Hoe om troeteldiervis te voer

Jy mag opgemerk het dat Pet Hero onlangs viskos en -produkte by ons uitgebreide aanlyn winkelkatalogus gevoeg het – omrede vis mos ook vriende is! En, nes met ons wollerige maats (honde), purrende maats (katte), donsige maatjies (klein troeteldiere) en gevleuelde vriende (voëls), is die beste plek om met behoorlike troeteldiersorg vir ons gevinde vriende te begin, om uit te vis wat, wanneer en hoeveel hulle eet.

Dis reg – ‘n vis se gesondheid, welstand en lewensduur hang af of daar aan hulle voedingsbehoeftes voldoen word.

Wat moet ek vir my vis voer?

As jy ‘n nuwe vis-eienaar is, dan heet ons jou welkom tot die see van kennis waarin jy op die punt is om in te duik. As jy dink visvoeding gaan net oor visvlokkies, dan sal jy verbaas wees om te weet dis maar net een voorgereg op die spyskaart. Daar is soveel verskeidenheid van gespesialiseerde viskos as wat daar verskillende vissoorte is: vlokkies, stokkies, skyfies, wafels, bythappies, tablette en korrels.

Die tipe viskos sal afhang van die tipe vis wat jy wil aanhou. Dit raak ‘n bietjie interessanter wanneer jy verskillende visspesies in een tenk kombineer en hulle verskillende soorte viskos eet. Dit kan vereenvoudig word deur ‘n onderskeid te tref tussen bodemvoeders, soos plantetende plecos (suigbekbaber) en suigende loaches (wie se kos na die bodem van die tenk sink) en top- of mid-water voeders soos guppies, tetras, goudvis en mollies (wie se viskos dalk nie die kans sal kry om tot onder op die bodem te skink nie!).

Lees die aanwysings op elke viskosproduk deeglik deur en koop die viskos wat mees gepas is vir jou akwariumopset. Soos met honde en katte, het elke vis die regte kos nodig wat geskik is vir hulle spesie en leefstyl.

Wanneer moet ek my vis voer?

In die natuur eet vis gewoonlik vroegoggend en net voor sonsondergang. Die vis in jou tenk is egter nie wild nie en hulle snuffel nie kos uit soos herbivoriese vis in damme en die see nie. Dit word aanbeveel dat jou vis volgens ‘n skedule eet en jy sal sien hoe vinnig hulle in ‘n ritme kom: hulle sal aktief begin raak wanneer voedingstyd nader kom! As jy jou vis in die oggend wil voer, moet jy seker maak jy skakel die akwariumlig ‘n halfuur voor voedingstyd aan. Aandvoeding moet ook gevolg word met ‘n halfuur se lig voordat die akwariumlig afgeskakel word. As jy enige nagtelike vis in jou tenk het, moet jy hulle so ‘n rukkie na ligte-uit voer met viskos wat na die bodem sink.

Party vis-eienaars hou daarvan om hulle vis twee of drie keer per dag te voer. Dit hang natuurlik af van die tenkgrootte, die aantal vis en die hoeveelheid kos wat gevoer word. Deur klein hoeveelhede verskeie kere deur die dag te voer, boots dit die manier na hoe herbivore in die natuur sal kos soek en eet. Karnivoriese visse eet egter nie so gereeld nie omdat dit in die natuur nie so maklik is om altyd suksesvol te aas nie. Hulle is daarom daaraan gewoond om ongereeld te eet. Probeer om die natuurlike eetgewoontes van jou herbivoriese en karnivoriese vis na te boots; dis waaraan hulle spesie gewoond is en dit sal hul optimale gesondheid verseker.

Hoeveel moet ek my vis voer?

Dit is die mees kritiese vraag wanneer dit kom by behoorlike visvoeding. As jy jou vis té min voer, kan hulle gespanne word en ondervoed wees met belemmerde immuniteit. As jy hulle té veel voer, kan hulle vet word en die waterkwaliteit verlaag. Té veel kos = baie meer vispoep, verhoogde ammoniak- en nitraatvlakke in die water en kosvermorsing op die tenk se bodem. Dit kan ook ‘n negatiewe effek op die suurstofvlakke in die vistenk hê.

Baie nuwe vis-eienaars maak die fout om hulle vis te oorvoed sonder om te besef dat vis geleentheidseters is en na enige kos sal gryp wanneer dit ookal in die tenk verskyn. Dit mag ‘n tydjie neem om uit te pluis wat die regte balans is om ‘n sekere hoeveelheid kos in ‘n kwessie van 24 uur te voer. Maak notas van hoeveel jou vis binne 30 sekondes tot twee minute eet. Enigiets wat na dit gelos word, is vermorsing.

Visse neem tussen 14 en 24 ure om hul kos te verteer, daarom beveel sommige kundiges aan om jou tenkvis net een keer ‘n dag te voer. Sommiges beveel weer twee baie ligte voedings per dag aan sodat herbivore ‘n gereelde kosvoorraad het. Dis belangrik om die regte balans vir jou vistenk en sy inwoners te kry. As die tenkwater nie te waffers lyk nie, maak die filters skoon, suig die tenk se gruis liggies met ‘n gruisreiniger en verminder die voedingshoeveelhede.

Top wenke om jou vis in ‘n akwarium te voer

  • Lewende akwariumplante kan ‘n alternatiewe kosbron tussen etes verskaf as jy verkies om jou herbivoriese vis slegs een maal per dag te voer.
  • Vis-“fry” (nuut-uitgebroeide vissies) benodig meer gereelde voedings. Hou die “fry” in ‘n aparte tenk om te verseker dat die volwasse visse nie hulle kos steel nie.
  • As dit die eerste keer is wat jy visse aanhou en net een of ‘n paar visse het, kan jy kleiner houertjies viskos koop om seker te maak die kos bly vars.
  • Afhangende daarvan of jou tenkwater warm of koud is, sal dit ook jou vis se metabolisme versnel of verlaag. Ondersoek en kyk of jou vis ‘n bietjie meer of minder kos nodig het met temperatuurwisselings.

As jy ‘n ervare vis-eienaar is, kan jy gerus ‘n nota laat met ‘n paar handige wenke vir die nuwelinge onder die troeteldiervis-helde.

Scroll to Top