Veiligheidswenke tydens lentetyd

Na ‘n paar koue wintermaande is lente uiteindelik hier! Voëltjies sing, blomme blom en die weer is warmer – die ideale seisoen om meer tyd met jou troeteldier te spandeer! Maar voordat jy op ‘n buitelug avontuur gaan, maak eers seker jy weet van die potensiële lentebedreigings vir jou dierepêl.

Lenteplante, -blomme en -tuin

Pasop vir giftige plante! Hierdie tyd van die jaar is lelies, affodille, lentebolle en azaleas volop. Kunsmis, insek- en onkruiddoders hou ons plante en grasperk mooi gesond, maar hulle bestanddele kan baie gevaarlik vir ons vierbeenvriende wees as hulle dit sou inkry. Bêre hierdie gevaarlike produkte altyd op ‘n plek waar jou hond of kat dit nie kan bykom nie, veral wanneer jy nie naby is nie. Maak seker dat jy die etiketinstruksies van al die tuinprodukte behoorlik nakom. As jy enige tekens van vergiftiging sien, soos buitensporige speeksel, braaksel, diaree, dronkheid of selfs ineenstorting, kontak jou veearts onmiddellik.

Allergieë

Ah-ah-Tieshoe! Nes hul niesende menslike metgeselle, kan troeteldiere ook allergies wees vir sekere kossoorte, stof, plante, gras en stuifmeel. Gewoonlik manisfesteer sulke allergieë in ‘n jeukerige vel en oorprobleme, tesame met haarverlies en velontsteking. Party troeteldiere se gedrag verander selfs as gevolg van irritasie. Ander sal weer met asemhalingsprobleme sukkel of tranerige oë hê. Wees op die uitkyk vir al hierdie moontlike simptome en as jy vermoed dat jou troeteldier met enige allergie sukkel, gaan sien jou veearts asseblief so gou as moontlik. 


Insekbyte, perdeby- en bysteke

Lente- en somerreënbuie bring pragtige blomme en met die warmer weer sal jou troeteldier ywerig wees om buite te speel en te verken. Pas egter op vir gonsende insekte – nuuskierige katte en honde kan byvoorbeeld hulle neuse iewers indruk en deur bye gesteek word. 


As jou kat of hond deur iets gesteek is, moet jy dadelik jou veearts bel en jou troeteldier se simptome beskryf. Net soos by mense, wissel die erns van diere se reaksies teenoor allergieë heelwat en moet jy dus vinnig optree om verdere komplikasies te vermy. Hierdie tyd van die jaar sien ons ‘n hewige toename in bosluise en vlooie. Maak dus seker jou hond se inentings is op datum, sowel as hul bosluis- en vlooimedikasie.

Partytjies en lekkernye

Wees op die uitkyk vir mensekos wat skadelik kan wees vir jou kat of hond en maak seker dat jou gaste bewus is van die huisreëls, sodat hulle nie toegee aan die smekende hondeogies en per ongeluk ‘n skadelike lekkerny gee nie. Wanneer jy ‘n braai hou moet jou troeteldiere so ver as moontlik van die warm kole weggehou word. En onthou, partytjiekos is nie veilig vir ons troeteldiere nie. Maak seker dat mensekos en drinkgoed buite die  bereik van sekere pote is!

Sosatiestokkies, alkohol, mieliestronke en bene is veral baie gevaarlik. Sjokolade is uiters giftig vir honde en katte en moet in ‘n veilige plek gebêre word. Donkersjokolade en baksjokolade is die giftigste, terwyl witsjokolade en melksjokolade nie so ‘n groot risiko inhou nie. Dis egter belangrik om te onthou dat sjokolade nooit ooit goed is vir jou troeteldier nie – nie eens die kleinste happie of lekkie nie! As jou troeteldiere sjokolade inkry, moet jy hulle onmiddellik veearts toe vat.   

Sonbeskerming

Net soos by mense, kan te veel tyd in die son gesondheidsrisiko’s vir jou troeteldiere inhou. Hulle kry ook sonbrand en nie net kan dit seer wees nie, maar dit verhoog ook die risiko van velkanker. Kyk uit vir honde wat daarvan hou om in die son uitgestrek te lê, veral dié wat op hulle rûe lê en hulle haarlose, onbeskermende mae blootstel. Hoe korter jou troeteldier se pels en hoe ligter in kleur, hoe meer skade kan die son veroorsaak.

Lokale sonskerm sal jou troeteldier teen die skadelike effekte van die son beskerm, maar moet altyd saam met ander maatreëls gebruik word. Sonblootstelling kan verminder word deur die nodige skaduwee te voorsien, deur byvoorbeeld ‘n skadunet of ander sonversperrings op te sit waar moontlik. Gebruik ‘n nie-giftige, nie-allergiese skonskerm wat spesifiek vir honde geformuleer is – party kan dit maklik aflek en inkry.

Oefening

Moet nooit gedurende die warmste tyd van die dag met jou hond gaan stap nie (11:00 – 15:00). Dit is veral belangrik vir honde met kort neuse, omdat hulle oor die algemeen kan sukkel om behoorlik asem te haal. Hulle kan ook op warm dae hitte-uitputting kry. As jou hond baie uitasem is, swak lyk, die tandvleis bloedrooi is of hy selfs ineenstort, moet jy onmiddellik stop. Koel jou hond so goed as moontlik af (rus, gee water en soek skaduwee). As jy bekommerd is, vat jou hond so gou as moontlik na ‘n veearts. 

Soms wil mens sonder ‘n leiband met jou hond gaan stap, maar maak eers seker dit is in ‘n veilige omgewing. Jou hond moet goed opgelei wees (veral met die terugroep en wag- of stopbevele); hy moet beheerbaar wees en ten alle tye onder oë wees. Selfs die bes opgeleide hond kan skrik en weghardloop, so maak seker dat jou hond ‘n halsband met ‘n naamplaatjie aanhet. Die ideaal is dat jou hond ‘n mikroskyfie het en dat jy jou kontakbesonderhede op datum hou – dit maak dit soveel makliker om julle weer te verenig, sou julle geskei word. 

Vir meer inligting en die beste maniere om met jou hond te gaan stap, lees ons artikel oor oefeningsriglyne.

Lees meer oor algemene velkondisies in honde sodat jy hulle beter kan help en versorg. 

Scroll to Top