Die Amerikaanse Kruloorkat is ‘n unieke katras en soos die naam dit weggee, is hulle uitstaande kenmerk die ore wat na agter krul. Hierdie eienskap maak hulle beslis baie anders as ander rasse. Oor die algemeen het hierdie kat ‘n goeie en lenige liggaamsbou met ‘n sysagte, ligte kleur pels wat plat teen die lyf lê. ‘n Mens kry die Amerikaanse Kruloor in verskillende kleure, asook in lang- of korthaar variasies. Hulle ore is ietwat groot, met ‘n oop, wye basis wat agteroor krul na die punt. Die ore moet verkieslik nie so ver agteroor krul dat dit aan die agterkop raak nie. Kruloorkatjies lyk baie soos ander katjies, maar het net groot wye ore. Hulle oortjies begin binne die eerste week krul en hou aan agteroor krul tot so met vier maande, waarna dit permanent gevorm is.
Behalwe vir hulle ongewone krullende ore, het hulle ook ander kwaliteite wat van hulle gewilde troeteldiere maak. Alhoewel hulle mal is oor aandag, is hulle nie té raserig nie. Hulle is bekend daarvoor om hulle metgesel met ‘n vriendelike stootjie met die kop te groet en om ywerig in die kombuis “te help”. Hulle pas ook goed aan in ‘n gesin met kinders en is daarom ‘n goeie keuse vir iemand wat vir die eerste keer ‘n kat wil hê. Hulle is van nature intelligent en nuuskierig en spandeer heelwat tyd om hulle omgewing te verken en speletjies te speel. Hulle ore moet gereeld ondersoek word om seker te maak dit is in ‘n gesonde toestand.
Die Amerikaanse Kruloor het die suksesleer maklik uitgeklim. Van sy ontstaan af, het die Kruloor vele Suid-Afrikaanse katliefhebbers se harte gesteel en is hulle onder die top 10 gewildste katrasse. Die eerste Amerikaanse Kruloorkat het in Junie 1981 geheimsinnig op die drumpel van die Rugasgesin van Lakewood, Kalifornië beland. Die swart wyfie, genaamd Shulamith, het ‘n paar maande later geboorte gegee aan ‘n werpsel katjies met dieselfde kenmerkende oortjies en so die voorouer geword van alle Amerikaanse Kruloorkatte wat ons vandag ken en liefhet.
Ras: Amerikaanse Kruloorkat
Land: Amerika (VSA)
Gemiddelde Volwasse Hoogte: 25 – 30 cm
Gemiddelde Volwasse Gewig: 3.17 kg – 4.53 kg
Lewensverwagting: 12 – 15 Jaar
Oefeningsbehoeftes: Is mal daaroor om speletjies te speel.
Soortgelyke Rasse: Die Kort- en Langhaarhuiskat, maar sonder die gekrulde ore
Hulpverlening in Suid-Afrika: Geen in Suid-Afrika

