Oefeningsriglyne - Wenke om met jou hond te gaan stap

Wenke vir wanneer jy met jou hond gaan stap

Dit is natuurlik altyd lekker om in die vars lug te wees en oefening te kry, maar die heel lekkerste daarvan om met jou hond te gaan stap is wanneer jy sy gesig sien ophelder die oomblik wat jy sy leiband optel. Ons weet wat hulle dink: “Jippie! Ons gaan stap!” Jou hond geniet dit om te verken, dinge te ruik, verskillende goed te sien en ‘n ander omgewing te betree. Dit is baie goed vir hulle verstandelike stimulasie, maar die grootste voordeel van ‘n gereelde stappie, is die band wat dit tussen jou en jou hond vorm. Lojaliteit en vertroue groei met elke tree.

Halsbande en harnasse

Wanneer jy met groter honde gaan stap, of met honde wat geneig is om jou mee te sleep, is ‘n harnas die ideaal. ‘n Harnas is gemakliker om jou gewrig, sowel as om jou hond se nek en lyf. Dit wurg nie jou hond nie, maar gee die nodige ondersteuning om die hond se bors. ‘n Goeie kwaliteit leiband is sterk en pas by jou hond se liggaamslengte en –grootte. Dis baie makliker om ‘n groot hond met ‘n wyer, sterker leiband te beheer, terwyl ‘n dwerghondjie slegs ‘n smal en ligte halsband nodig het.

Halsbande en leibande kan vir goed opgeleide, gehoorsame honde gebruik word, terwyl die Halti muilband oor ‘n hond se neus en nek gesit kan word, en dis glad nie ongemaklik nie. Dit keer wel dat hulle handuitruk en begin hardloop.

Wat om saam te vat op ‘n stappie

Dit is altyd belangrik om drinkwater byderhand te hê wanneer jy en jou hond gaan stap – vir jou en jou hond se onthalwe. Oefening stimuleer ‘n hond se metabolisme en hulle is daarom geneig om langs die pad te … am … nr. 2. Dit is net goeie maniere om agter jou hond skoon te maak, so vat asseblief ‘n plastieksak of twee saam wanneer jy met jou hond gaan stap en gooi dit weg in ‘n asblik of wanneer julle by die huis kom.

Beste tyd om te gaan stap

Moet nooit gedurende die warmste tyd van die dag met jou hond gaan stap nie (11:00 – 15:00). Dit is veral belangrik vir honde met kort neuse omdat hulle oor die algemeen kan sukkel om behoorlik asem te haal. Hulle kort lugweë gee nie die warm lug genoeg tyd om af te koel voordat dit hulle longe bereik nie, wat erge asemhalingsprobleme tot gevolg kan hê.

Hulle kan ook op warm dae hitte-uitputting kry. As jou hond baie uitasem is, swak lyk, die tandvleis bloedrooi is of selfs flou word, moet jy onmiddellik stop. Koel jou hond so goed as moontlik af (rus, gee water en soek skaduwee). As jy bekommerd is, vat jou hond so gou as moontlik na ‘n veearts.

three Domestic dogs French Bulldog breed on leash met with labrador retriever

Uithouvermoë

Ken jou hond se perke! As jy lang wandelinge beplan, is dit belangrik om jou hond geleidelik fikser te maak – net soos jy aan jou eie fiksheid sal werk. Moenie jou hond dwing om te loop as hy of sy moeg lyk nie. As jy kan, tel hulle eerder op en dra hulle verder. Dit is ‘n algemene reël om langafstand wandelinge met groter honderasse te vermy totdat hulle ten minste een jaar oud is.

Onthou om genoeg water saam te vat wanneer julle vêr ente gaan stap. Hou jou hond gereeld dop en moenie dat hy vreemde voorwerpe optel of by areas rondsnuffel waar jy nie seker is of dit veilig is nie. Wees waaksaam, en as jy enige skielike veranderinge in jou hond se optrede of fisiese voorkoms sien (soos mankheid), draai om en gaan dadelik terug huis toe. As jy bekommerd is, gaan sien jou naaste veearts.

Jou hond se pote

Honde se pootkussings is gewoonlik baie gehard, maar hulle kan maklik op ‘n té warm loopoppervlak brand. Doen eers ‘n vinnige en maklike toets voordat jy begin stap. Plaas jou hand op die grondoppervlak vir sowat 10 sekondes. As dit te warm is vir jou hand, is dit te warm vir jou hond se pote. As jou hand nie te warm voel nie is dit veilig om met jou hond te gaan stap.

Probeer om gevaarlike areas met gebreekte glas, uitgebrande vure en dorings, en selfs hard gras, te vermy; jou hond se poot kan seerkry en die wond kan infeksie veroorsaak. Growwe oppervlakte soos sement, plaveisel of teer, kan help om jou hond se naels kort en mooi te hou, maar hou ook in gedagte dat growwe gruis jou hond se pote kan stukkend maak as hy daarop hardloop.

Algemene veiligheid

Veiligheid kom altyd eerste en daarom is dit belangrik dat jou hond ten alle tye aan sy leiband vas is. Wees op die uitkyk vir ander honde in die omgewing. Jou hond mag dalk sosiaal wees, maar ander honde dalk nie en kan dalk allerhande dreigende seine na jou hond uitstuur.

Maak seker jou hond is behoorlik bestand teen bosluise, vlooie, en wurms en dat hy ingeënt is, voordat jy hom na ‘n plek vat waar daar baie ander honde ook is (bv. ‘n park). Indien nodig, vra jou veearts vir raad oor ‘n produk of beskikbare behandelings.

Wanneer jy al die bogenoemde boksies kan aftik, is dit tyd vir … ‘n stappie!

Scroll to Top