Troeteldiere moet die buitelewe kan geniet en rondloop en verken. Maar elke keer wanneer ons ons troeteldiere toelaat om rond te snuffel, te lek en sommer net enigiets op te slurp wat op hulle pad kom, insluitend modder, rommel, voëls, poep en soveel meer, stel ons hulle bloot aan wurms en parasiete. Parasiete en wurms kan dan na jou ander troeteldiere oorgedra word en selfs na jouself en jou kinders. Ontwurming sal jou familie (wollerig en andersins) veilig hou.
Hoekom is ontwurming belangrik?
Wanneer jy jou troeteldiere ontwurm, is dit wys om jou hele gesin saam te ontwurm – al jou katjies en brakkies, selfs die tweebenige gesinslede (ja, jy ook!). Dit is veral belangrik om dit te doen wanneer jy ‘n nuwe hondjie huistoe bring. Hondjies moet elke twee weke, tussen die ouderdom van vier tot 12 weke, ontwurm word. Tussen 12 weke en ses maande, moet hondjies elke maand ontwurm word.
Vanaf ses maande moet jou hond elke drie maande ontwurm word. Dit maak dat almal ‘n wurmvrye, veilige en gesonde huishouding kan geniet.
Ingewandwurms is parasiete wat die maagdermkanaal van mense en diere kan besmet. Hulle kan enige plek in die liggaam oorleef, maar verkies om knus in die dermwand te gaan lê.
Hoe affekteer dit mense?
Mense kan hierdie parasiete maklik deur verskillende maniere optel:
- ‘n effense lekkie van ‘n besmette troeteldier;
- kaalvoet loop op jou eie grasperk;
- swem in vuil, onbehandelde water;
- ongewaste hande voor jy eet of kosmaak;
- tuinwerk;
- eet van ongewaste kos;
- drink van onbehandelde water/melk/vloeistowwe;
- of om half-gekookte vleis te eet.
Die lys is eindeloos en skrikwekkend! Algemene ingewandwurms sluit in haakwurms, rondewurms, lintwurms en sweepwurms.
Kliniese simptome van besmetting kan wissel van geen tot enige van die volgende:
Hardlywigheid, diaree, winderigheid, swak pelsgehalte en bleek (wit) tandvleis. Die beste is om jou mediese spesialis te vra vir ‘n akkurate diagnose van die tipe parasiet. Hulle sal die nodige medisyne, behandeling of produk vir jou en/of jou troeteldier voorskryf. Kontak jou naaste veearts vir aanbevole voorkomingsprodukte.
Ontwurming is iets wat jy gereeld moet doen om jou familie en troeteldiere in goeie gesondheid te hou. Onthou om ‘n nota op jou kalender te maak wanneer jy dit doen en ook ‘n tweede nota vir die volgende geskeduleerde ontwurmingsdatum. As jou by die roetine bly, sal die parasiete op hok bly.
‘n Wurmvrye huis is ‘n gesonde huis. En onthou om jou hande gereeld te was!

