Die een ding waarteen elke troeteldiereienaar opsien is dat hul troeteldiere moet ouer word. Tyd gaan so gou verby, in ‘n oogwink en jou baba is oud. Waarheen is die tyd? Hoe kan jy seker maak jy’t meer tyd met jou troeteldier en belangriker nóg, hoe kan jy seker maak jou baba het nie pyn nie?
Nes mense, moet jou troeteldiere ook oefen en fiks bly om hulle senior jare te geniet. Dis baie belangrik om aktief te bly. Met veroudering kom ‘n verlies aan balans en spiertoon wat kan lei tot onaktiwiteit, wat weer kan lei tot gewigstoename. Ekstra gewig kan druk op die gewrigte plaas, wat alreeds nie meer deur genoegsame spiermassa ondersteun word nie.
Onaktiwiteit en ‘n verlos aan spiermassa en balans wakker vinniger veroudering aan. Die risiko vir beserings is ook aansienlik hoër as hulle sou val, struikel, gly of swik. Nes bejaarde mense kan jou ouer troeteldier beslis voordeel trek uit teenverouderingsaktiwiteite:
- Oefeninge wat spesifiek ontwerp is om krag, soepelheid en balans te handhaaf.
- Kort, gereelde stappies vir ‘n gesonde hart.
- Massering om seer spiere, gewrigte en ander seer en pyn te verlig.
- Swem en waterterapie help ook om fiks te bly en vat die druk van jou troeteldier se gewrigte af.
Party van hierdie oefeninge/aktiwiteite mag dalk die hulp van ‘n kenner benodig, bv. ‘n dierefisioterapeut of ‘n veearts. Natuurlik kan gewillige eienaars hulle metgeselle verskeie kere per dag uitvat vir kort wandelings om kardiovaskulêre fiksheid te bevorder. Jy kan ook by jou veearts, meeste dierefisioterapeute of ‘n professionele dieremasseerder leer oor hoe om jou troeteldier te masseer. Daar is hoofsaaklik drie oefeninge wat jou troeteldier sal help om soepel te bly:
- Passiewe omvang-van-beweging oefeninge
- Oefeninge wat balans en vloeiende beweging handhaaf
- Oefeninge wat die groot liggaamsondersteunende spiere teiken, bv. die dyspiere en boudspiere.
Passiewe omvang-van-beweging-oefeninge:
Laat jou troeteldier op sy sy lê, maar hy moet gemaklik wees. Buig en strek jou dier se bene een-een op ‘n slag en hou elke posisie vir omtrent 10 sekondes. Dit is belangrik dat die been se posisie parallel met die liggaamswand is om wrywing op die gewrigte te voorkom. Dit is ook belangrik om nie die gewrigte of enkels te oorstrek nie.
Passiewe omvang-van-beweging-oefeninge sluit in:
- Strekking van die voorste bene
- Strekking van die skouer en elmboog
- Buiging van die skouer en strekking van die elmboog
- Wegstrekking van die skouer
- Buiging van die agterbene
- Buiging van die heup en strekking van die knieskyf
- Strekking van die heup en knieskyf
- Wegstrekking van die heup
Kyk gerus na die volgende video’s om jou met passiewe omvang-van-beweging-oefeninge te help:
Video of PROM exercise on dog’s front limb
Video of PROM exercise on dog’s hind limb.
Oefeninge om balans en soepelheid te handhaaf:
Hierdie oefeninge help ouer diere om soepel te bly, terwyl dit ook balans en fisiese stabiliteit bevorder. “Reik-na-‘n-lekkerny”-oefening begin met jou troeteldier in ‘n staande posisie. Die doel is dat jou troeteldier na die lekkerny reik, sonder dat daar enige treë gegee word.
Die lekkerny word vanuit verskillende rigtings aangebied om die strekking in verskillende rigtings aan te moedig. Beloon jou troeteldier met die lekkerny sodra hy die verlangde posisie reggekry het. Die oefening kan ‘n bietjie moeiliker gemaak word deur te verwag dat jou troeteldier die posisie vir 10 – 30 sekondes hou.
Die “reik”-oefeninge sluit in: spinale strekkings, spinale dorsifleksie, sywaartse spinale buiging en sywaartse spinale buiging met rotasie.
Ander oefeninge wat balans, krag en soepelheid kan verbeter, sluit òf stap òf hoogtrap oor Cavaletti pale in.
Kragoefeninge wat sekere spiere teiken:
Hierdie oefeninge teiken die liggaamsondersteunende spiere, soos die dyspiere en boudspiere. Die sywaartstree-oefening versterk die boudspiere en die sylangse dyspiere.
Staan langs jou hond se sy, met een hand op haar halsband en die ander hand op die teenoorgestelde heup. Tree nader aan jou hond totdat dit kant toe tree met ‘n sywaartse beweging, maar nie vorentoe nie. Jy kan met 3 tot 5 treë begin en dit vermeerder na 10 tot 15 treë in elke rigting.
Ander versterkingsoefeninge vir die groot spiere sluit in: teen ‘n bult uitstap of trappe klim en sit-na-staan.
Die voordeel van Massering vir Ouer Diere (net so ‘n ou ietsie ekstra):
Troeteldiermassering, veral vir ons ouer vriende, is baie anders as massering vir mense. Soos jy op hierdie kort video kan sien is die tegniek vir honde stadige, sagte stryke en strekkings, gekombineerd met ligte, ritmiese houe.
Masseertegnieke vir katte hang baie af van wat n sekere kat sal toelaat. As jou kat daarvan hou om gevryf te word en gewoond is daaraan dat sy stert, pote en kop aangeraak word, is hy heelwaarskynlik ‘n goeie kandidaat vir massering. As jou kat nie van aanraking hou nie sal massering heelwaarskynlik nie vir hom ‘n genesende of gemaklike ervaring wees nie.
Gereelde massering kan help om jou senior troeteldier se spiere in vorm te hou en verminder die verwering wat saam met ouderdom kom. Gemasseerde spiere is losser en jou troeteldier kan dus gemakliker rondbeweeg. Massering bevorder sirkulasie en bevorder limfatiese dreinering. Gereelde massering verlig ook die styfheid van artritis, wat kan help dat jou troeteldier sy normale gang en aktiewe leefstyl handhaaf.

