Troeteldiere en die Koronavirus

Troeteldiere en die Koronavirus

Kan jou Troeteldiere die Koronavirus opdoen?

Dit was net ‘n kwessie van tyd: die nuwe koronavirus (EARS-CoV-2) het Suid-Afrikaanse bodem bereik en ‘n handvol mense is reeds met die koronavirussiekte – coronavirus disease 2019 (COVID-19) – gediagnoseer. Gesinslede is onder kwarantyn om enige verspreiding van die siekte te voorkom, maar wat is die implikasies vir ons wollerige gesinslede?

Kom ons bekyk hierdie spesifieke koronavirus van naderby, en sommer ook koronavirusse oor die algemeen, om te verstaan hoe dit troeteldiere mag of nie mag affekteer.

Wat is ‘n Koronavirus?

Koronavirus is die sambreelterm vir ‘n familie van virusse wat siektes in soogdiere en voëls kan veroorsaak. By mense en voëls affekteer koronavirusse die boonste lugweg – wat die griepverwante simptome veroorsaak waarteen ons almal gewaarsku word. Daarteenoor affekteer honde-koronavirus en kat-koronavirus die ingewande en maagwand onderskeidelik.

Die huidige Koronavirus onder die menslike bevolking

Teen die einde van 2019, is die nuwe koronavirus, of te wel ‘Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom-Koronavirus-tipe-2’ (EARS-CoV-2) (Severe Acute Respiratory Syndrome Coronavirus 2 (SARS-Cov-2)), in Wuhan, China, geïdentifiseer. Dit het nou reeds wêreldwyd versprei en Suid-Afrika staar ‘n potensiële uitbraak in die gesig. Mense wat EARS-CoV-2 opgedoen het en simptome van COVID-19 toon soos hoes, nies, koors, tamheid en asemtekort, moet onder kwarantyn geplaas word, getoets word en vir hulle simptome behandel word.

COVID-19 word versprei wanneer draers van die virus hoes of nies en die virusbesmette asemhalingsdruppels op verskillende oppervlaktes beland. Hierdie druppels kan dan na ander mense oorgedra word deur kontak tussen hande en mond. Lugverspreide druppels kan ook deur ander mense ingeasem word.

Kan mense met COVID-19 steeds met hul troeteldiere kontak hê?

Skrikwekkend genoeg, is daar onlangs aangekondig dat die hond van ‘n COVID-19 pasiënt in Hong Kong ‘swak positief’ getoets is. Daar word egter gemeen dat dit slegs omgewingsbesmetting van die hond se mond en neus kon wees, siende dat die hond geen simptome van COVID-19 wys nie.

Indien jy COVID-19 sou opdoen, beveel die Amerikaanse Sentrum van Siektebeheer en -Voorkoming (American Centers for Disease Control and Prevention (CDC)) aan dat jy kontak met jou troeteldiere beperk, nes jy kontak met ander mens sal vermy. Alhoewel dit aanvaar word dat troeteldiere nie COVID-19 by mense kan aansteek nie, is dit beter om eerder versigtig te wees totdat daar meer bekend is aangaande die virus. Die CDC beveel aan dat COVID-19-pasiënte nie hulle troeteldiere streel, vertroetel of kos mee deel nie en hulle die diere ook nie toelaat om hulle te soen en te lek nie. Dit klink glad nie lekker nie, maar eerder bang Jan as dooie Jan!

Kan mense COVID-19 van hulle troeteldiere kry?

Vir nou is dit veilig om met jou troeteldier om te gaan omdat mense nie COVID-19 by hulle troeteldiere kan aansteek nie, maar hou maar aan met goeie higiëne sodat jy nie enige E.coli of Salmonella-infeksies opdoen nie. Was jou hande altyd deeglik nadat jy jou troeteldier aangeraak het en hou ook jou troeteldiere se higiëne op standaard.

Kan COVID-19 na ander mense versprei as jou troeteldier in kontak was met iemand wat die virus het?

Daar is tans nog geen bewyse dat troeteldiere draers van die EARS-COV-2-virus is of daarvan siek kan word nie, of dat hulle COVID-19-infeksies by ander mense kan veroorsaak nie. Daar moet egter nog baie navorsing gedoen word voordat hierdie heeltemal uitgesluit kan word.

Wat as jou troeteldier onverklaarbare simptome ontwikkel nadat hulle by ‘n gedokumenteerde COVID-19 pasiënt was?

Gesondheidsamptenare weet nog nie of metgeseldiere COVID-19 kan ontwikkel nie, maar indien jou troeteldier naby iemand was met ‘n bevestigde geval van COVID-19 en skielik onverklaarbare simptome ontwikkel, moet jy dadelik daardie mense se dokter, asook jou veearts, in kennis stel. Bel eers jou veearts om hulle in kennis te stel dat jou troeteldier aan iemand met COVID-19 blootgestel was en vreemde simptome toon. Dit sal die veearts toelaat om eers alle nodige voorsorgmaatreëls te tref, soos om ‘n isolasie-area voor te berei en verdere besmettings te voorkom.

Hoe moet jy teenoor diere optree in areas waar die virus aktief is?

Diereliefhebbers kan hulself nie altyd inhou rondom vriendelike diere nie, maar dis belangrik om eerder kontak met vreemde diere te beperk. Was jou hande na enige interaksie met enige dier. Indien jy COVID-19 het, vermy enige kontak met jou eie en ander diere totdat jy weer gesond is.

Sal inenting teen honde-koronavirus jou hond teen EARS-CoV-2 en COVID-19 beskerm?

Nee. Honde-koronavirus is baie verskillend van EARS-CoV-2 en daar’s geen bewyse dat ‘n entstof vir ‘n ingewandsvirus beskerming kan bied teen ‘n respiratoriese virus nie. Ons weet jy wil alles doen om jou dieremaat gesond te hou, maar hou asseblief by behoorlike wetenskap… of neem jou gesondheidskwessies direk na jou veearts!

Hoe kan jy jouself en jou troeteldiere teen COVID-19 beskerm?

Die beste manier om jouself teen COVID-19 te beskerm is om geen kontak met die virus te hê nie:

  • Moenie te naby aan iemand kom wat siek is nie.
  • Hou jou hande skoon.
  • Hou jou hande weg van jou neus en mond.
  • Bly by die huis wanneer jy siek voel.
  • Bedek jou neus en mond wanneer jy nies – dis nie net gesond nie, maar ook goeie maniere.
  • Ontsmet en maak huishoudelike oppervlaktes gereeld skoon.
  • As jy gesond is, hoef jy nie ‘n gesigmasker te dra nie. Gesigmaskers word slegs aanbeveel vir mense wat simptome van COVID-19 toon.

Handhaaf goeie troeteldierhigiëne en spaar maar daai vertroetelingtjies vir totdat dit eendag heeltemal veilig is.

Hierdie artikel is aangepas volgens die Wêreld Kleindier Veeartsenykundige Vereniging se riglyne oor die Nuwe Koronavirus en Metgeseldiere. Lees die volledige artikel hier.

Scroll to Top