Waarom is versorging belangrik?
Versorging gaan nie net daaroor om jou troeteldier pragtig te hou nie, maar help ook baie om nadelige velkondisies te voorkom. Dit help om enige pes, wat ‘n potensiële gesondheidsrisiko vir jou troeteldier mag inhou, vinnig raak te sien.
Wat van bad en hare borsel?
Probeer om jou kat en hond gereeld deur die week te borsel (ten minste twee keer). Dit sal haarverlies beheer en haarbolle en koeke voorkom – dinge wat vir jou troeteldiere vreeslik seer kan wees. Haarbolle kan intense maagpyn veroorsaak, of nog erger – dermblokkasie, as dit ingesluk word!
‘n Gereelde bad het ‘n groot gesondheidsvoordeel. Dit verwyder vuilheid en oortollige velolies wat velkondisies en onaangename reuke (Sies!) kan veroorsaak. Hulle kan ook hulle liggaamstemperatuur beter reguleer wanneer hulle pels skoon is, amper soos Moeder Natuur se ingeboude lugversorger!
Sommige diere en rasse moet meer gereeld geborsel en gebad word om hulle vel en pels gesond te hou, (bv. Persiese katte en Pekingese honde). Pasop dat jy hulle nie te veel bad en borsel nie, want dit kan weer te veel natuurlike olies verwyder en droë en geïrriteerde vel veroorsaak. As jy onseker is, vra jou plaaslike veearts hoe gereeld jy jou troeteldier moet bad en borsel en watter produkte hulle sal aanbeveel.
Dis net so belangrik om jou troeteldier se naels te knip. As jy onseker is oor hoe om dit te doen, vra jou veearts vir hulp en ‘n demonstrasie. Dis ‘n delikate proses en jy moet dit liefs nie self waag nie, veral as jou troeteldier donker naels het. As naels verkeerd geknip word, kan dit bloeding en infeksie veroorsaak en dit kan ook baie seer wees.
Skoonmaak van tande:
Borsel jou hond se tande so gereeld as moontlik om plaak en ‘n stink asem te voorkom. Spesiale borsels en produkte is beskikbaar, so MOET ASSEBLIEF NIE tandepasta wat vir menslike gebruik bedoel is, gebruik nie! Dit help om jou troeteldier se tande van so jonk as moontlik te begin borsel sodat hulle gewoond kan raak aan die roetine. Weereens, vra jou veearts indien jy enige hulp hieromtrent benodig.
Vir diegene wat nie tyd het om hulle troeteldiere gereeld te versorg nie, is daar baie ander wonderlike versorgingsalonne daar buite. Party van hulle bied mobiele versorgingsdienste aan, reg op jou drumpel. Soek in jou plaaslike gids of vra jou veearts vir ‘n verwysing.
Hou jou troeteldier skoon, gesond en pragtig!

