankkussings of die beddeken gaan ingrawe, of sy mag ‘n klein nessie in haar katkomberse maak. Sy mag selfs die gemaklikste sonkolletjie in die huis opspoor en agter dit aanskuif soos wat die son se posisie deur die dag verander. As jy sien jou kat lê graag naby aan die oond, kaggel, verwarmer of enige ander bron van hitte in die huis, is dit ‘n goeie aanduiding dat sy ‘n koud kry.
As jou kat eerder daarvan hou om buite rond te drentel, mag sy motorengjins en ander gevaarlike plekke opsoek vir ‘n bietjie warmte. Wees altyd bedag hierop – gesels met jou bure oor jou kat se gewoontes en vra hulle om asseblief altyd eers onder hul voertuie te kyk voordat hulle wegtrek.
Wenke om jou kat gemaklik te hou
As jou kat koud bly, kan sy die gevaar loop om te verkluim (hipotermie), wat gepaard gaan met hewiger bewing, fisiese swakheid en verstandelike disoriëntasie. Hipotermie onder katte raak gevaarlik wanneer dit ‘n stadiger hartklop, lae bloeddruk, oppervlakkige asemhaling en stywe spiere veroorsaak. As dit tot op hierdie punt kom, sal sy dringend by ‘n veearts moet uikom, so wees bewus van hierdie simptome!
1. Hou die kamertemperatuur hoog
Hou jou kat lekker warm deur bewus te wees van die kamertemperatuur in jou huis. As jy ondervloerse verhitting het, ‘n kaggel of ‘n paneelverwarmer om jou huis lekker snoesig te hou, is dit moontlik dat jy jou kat naby die hittebron sal vind. Moedig haar aan om ook in die lekker sonkolle by die venster te dut.
As jou kat meer van die buitelewe hou, kan jy haar gerus ‘n bietjie aanpor om meer binnenshuis te wees tydens winter. Wees proaktief en speel met haar terwyl jy vir haar lekkernye aanbied. Sy sal gou-gou besef dat dit baie lekkerder is in die warm huis as daar buite in die koue.
2. Maak seker haar bed is warm
Sit lekker baie komberse in jou kat se bed en laat haar toe om ‘n snoesige klein nessie te skep. Oorweeg dit om ‘n toegemaakte katbed te koop soos die Rosewood Teddy Bear Bed, die M-Pets Tasmania Tipi Cat Bed, die Rosewood Round Cosy Cat Cave, die Rosewood Snuggle Plush Pyramid, of die Rosewood Snuggle Plush 2-in-1 Cat Comfort Den. Elkeen van hierdie opsies lyk vreeslik oulik en baie warm!
3. Lig jou kat se bed hoër
Nie dat sy nog ‘n rede nodig het om soos die koningin van jou kasteel te voel nie, maar deur jou kat se bed te lig, hou jy haar weg van die koue vloer en verseker dat sy ‘n warmer plekkie het om te slaap.
4. Hou haar aktief
As jou kat oor die algemeen gesond en aktief is, kan jy ‘n bietjie ekstra tyd spandeer om met haar op kouerige dae te speel. Die ekstra beweging sal haar liggaamstemperatuur verhoog (en julle band versterk). As sy meer aktief is in winter, onthou dan om haar kalorieë-inname te verhoog deur vir haar ‘n bietjie meer kos te gee of wat van lekker bederfhappies.
5. Versorg haar gereeld
Jou kat se pels het ‘n isolasiefunksie, maar dit kan nie sy werk behoorlik doen as dit gekoek of vol knoetse is nie. Na speeltyd kan jy ‘n bietjie tyd spandeer om jou kat se pels uit te borsel sodat dit eksie perfeksie kan wees om die winterkoue te trotseer. As jy enigsins bekommerd is oor jou kat se gesondheid of toestand gedurende die koue wintermaande, bel gerus jou veearts vir advies, veral as jy ‘n ouer kat het met stywe, seer gewrigte of as sy ‘n koors of ‘n loopneus het.
