Potjie-parade - Riglyne vir nuwe honde-eienaars

Potjie-parade – Riglyne vir nuwe hondjie-eienaars

Jippie, ‘n nuwe hondjie! Daar is niks lekkerder as om ‘n nuwe gesinslid by te kry nie, veral een met ‘n swaaiende stertjie en hondjie-asem. So, kom ons kry die aaklige werk eers uit die weg en begin met potjie-parade so gou as moontlik.

Sommige honderasse soos die skaaphond en Duitse Herdershond leer makliker as ander rasse, veral miniatuur rasse. Maar dalk het jy ‘n hondjie wat maklik snap, so bly net kalm terwyl jy jou woefie leer.

Wanneer begin ek met potjie-parade?

Die beste tyd om met potjie-parade te begin is rondom twee maande (agt weke, so onmiddellik wanneer jy jou nuwe hondjie kry). Meeste hondjies is heeltemal afgerig teen ses tot agt maande.

Waar begin ek?

Neem jou hondjie elke uur tot twee ure buitentoe vir ‘n paar minute. Stappies na ete moet langer wees as ander stappies, sodat jou hondjie meer tyd het om sy ding te doen. Kyk uit vir tekens dat jou hondjie gereed is om ‘n draai te loop, bv. ronddrentel, in ‘n sirkel beweeg en kerm. Wanneer jou hondjie suksesvol buite op die regte plek gepiepie het, is dit belangrik dat jy hom vir sy goeie gedrag vergoed deur hope prys en aandag te gee.

Roetine is krities

Die beste is om met ‘n roetine te begin en daarby te bly. Vat jou hondjie heel eerste elke oggend uit na dieselfde area en probeer dit ook elke oggend om dieselfde tyd doen. Wanneer hulle die bekende reuk ruik, sal dit hulle help om te onthou. Dis baie belangrik om konsekwent te wees, sodat jou hondjie die regte gewoonte kan aanleer. Bevelwoorde soos ‘piepie’, ‘wee-wee’ en ‘poepoe’ is baie belangrik. As jy die woorde elke keer herhaal wanneer jy jou hondjie uitvat, sal hy begin om die woord met die aksie te assosieer.

Hondjiedoeke

Die eerste agt tot tien weke kan jy gedurende die nag hondjiedoeke gebruik wat jy in die hondjie se algemene slaaparea kan sit. Hou dit in dieselfde area om ongelukke in ander dele van die huis te verhoed. Jou slim woefie sal gou-gou leer dat die doek hulle veilige plek is om te piepie. Dit maak dit baie makliker om skoon te maak en minder stresvol vir jou.

Na die aanvanklike opleidingstydperk kan die doek gedurende die dag buite gesit word. Die reuk sal hulle help om te onthou en gewoonte versterk goeie gedrag. Soos hondjies ouer word, leer hulle om hulle blase te beheer en om hulself buite te verlig. Dit is belangrik om hulle altyd voor bedtyd uit te laat, sodat dit ‘n ongelukkie binnenshuis kan verhoed.

Beloon die goeie, ignoreer die slegte

Alle goeie gedrag, selfs die kleinstes, moet met lof en lekkernye beloon word. Gee hope liefde en aandag, opbouende taal (MOOI HONNE!) of ‘n klein lekkerny, dit sal ‘n vêr pad gaan om sukses te behaal. Moet asseblief nie jou hondjie straf wanneer ‘n ongeluk gebeur nie. Dit is presies wat dit is, ‘n ongeluk, en dit gebeur. Jou hondjie wil jou graag tevrede stel en hy sal daarom aanhou met hierdie goeie gedrag wat soveel positiewe reaksie van jou ontketen.

Wanneer jou hondjie wel ‘n ongeluk het – en hy sal – moenie hom straf nie. ‘n Geslaan en skreeuery sal net vrees en negatiwiteit in jou hondjie skep en jy wil nie hê dat hy jou met ‘n negatiewe ervaring assosieer nie. Hondjies is nie perfek nie en jou kleintjie leer nog. Hy is nie aspris stout nie, so ignoreer hom maar net soos wat jy kalm skoonmaak en aangaan waarmee jy besig was.

Dit sal eendag alles die moeite werd wees!

Scroll to Top