Hoe leer jy jou kat om die sandbak te gebruik? Vir party katte is dit sommer kinderspeletjies, terwyl ander weer sukkel om te verstaan wat hulle eienaars nou eintlik wil hê hulle moet doen. Gewoonlik sal die ma-kat haar kleintjies wys hoe om ‘n sandbak te gebruik, maar as sy nie naby is nie, raak dit jóú werk om vir hulle mooi te leer.
Laat instink oorneem
Katjies is nog net ‘n paar wekies oud, dan begin hulle al om in vuiligheid en droë los materiaal te grawe, sonder dat hulle ooit hulle ma dit sien doen het. Hierdie natuurlike instink word gebruik om katjies te leer om die sandbak te gebruik. Dit is belangrik dat jy weet wat jou katjie nodig het, siende dat hulle maar lekker puntenerig kan wees wanneer dit by “toiletgebruik” kom.
Ligging, ligging, ligging
Meeste buitenhuise katte sal maar te bly wees om met hul agterstewe in ‘n blombedding of ‘n gedeelte van die tuin neer te sak. As jou kat egter ‘n sandbak binne-in die huis het, is dit belangrik dat dit op die regte plek geplaas word, sodat jou kat gemaklik kan voel om te ‘gaan’. Sommige katjies en katte verkies dat die sandbak buite sig is, of dat dit bedek is sodat hulle ‘n bietjie privaatheid het.
Daar is ‘n groot verskeidenheid van sandbakke wat jou sal help om aan jou kat se behoeftes te voldoen, insluitend die grootte en diepte van die sandbak, bv. M-Pets Sherbin Cat Litter Box of die bedekte sandbak soos die M-Pets Rosetta Cat Litter Box of die baie stylvolle Pidan Igloo. Aanvanklik sal jy dalk ‘n paar foute maak, maar uiteindelik sal jy agterkom watter sandbak die regte een is met die regte diepte. Jy sal ook agterkom waar die beste plek is om dit te sit.
Katte hou nie daarvan om hul toiletgeriewe te deel nie, dus as jy meer as een kat het mag dit dalk beteken dat jy meer as een sandbak sal moet hê. Probeer maar kyk watter gedeelte van die huis elke kat verkies (hulle mag dalk selfs hul eie gebied hê) en plaas die sandbakke daarvolgens.
In sommige gevalle mag dit gebeur dat ‘n kat nie van toe spasies hou nie en dit kan paniek veroorsaak. As jy agterkom jou kat gebruik nie die bedekte sandbak nie, haal die deksel af en sit dit op die punt van die sandbak, sodat dit half op die basis leun. Oor ‘n tydperk van vier tot sewe dae kan jy die deksel geleidelik vorentoe stoot, solank jou kat gelukkig is daarmee. Hou aan om dit te doen totdat die bak heeltemal bedek is. As die sandbak heeltemal toe is en jou kat weier steeds om dit te gebruik, moet jy maar vrede maak met die idee dat jou kat dit waarskynlik nooit sal gebruik nie.
Watter tipe sand om te gebruik?
Daar is baie verskillende tipes sand om in jou kat se sandbak te sit, van silikonjel tot klonterige klei (bentoniet) tot eko-vriendelike, herwinbare papier, tot denne, mielies en ‘n hele klomp ander soorte. Ongelukkig sal jy nou nie weet watter een jou kat verkies tot voor jy dit probeer het nie. Jy en jou kieskeure kietie sal deur ‘n … “eliminerings”-proses moet gaan om die regte een te vind!
Dit is baie belangrik dat die sandbak gereeld skoongemaak word, veral as jou kat dit nie graag gebruik nie. Moet dit egter nie té skoonmaak nie. Party katte voel meer versekerd as daar nog ‘n efffense reukie oorbly. Maak die sandbak ten minste een keer ‘n week ordentlik skoon.
Wanneer dit kom by die skoonmaak van jou kat se sandbak, moet jy mooi oorweeg watter ontsmettingsmiddel jy gaan gebruik en of dit veilig is. F10 SCXD veterinary disinfectant is ‘n spesiale ontsmettingsmiddel en is veilig om op al jou troeteldier se bykomstighede te gebruik en sal hulle glad nie skade doen nie.
Kom ons doen besigheid
Sit jou katjie in die sandbak na elke voeding. Krap met sy pootjies liggies in die sand sodat hy kan leer dis die regte plek om te ‘gaan’. Sodra jou katjie die sandbak reg gebruik het, beloon hom deur met hom te speel en hope liefde te gee. Moenie met jou katjie raas as hy ‘n blapsie gemaak het nie. Vat hom soontoe om daaraan te ruik en vat hom dan na die sandbak om ook daaraan te ruik. Herhaal die proses om met sy pootjies in die sand te krap.
Oor die algemeen is katte maar puntenerig oor hoe hulle dinge gedoen wil hê en hierdie is die beste manier om jou katjie te leer om ‘n draai te loop. Hou die tipe sandbak, die tipe sand en die posisie van die sandbak in gedagte en maak seker jy maak dit gereeld skoon. Die belangrikste van als is egter om geduldig te wees, jou katjie is nog maar net ‘n ou babatjie.

