Wat gebeur wanneer jy jou hondetefie of katwyfie steriliseer?

In ‘n land met baie sosio-ekonomiese probleme en ‘n relatiewe lae vlak van troeteldiereienaarskapregulasie, is dit krities belangrik dat troeteldiereienaars seker maak dat hulle vroulike troeteldiere gesteriliseer word. Sterilisasie behels die verwydering van die eierstokke en uterus, met die gevolg dat hulle nie meer kan voorplant nie.

Maar, maar… geen maar’s nie. (Okei, dalk ‘n paar, maar ons sal daarby kom.)

Die (groter prentjie) voordeel daarvan om jou hondetefie en katwyfie te steriliseer

So baie dierewelsynsorganisasies bars uit hulle nate. Hulle moet gedurig verlore, verlate, mishandelde en verwaarloosde diere behandel, versorg en hulle voorberei vir aanneming. Wanneer hulle gereed is, probeer reddingsorganisasies ‘forever’-tuistes vir hierdie troeteldiere vind waar hulle versorgd en geliefd sal word. Duisende diere word steeds elke maand uitgesit as gevolg van beserings, siektes of doodeenvoudig omdat daar nie genoeg plek is om hulle aan te hou terwyl hulle wag om aangeneem te word nie. Deur hondetewe en katwyfies te steriliseer, help dit om die druk op die troeteldierwelsynsisteem te verlig.

Hoekom is dit belangrik om ‘n hondeteef of katwyfie te steriliseer?

Ons weet van die kollektiewe probleme van ‘n ongesteriliseerde troeteldier, maar wat is die voordele daarvan vir die individuele dier?

Vir honde: Die sterilisering van jou hondeteef elimineer die risiko van bors-, baarmoeder- en eierstokkanker, asook ‘n ernstige baarmoederinfeksie, genaamd pyometra.

Vir katte: Oor die algemeen leef gesteriliseerde troeteldiere ‘n langer en gesonder lewe. Ongeag hierdie voordeel, sal sommige troeteldiereienaars die koste van sterilisasie as ‘n rede gebruik om dit nie te doen nie. As jou troeteldier egter ‘n lewensgevaarlike siekte soos kanker opdoen, sal die behandeling daarvan baie duurder wees as sterilisasie. Sommige dierewelsynsorganisasies doen sterilisasies goedkoper, so daar is altyd opsies vir troeteldiereienaars om hulle tewe te steriliseer.

Wat is die beste ouderdom om jou hondeteef te steriliseer?

Hier is dit nou waar die steriliseringsdebat effe troebel begin raak. Oor die algemeen word dit aanvaar dat tefies vanaf ses maande en ouer gesteriliseer moet word. Meeste tewe is vir die eerste keer op hitte tussen die ouderdom van 8 – 10 maande, terwyl sommige kleiner rasse reeds op ses maande op hitte kan gaan. Sommige grootras honde is eers op een jaar of selfs ouer, op hitte. Dit is belangrik om jou hond te steriliseer voordat sy vir die eerste keer op hitte gaan omdat haar interne anatomie en bloedvate verander wanneer sy op hitte is en dit die operasie moeiliker maak as vir ‘n hondjie wat nog nie op hitte was nie. As mens egter ‘n grootras hondjie te vroeg steriliseer, kan dit hulle risiko vir gewrigs- en beenprobleme, sekere hormoonverwante kankers, sowel as urinêre inkontinensie, verhoog.

Indien jy enige bekommernisse aangaande jou hondjie se sterilisasie het, bespreek dit asseblief met jou veearts en maak seker jy kry mediese advies gebaseer op jou hond se individuele saak.

Wanneer om jou katwyfie te steriliseer

Katwyfies raak al op ‘n baie jong ouderdom seksueel volwasse, dus kan hulle al tussen drie en vyf maande gesteriliseer word. Nes honde, verlaag ‘n kat se risiko vir sekere kankers, en die kry van ongewenste katjies, as hulle voor hulle eerste hitte gesteriliseer word.

Verander hondetefies en katwyfies nadat hulle gesteriliseer is?

Sodra ‘n gesteriliseerde kat nie meer behep is om ‘n mannetjie se aandag te kry nie, is sy baie meer ontspanne en ‘n liefdevolle kat binnenshuis. As sy haarself buite bevind, sal dit net wees om haar nuuskierigheid te bevredig en vir jou ‘n paar geskenkies uit te krap… nie om die ganse buurt met haar valse liefdesdeuntjies te sereneer nie. Alhoewel ‘n kat se gedrag na sterilisasie mag verander (omdat sy nie meer vir ‘n maat soek nie), sal haar persoonlikheid nie verander nie. Jy hoef dus glad nie te vrees dat sy minder vriendelik of liefdevol sal wees nie. Inteendeel, sy mag dalk baie meer op jou gefokus wees!

Net so, kan honde se gedrag ook verander. Sommige tewe kan as gevolg van hulle hormone meer aggressief wees en nadat hulle gesteriliseer is heeltemal rustig raak. Wanneer ‘n teef se behoefte om aan te teel verwyder word, kan sy kalmer, makliker opleibaar en meer liefdevol word en op haar tweebeen gesinslede fokus.

Tel tewe gewig op nadat hulle gesteriliseer is?


Hormone speel ‘n rol in alle soogdiere se eetlus en metabolisme en sterilisasie kan dus ‘n invloed hê op jou teef of wyfie se metabolisme, maar dit beteken nie dat jou gesteriliseerde vroulike troeteldier outomaties vet en lui sal word nie. Nes mense, kan troeteldiere ook gewig optel wanneer hulle kalorie-inname hulle energieverbruik oorskrei (bv. hulle eet meer as wat hulle oefen). As jy bekommerd is oor jou troeteldier se gesondheid na sterilisasie, gesels met jou veearts oor die moontlikheid om haar dieet aan te pas en maak seker dat jou hond of kat genoeg oefening inkry in die vorm van wandelinge en prettige speelsessies. Daar is baie voedsame kosopsies in die vorm van sterilisasiediëte en gewigsbestuursdiëte vir katte en honde. 

Maak seker dat jou hond en kat se bene en spiere gesond bly na sterilisasie deur hulle reg te laat oefen volgens hulle grootte, ras en soort. Katspeelgoed kan jou kat vir ure besig hou terwyl julle tyd saam spandeer. Hondespeelgoed soos balle, frisbees, lekkernyspeelgoed en piepende speelgoed verseker dat jy ‘n hegte band met jou hond smee terwyl sy genoeg oefening inkry om haar fiks en gesond te hou na sterilisasie. 

Soos met enige chirurgiese prosedure, is daar ‘n paar risiko’s wanneer dit kom by sterilisasie. Gewoonlik oorskrei die voordele die nadele, maar as jy bekommerd is moet jy asseblief nie aarsel om jou veearts se advies rakende die gesondheid en welstand van jou wolbaba in te win nie. 

 

Scroll to Top