Die Pekingese is oorspronklik van Sjina waar hulle vernoem is na die Sjinese hoofstad, Peking (nou Beijing). Hierdie honderas is ook bekend as die ‘leeuhond’, soos die shih tzu. In die agste eeu, het die Pekingese honde saam met koninklikes geleef en ‘n weelderige lewe gehad. G’n wonder dat hulle met soveel trots stap nie, alhoewel hul grasieuse gang dalk doelbewus so geteel is om hulle te keer om weg te dwaal.
Fisiese eienskappe
Pekingese het lang, vloeiende, digte hare – hulle herinner ‘n mens baie aan ‘n leeu in die manier hoe hulle lyk en hulself gedra. Hulle is klein maar met ‘n swaar beenstruktuur vir hulle grootte. Die skedel is plat aan die bokant, met die gesiggie wyd en plat. Die oë is groot, rond en donker. Die snoet is donker en gekreukeld met hangende, hartvormige ore. Pekingese het ‘n lang lyf wat na-aan die vloer loop. Hulle pragtige lang pels kan amper in enige kleur gesien word.
Groot persoonlikhede
Pekes leef nogal op na hul ander naam, die ‘leeuhond’, met hul groot, trotse harte. Hulle sal hulle geliefdes beskerm, selfs met hul klein lyfies. Hulle is baie liefdevol en altyd gereed vir ‘n speletjie. Hulle hou daarvan om die kind in die huis te wees en om soos ‘n koninklike behandel te word.
Miskien is hul selfvoldane houding die rede hoekom hulle nie altyd met ander honde oor die weg kom nie. Hulle verkies die geselskap van ander Pekingese en dit kan hulle ‘n hele ruk neem om gewoond te raak aan ander huisdiere.
Pekingese is baie intelligent, maar dit word oorskadu deur eiewilligheid en ‘n baie hardkoppige streep, wat dit moeilik maak om hulle te leer. Hulle is braaf – soms tot by die punt van dwaasheid – en indien nodig, sal hulle jou tot die dood verdedig.
Hulle is baie liefdevol, lojaal, toegeneë, speels, intelligent en pragtig! Pekingese hou van ‘n bietjie oefening, maar hulle is nou nie die tipe wat jou sal smeek om elke aand te gaan stap nie. Hulle is ideal vir die woonstellewe.
| Ras | Pekingese |
| Land | Oorspronklik van Sjina |
| Gemiddelde volwasse hoogte | 15 – 23 cm |
| Gemiddelde volwasse gewig | 3 – 7 kg |
| Lewensverwagting | 12 – 15 jaar |
| Oefeningsbehoeftes | Goeie woonstelhond. Lief daarvoor om rond te hardloop en te speel, maar het ‘n omheinde area nodig omdat hulle wil verken en sal wegdwaal. Hulle hou daarvan om te gaan stap en is uitstekende geselskap om saam met jou deur die buurt te vat. |
| Soortgelyke Rasse | Shih Tzu (Ook bekend as Leeuhond) |
| Hulpverlening in Suid-Afrika | www.pekerescuesa.org.za |

