Katafrigting - Leer jou kat sit

Katafrigting – leer jou kat sit

Leer jou kat sit – Kan dit gedoen word?

Baie mense dink dis absoluut onmoontlik om jou kat te leer en dat hulle nie dieselfde teenoor afrigtingsmetodes reageer as honde nie. Katte reageer wel op afrigting! Om die waarheid te sê, katte was een van die eerste diere wat in wetenskaplike studies gebruik is om die belangrikheid van versterking in dieregedrag te toets.

So, hoekom doen katte die dinge wat hulle doen?

Katte se unieke gedrag is dikwels wat ons in die eerste plek na hulle toe aantrek. Hulle eienaardighede maak die lewe saam met hulle prettig en interessant, maar sou dit nie wonderlik wees as jy hulle kon leer om na jou te luister nie? Voordat ons egter ons katte kan leer om iets te doen, of te stop om iets te doen, moet ons by die basiese begin. Hulle praat nie mensetaal nie en ons praat nie kattetaal nie, maar ons kan uit ervaring en met begrip leer. 

Katte is nie so sosiaal soos honde nie, maar dit is omdat honde getem is om met mense interaksie te hê en metgeselle te wees. Die primêre rede hoekom katte getem is, was om te jag en om met ongediertes af te reken. Dit het hulle onafhanklik gemaak en hulle is nie van nature geneig om vir lof, aandag en beloning te werk nie (anders as honde). As jy jou kat met sukses wil afrig, sal jy onweerstaanbare lekkernye nodig hê, maar nog belangriker, kreatiwiteit en geduld. 

Wat is die voordele daarvan om jou kat af te rig?

Om jou kat af te rig het ook baie ander belangrike voordele. Afrigtingsoefeninge sal beide die verstand en liggaam stimuleer en dit help ook vir goeie gesondheid. Wanneer julle kwaliteittyd saam spandeer, versterk dit julle band. Bo en behalwe dat jy hulle oulike toertjies kan leer (soos “waai” en “vang”), kan jy hulle ook nuttige gedrag leer bv. om te sit, te bly, of hoe om huis toe te kom wanneer hulle geroep word. Onthou: geduld en ‘n beloning gaan ‘n vêr pad om sukses te verseker.

Die eerste stap is om jou kat se gunsteling lekkerny in die hand te hê. Dit kan enigiets wees van gekookte en opgekapte hoenderstukke, stukkies tuna, vleisgegeurde babakos of enige goeie kwaliteit kommersiële lekkerny. Sodra jy weet waarvan jou kat hou, volg die basiese stappe vir positiewe versterkingsafrigting (beloningsgebaseerde afrigting) om die gedrag vas te lê wat jy hulle eerste wil leer.

Kom ons veronderstel jy wil jou kat leer om op ‘n bankie te sit (en bly), terwyl jy ete voorberei:

Leer hom om te sit wanneer jy hom beveel:

  • Maak seker dat jy jou kat se aandag het en dat hy op jou gefokus is. Hou ‘n lekkerny tussen jou vingers, naby genoeg aan die neus maar vêr genoeg dat hy dit nie kan bykom nie. Sodra jou kat die lekkerny ruik en belangstelling wys, kan jy jou hand stadig van sy neus wegbeweeg tot net bokant sy kop, tussen die ore. Moenie te vinnig beweeg nie omdat dit hulle eerder sal wil laat staan. Baie katte sal die handbeweging volg en soos hulle hulle ken opwaarts en agtertoe trek, sal die agterstewe van nature afwaarts gaan.
  • Sodra jou kat se agterstewe die grond raak, moet jy hom prys en ‘n lekkerny gee. As die agterstewe na die eerste paar probeerslae nie heeltemal die grond raak nie, beloon hulle in elk geval. Probeer om dit ‘n paar keer te doen en beloon hulle elke keer wanneer hulle sit. Hulle sal weldra leer (geduld) en jy sal sukses bereik.

Katte kan nogal sukkel om op voorwerpe te fokus wat naby aan hul gesigte is, so probeer om die lekkerny in jou palm te hou, of sit dit neer as hulle dit nie direk uit jou hand wil vat nie. Baie mense gebruik ‘n ‘klieker’ om hulle diere te leer, maar as jy nie een kan kry nie, gebruik sommer ‘n Bic pen. Sodra jou kat die instruksie regkry, kliek een of twee keer en bied dan ‘n lekkerny aan. As jy hierdie metode gebruik, sal jou kat leer om die kliekgeluid met die regte gedrag te assosieer. Oorreding, nie straf nie, is die sleutel tot suksesvolle afrigting van jou kat. Oefen dit gereeld en jy sal gou ‘n kat hê wat tevrede sit en purr.  

Scroll to Top