Doofheid is ‘n eensame gestremdheid en kan mens alleen en dikwels geïsoleerd laat voel. Met gehoorhonde is die wêreld meer toeganklik en bring dit groter vreugde en geluk mee. Maar die belangrikste van als is dat die gehoorhond groter onafhanklikheid, geselskap en ‘n gevoel van geborgenheid gee. Gehoorhonde leen nie net ‘n oor nie, maar gee ook ‘n hele nuwe lewe!
Wat maak ‘n goeie gehoorhond?
In die verlede het baie opleidingsentrums hulle honde van toevlugshawens en bekende telers gekry. Die gevolg is dat baie honde in aksie van gemengde ras is en van enige grootte, vorm en kleur. Meeste mense verkies ‘n klein tot medium grootte hond. Bo en behalwe die grootte, speel persoonlikheid en geaardheid ook ‘n groot rol. Hulle moet op en wakker wees en gereed wees vir aksie die oomblik wat hulle ‘n geluid hoor. Verder moet hulle ook vriendelik en mensgeorïenteerd wees (goed gesosialiseerd). Baie Terriër-kruisings word juis daarom verkies, saam met verskeie kombinasies van Poedels, Sniphonde (Cocker Spaniels), Shih-Tzu’s and Chihuahuas. Party gehoorhonde kan so gou as binne drie maande professioneel afgerig word, maar ander kan tot ‘n jaar vat.
Afrigting van die gehoorhond
Gehoorhonde word hoofsaaklik afgerig om mense van huishoudelike klanke – wat noodsaaklik is vir elke dag se veiligheid en onafhanklikheid – bewus te maak. Hulle word geleer om fisiese kontak te maak en die persoon na die klankbron te lei. As gevolg van hulle klankbewustheid en geselskap, verhoog hierdie honde ‘n persoon se indiensneembaarheid en bied hulle ook meer vryheid en onafhanklikheid.

Gehoorsaamheidsopleiding word tydens ‘n klein hondjie se sosialisering deur ‘n vrywillige hondjiesosialiseerder gedoen. Hierdie opleiding word dan regdeur die jong hond se klankwerksopleiding herhaal. Gehoorhonde word geleer om op ‘n hele klomp huishoudelike klanke te reageer, insluitend gevaarseine soos rookalarms, oondklokkies, wekkers, deurklokkies (of ‘n klop aan die deur) en wanneer ‘n naam geroep word, soms selfs ‘n baba se huil.
Sodra hierdie honde by hulle dowe of gehoorgestremde baas is, sal hulle gou leer om op ander klanke soos die mikrogolfoond, ketel en wasmasjien/droër te reageer. Gehoorhonde kan geleer word om mense van enige geluid bewus te maak, mits die klank genoeg herhaal en gereeld geoefen word. As ‘n klank te moeilik is of nooit dieselfde is nie, is dit vir die hond moeilik om dit te leer en daarop te reageer.
Hoe lank dien hulle as Gehoorhonde
Alle gehoorhonde tree op 11-jarige ouderdom af. Die gehoorskool/-vereniging besoek al hulle werkende honde ten minste een keer per jaar en dit is een manier om ‘n ogie te hou oor die hond se werk en gesondheid. Tydens hierdie jaarlikse evaluering, gee hulle aandag aan die hond se werk en hulle gesels met die ontvanger. Die hond se aftrede word met die ontvanger bespreek sodra die hond minder as 50% van die tyd werk. Wanneer ‘n gehoorhond aftree, het die ontvanger ‘n paar opsies:
1. Hulle wil so gou as moontlik weer ‘n ander gehoorhond hê;
2. Verkies om te wag;
3. Wil nie ‘n ander gehoorhond hê nie.
Die opleidingsentrum bied volledige hulpverlening aan die ontvanger en indien nodig, kry hulle ‘n geskikte familie vir die afgetrede hond. Bv. die oorspronklike hondjiesosialiseringsfamilie mag dalk belangstel om na een van “hulle” afgetrede honde te kyk.

