Die Golden Retriever - Feite en Geite

Golden Retriever – Feite en Geite

Met hul sagte geaardheid en opgewekte persoonlikheid, is dit geen wonder dat die Golden Retriever een van die top-10 gewildste honderasse in Suid-Afrika is nie. Hulle is lewendig, betroubaar en uitdrukkingsvol en vergewe die foute van ‘n onervare eienaar baie gou.

Baie Goldies behou hulle lawwe, speelse, jong hondjie persoonlikheid tot in hul ouderdom en hulle word dus stadiger volwasse. By ander neem hierdie persoonlikheidseienskappe weer af tussen die ouderdom van drie tot vier jaar.

Wees voorbereid op modderspore en vuil handdoeke in die wasbalie, want Goldies is mal oor water en kan dit doodeenvoudig net nie weerstaan om in ‘n modderpoel of swembad te speel nie!

Die pragtige Retriever is oorspronklik in die 19de eeu deur Lord Tweedmouth geteel. Hy het ‘n geel Retriever babahondjie gekoop en hom Nous genoem. In 1868 het Nous met ‘n water-spaniël, genaamd Belle, gepaar en hulle het drie pragtige geel hondjies gekry – die begin van ‘n nuwe era van die wonderlike Golden Retriever wat ons vandag ken en liefhet. Lord Tweedmouth het ‘n stoetboek gehad waarin hy rekord gehou het van al die parings. Die oorspronklike boek kan vandag steeds in Engeland gesien word. Oorspronklik is die ras die “Golden Flat-Coat” genoem en het dit eers later die naam Golden Retriever gekry. 

Goldies is vol sjarme en hou daarvan om hulle eienaar te behaag, daarom is dit maklik om hulle te leer en hondeskool is baie belonend. Hulle is hoogs intelligent, lieftallig, goedgemanierd en gewoonlik baie goed in kompetisies. Goldies is oorspronklik geteel om wild op te spoor tydens die jagseisoen (bekend as sportjaghonde), en vandag styg hulle uit in areas van behendigheid, gehoorsaamheid en as gids- en begeleidingshonde.

Dis g’n wonder dat hulle sulke gewilde gesinshonde is met hulle selfversekerdheid, pligsgetrouheid en sagte omgang met kinders nie. Omdat Goldies so energiek is, kort hulle baie spasie om te speel en te oefen en sal hulle nie goed in ‘n woonstel aard nie. Wees bedag daarop dat hulle verwoestend en uitbundig kan raak as hulle nie hulle daaglikse intellektuele en fisiese oefeninge inkry nie. 

Alhoewel Goldies hard sal blaf wanneer ‘n vreemdeling nader kom, is hulle vriendelik teenoor almal (insluitend ander honde), en maak nie goeie waghonde uit nie. Hulle kort ferm maar sagte leiding om gelukkig in ‘n huis te wees.  

Die Golden Retriever is ‘n pragtige, soliede, medium-grootte hond. Hulle het ‘n swart of bruinswart neus en ‘n breë kop met deurdringende donkerbruin oë. Die tande kom bymekaar in ‘n skêrgebit en die snoet is reguit met ‘n duidelike punt. Die ore hang naby die wange af en die stert begin dik by die basis met donsies aan die buitekant. Die pels is dig met ‘n ferm, reguit of gekartelde buitepels wat waterbestand is. Die kleur wissel tussen room tot goud. Golden Retrievers moet dikwels geborsel word, omdat hulle ‘n dubbele pels het waarvan die hare tyd-tot-tyd uitval.

Die Golden Retriever is baie aktiewe honde en het gereelde, daaglikse, intense oefening van 40 – 60 minute nodig. Weens hul hoë intelligensie en leerbaarheid, floreer hulle met gehoorsaamheidsafrigting, behendigheidsklasse en ander hondeaktiwiteite en dit is ‘n wonderlike manier om aan hulle fisiese en intellektuele behoeftes te voldoen. Hulle hou ook daarvan om balle en ander speelgoed te soek en terug te bring. Goldies is geneig om aan voorwerpe te kou, maar jy kan dit beheer deur vir hulle ‘n boks met speelgoed te gee en hulle kan hulleself besig hou deur met ‘n speelding in die bek rond te loop. Hulle is lief vir hulle kos, maar kan gou gewig aansit as jy hulle te veel voer. Beheer hulle gewig deur lekkernye te beperk en vir hulle gereeld die regte hoeveelheid kos op geskeduleerde tye te gee. Moenie kos uithou waar hulle dit enige tyd kan bykom nie. 

Ras: Golden Retriever

Land: Groot-Brittanje

Gemiddelde Volwasse Hoogte: Reune 56 – 61 cm; Tewe 51 – 56 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: Reune 25 – 45 kg; Tewe 25 – 35 kg

Lewensverwagting: Ongeveer 10 – 12 jaar

Oefeningbehoeftes:  40 – 60 minute van intense oefening, daagliks.

Soortgelyke Rasse: Labrador Retriever

Hulpverlenings in Suid-Afrika:  http://www.goldenrescue.co.za/

Scroll to Top