Kry honde koud in die winter?

In herfs kan die weer soms nogal wispelturig wees met somer wat nog hier en daar wil vasskop, maar niemand kan ontken dat die aandtemperatuur begin daal het en dat daar ‘n effense byt in die lug is nie.

Die vraag wat ons moet vra is: kry ons honde koud in die winter?

Die kort antwoord

Die kort antwoord is ‘n voor die hand liggende, ja! Die seisoenale temperature affekteer alle diere, so die groot vraag is hoe koud jou honde kry en wat jy daaromtrent kan doen.

Dit moet eintlik ‘n gegewe wees, maar…

Maak nie saak watter honderas jy het nie; maak nie saak hoe lank of dik sy pels is nie, GEEN hond moet uitsluitlik buite bly nie, en veral nie gedurende die wintermaande nie. Die dae van waghonde op die erf is lank reeds verby. Honde is gesinslede – deel van hul menslike trop – en verdien ‘n plekkie binnenshuis, selfs al is hulle bed in ‘n hoekie in die kombuis of waskamer.

As daar rêrig geen ander opsie is nie ( ons weet sommige landhere kan moeilik wees), voorsien dan ten minste ‘n lekker snoesige, toe hok en sit dit op ‘n plek waar die wind en reën hom nie kan bykom nie. Maak elke aand seker dat sy komberse en bed droog is en dat hy nie ander bedmaatjies soos slange, spinnekoppe of ander wilde goggas het wat van die winterkoue probeer ontsnap nie.

Haal die winterpels uit

Jou Siberiese huskie, Alaskaanse Malemoet, Duitse herdershond of skaaphond sal nou in sy element wees – uiteindelik het sy dubbelpels ‘n verhittingsdoel in winter – maar dink twee keer voordat jy hom in die koue los. Selfs honde met dik pelse kry koud. Daai wollerige pelse is slegs ‘n vorm van isolasie – sy lyf moet steeds hard werk om sy liggaamshitte te behou. Alhoewel hierdie honderasse die kouer temperature beter sal kan hanteer as honde met kort pelse, is dit steeds belangrik dat jy uitkyk vir tekens dat hy koud kry. Lees meer hieronder.

Kort pelse

Honde met kort hare soos bulhonde, Boston terriërs, Jack Russells, bulterriërs, Weimaraners, foksterriërs en veral die ‘whippets’ en windhonde is geneig om in die winter koud te kry. Alhoewel hulle wel meganismes in hul lywe het om hitte te behou, sal hulle steeds ‘n bietjie ekstra hulp nodig hê om in die winter warm te bly. Jy sal dalk ook dink dat jou plompe klein mopshond so bietjie ekstra vetjies het om homself warm te hou, maar selfs mollige brakkies kan nie op hul vetlae alleen staatmaak nie.

Hondeklerekas

Nou kan jy jou wolbaba met ‘n pragtige hondetrui of -baadjie bederf. En onthou, dit gaan nie net daaroor om van hom die mees stylvolle brak in die laan te maak nie, maar die truitjie moet sy lyfie genoegsaam bedek om hom warm in die ysige nagte en koue dae te hou. Selfs al lê jou woef lekker snoesig langs die verwarmer of kaggel, moet hy steeds warm wees wanneer hy buitentoe gaan om ‘n draai te loop.

Verkieslik moet hy meer as een trui of baadjie hê vir wanneer die ander een in die was is. Wanneer jy ‘n baadjie kies, moet jy seker maak dat:

  • dit sy liggaamsgrootte pas;
  • dit sy liggaamsvorm pas ;
  • dit nie te styf om sy nek, gewrigte en bene sit nie;
  • sy noodsaaklike liggaamsdele ontbloot is sodat hy nie sy klere vuilmaak wanneer hy ‘n draai loop nie.

Hoe om te weet dat jou hond te koud kry

Daar’s ‘n paar waarskuwingstekens dat jou hond nie die koue goed hanteer nie. Bo en behalwe enige veranderinge in sy algemene gelukkige en op en wakker liggaamstaal, kan jy ook uitkyk vir die volgende:

  • gereelde bewerasie
  • disoriëntasie of minder oplettendheid
  • swakheid
  • stadige asemhaling
  • stadige hartklop
  • temerig en/of angstig
  • stadiger bewegings as gewoonlik
  • kyk uit vir ‘n plekkie om te grawe
  • hou een of meer pote in die lug (‘n teken dat sy voete koud kry)

Almal hou van ‘n warm brak

Maak ‘n behoorlike voorraadopname: het jou hond genoeg en behoorlike komberse om hom warm te hou? Is sy slaapplek uit die wind en reën? Is sy baadjie warm genoeg vir sy lyf en tipe ras? Binnenshuise honde moenie in gedeeltes slaap waar ‘n koue briesie deurkom of in ‘n koue deel van die huis nie. Skuif liefs sy bed in ‘n beskutte hoek of ‘n plekkie wat lekker warm son gedurende die dag kry. 

Wees veral versigtig met honde wat baie oud of baie jonk is. Senior honde en babahondjies het swakker immuniteitsisteme as gesonde volwasse honde en die koue kan hulle meer vatbaar maak vir siektes en kwale. Ouer honde wat aan artritis ly sal veral sensitief vir die koue wees, so gesels met jou veearts oor gewrigsaanvullings. Maak nie saak hoe oud of jonk jou hond is nie, gee hierdie winter ‘n bietjie ekstra liefde en vertroetelings. Dit sal jou ook sommer warm hou!

* Moet NOOIT jou hond sonder toesig voor ‘n verwarmer of kaggel los nie. Hy mag dalk te laat besef dat hy te naby is en brand. Kyk gereeld of sy pels nie te warm is nie en skuif hom as hy te warm word. Kaggels het die gevaar dat verdwaalde kooltjies op jou hond se pels of baadjie kan beland, so maak seker dat jou kaggel ‘n skerm het en hou ten alle tye ‘n ogie oor hou hond. 

Scroll to Top