Vriendelik, gehoorsaam en slim – geen wonder die Miniatuur Schnauzer is die gewildste van die drie Schnauzer-rasse nie. Die Miniatuur Schnauzer is ‘n aktiewe en stewige terriër en lyk nes hulle groter neef, die standaard Schnauzer. Hulle het ‘n gemaklike grootte met ‘n sterk, reghoekige bou, maar tog elegant en atleties.
Miniatuur Schnauzers het ‘n wyse uitdrukking op hulle besnorde gesig. Die kop is reghoekig met ‘n welige baard, snor en wenkbroue. Hulle het donker, ronde oë en v-vormige ore wat van nature vooroor vou. Die tande ontmoet in ‘n “skêr”-gebit. Hulle het ‘n dubbele pels met ‘n stekelrige bolaag en ‘n sagte onderpels, wat gelukkig nie te veel hare afgee nie. Gewoonlik is die kleur van die pels swart; silwer en swart; en “sout en peper” – spierwit word nie universeel aan hierdie ras toegeken nie. Die stert is van nature kort en dun. Hulle het baie reguit, stywe voorbene en die pote is kort en rond met dik swart kussings.
Vroeër Schnauzer
Die vroegste rekord oor die ontwikkeling van die standaard Schnauzer in Duitsland, is van die laat 19de eeu. Hulle is oorspronklik geteel as mediumgrootte plaashonde om rotte te vang, vee op te pas en eiendom te beskerm. Boere het mettertyd die standaard Schnauzer met die Affenpinscher en Miniatuur Poedel geteel vir ‘n kleiner, meer kompakte grootte om meer effektief rotte te vang. Die eerste rekord van die Miniatuur Schnauzer het in 1888 verskyn en die eerste skou was in 1899.
Groot persoonlikheid
Miniatuur Schnauzers verskil geweldig in persoonlikhede, ‘n mens sou selfs kon dink hulle behoort aan ‘n ander ras. Hulle kan wissel van vriendelik en ekstroverties, tot ernstig en afsydig. Sommiges is baie “terriër-agtig”: hope energie, hardkoppig en afknouerig teenoor ander honde; terwyl ander weer rustiger, sorgeloos en goedgeaard is. Dit is dus baie moeilik is om te voorspel watter tipe Mini Schnauzer jy mee gaan opeindig wanneer hulle volwassenheid bereik.
Miniatuur Schnauzers is baie slim en kan baie leer, maar hulle moet van jongs af geleer word dat hulle nie die wêreld regeer nie. Die einste taaiheid wat hulle geskik maak om ongediertes dood te maak (jaginstinkte en blaf), kan jou teen die mure uitdryf wanneer jy hulle probeer afrig en dissiplineer. Party Miniatuur Schnauzers kan manipulerend en/of dominerend wees (wil baas van die plaas wees). Wees absoluut konsekwent en wys hulle dat jy bedoel wat jy sê.
Gesondheid en oefening
Miniatuur Schnauzers is mal oor hulle wandelinge en kort redelik gereelde oefening en hondespeelgoed. Gewoonlik wil hulle net baie graag deel wees van die familieaktiwiteite. Hulle is op-en-wakker waghonde en kan vreemdelinge óf vreeslik entoesiasties verwelkom óf ‘n bietjie afsydig wees, selfs agterdogtig as hulle nie goed gesosialiseerd is nie.
Die Miniatuur Schnauzer is goeie kandidate vir hondeskool en ander tipe opleiding, alhoewel jy nou en dan ‘n tikkie van rebelsheid mag opmerk wanneer jy met hom aan ‘n leiband gaan stap. Baie individue het al top toekennings in gevorderde gehoorsaamheid ontvang.
Hulle pels moet gereeld geborsel, gesny en geknip word, om dit vry van hangende gekoekte lokke te hou. Jy kan leer om dit self te doen, of jy kan ‘n professionele versorger betaal, maar dit moet gereeld gebeur sodat jou Schnauzer gelukkig en gesond kan bly.
Aanpasbare metgesel
Meeste Miniatuur Schnauzers kom goed met ander troeteldiere in die gesin oor die weg. Hulle mag dalk die familiekat rondjaag vir die pret, maar dis nooit iets ernstig nie. Party kan afknouerig teenoor ander honde van dieselfde geslag wees, maar dikwels kan hulle saam wees sonder veel of enige bakleiery. Hierdie ras is aanpasbaar en maak ‘n uitstekende reisgenoot. Selfs al is hulle ‘n bietjie bederf, trek hulle nie daaruit voordeel soos baie ander terriërs nie. Hulle kan raserig wees (blafferig), soos wat dit van ‘n goeie waghond verwag kan word, maar is gewoonlik hoflik teenoor almal.
Ras: Miniatuur Schnauzer
Land: Duitsland
Gemiddelde Volwasse Hoogte: 33 – 36 cm
Gemiddelde Volwasse Gewig: 4 – 7 kg (reune is groter)
Lewensverwagting: 12 – 14 jaar
Oefeningbehoeftes: Benodig gereelde oefening
Soortgelyke Rasse: Airedale-Terriër, Steekhaar-Foksterriër (Wire Hair), Affenpinscher
Hulpverlenings in Suid-Afrika: http://www.schnauzerfriendsza.com/

