As jou hond die heeltyd jeuk, het jy heel waarskynlik ‘n ongelukkige of ten minste ‘n ongemaklike hond. Ons is doodseker dat jy ook desperaat is om uit te vind wat die oorsaak is en jou hond se gedurige krappery wil stopsit. Daar is heelwat redes hoekom honde jeuk.
Seisoenale allergieë word deur weersveranderinge veroorsaak. Die tyd van die jaar wanneer jou hond meer met ‘n jeukerige vel sukkel, kan baie sê oor hoekom jou hond jeuk. ‘n Hond wat byvoorbeeld in lentetyd begin jeuk, sukkel heel waarskynlik met allergieë, maar ‘n hond wat meer in die winter jeuk, sukkel waarskynlik met ‘n droë vel. Dit kan ook wees dat ‘n hond met swamme sukkel as hy meer jeuk wanneer dit warm en vogtig is.
Is dit ‘n allergie of ‘n swam?
Daar is een kondisie wat gereeld verkeerd gediagnoseer word omdat dit dieselfde simptome as allergieë het – swamme! Soortgelyk aan allergieë, word swamme ‘n probleem sodra die weer warmer word. Swamme floreer in warm en vogtige toestande en neig om die meer klammerige areas op jou hond te affekteer. Die mees algemene areas is die ore, pote, anale area, armholtes, wange en enige velrolle wat jou hond mag hê. Gelukkig kan mens ‘n swam maklik behandel, solank jy in beheer bly daarvan.
So, voordat jy jou hond vir een of ander allergie begin behandel, maak eers seker dit is nie dalk ‘n swam nie.
Tipe velallergieë in honde
Velallergieë veroorsaak jeukerigheid en ‘n krappery. Jou hond sal heel waarskynlik ook sy pote lek en sy gesig vryf. Nie alle allergieë is egter dieselfde nie:
Daar is hoofsaaklik vier soorte allergieë waaraan honde kan lei:
- Vlooi-allergie
- Inasemingsallergie
- Kosallergie
- Kontakallergie
Maar moenie vrees nie! Pet Hero kan jou help om uit te vind met watter tipe allergie jou hond sukkel en kan ‘n paar goeie aanbevelings maak oor die beste behandeling vir elke tipe allergie.
Vlooi-allergie
Vlooi-allergieë is nogal algemeen onder honde, so dis ‘n goeie plek om te begin as jy ‘n allergie wil uitskakel. ‘n Vlooi-allergie beteken egter nie dat jou hond met vlooie besmet is nie. Om die waarheid te sê, as jou hond allergies is vir vlooie sal hy met net een vlooibyt reageer. Hy sal onmiddellik begin jeuk en dit sal aanhou laaank nadat die vlooie weg is.
Die mees algemene teken van ‘n vlooiprobleem is dat jou hond homself rondom sy agterstewe, naby die stertbasis, begin byt en krap. Dit is ook meer waarskynlik in die warmer maande, veral tydens lente.
Die beste manier hoe om ‘n vlooi-allergie te bekamp is om te voorkom dat jou hond deur vlooie gebyt word. Die beste manier is om ‘n lokale vlooibehandeling te kies wat die vlooie met kontak doodmaak.
Diagnose
Om te kyk of jou hond vlooie het, plaas hom op ‘n vel wit papier en borsel sy pels. As daar vlooi-eiers en -afval teenwoordig is, sal jy wit of swart sanderige korreltjies op die papier sien val. ‘n Veearts kan die diagnose maklik bevestig met ‘n intradermale veltoets.
‘n Medisinale bad en Benadryl is die beste behandeling vir die jeukery. Jy sal ook jou hond op een of ander maandelikse lokale vlooibehandeling moet sit. Vra jou plaaslike veearts watter een die beste vir jou troeteldier is.
As jy wel tekens van vlooie sien, moet jy die hele omgewing behandel sodat die vlooie nie verder vermeerder nie.
Atopie (Inasemingsallergie)
Atopie is die mees algemene allergieë onder honde. Dis nie net ‘n allergie teenoor een spesifieke ding nie, maar eerder ‘n reaksie teenoor verskeie allergene in die lug. Dit kan ‘n allergie vir gras, sade, insekte, bome ensovoorts wees. Hierdie toestand word ook onder mense gevind en het ‘n genetiese oorsaak, wat ‘n meer sensitiewe immuniteitsreaksie tot algemene allergene tot gevolg het.
Atopie mag jou troeteldiere regdeur die jaar affekteer, maar dit gedy gewoonlik in lente en somer wanneer die allergeenlading die hoogste is.
Anders as mense, sal ons honde heel waarskynlik jeuk en baie krap. Hulle sal ook hulle gesigte vryf en hulle mae krap. Atopie kan op enige ouderdom begin, maar meestal begin dit wanneer hulle so een tot vier jaar oud is.
Mettertyd, kan honde vir meer en meer goed allergies word en dit kan op die ou einde regdeur die jaar ‘n probleem word.
Honde kan byvoorbeeld eers net allergies wees vir gras en stuifmeel en net simptome in warm weer hê, maar mettertyd kan hulle allergies word vir stof of iets anders in die huis en sal hulle heeljaar begin krap.
Diagnose
Die hantering van ‘n velkondisie is ‘n lang pad en een wat gereeld ‘n kombinasie van medikasie, kos, essensiële olies, sjampoe en streng parasietbeheer, insluit.
As jy wel agterkom dat jou hond erg onder atopie lei en ‘n gereelde bad en behandelings help nie, kan jy jou veearts vra om iets voor te skryf om die simptome te verlig.
Hondekosallergie
Hondekosallergieë is nie so algemeen as wat ons dink nie. Meeste hondekosallergieë is as gevolg van die natuurlike bestanddele soos vleis, melk, eiers, graan, ens.
‘n Kosallergie kan enige tyd ontwikkel. Om die waarheid te sê, dit kan maklik gebeur terwyl jou hond dieselfde kos al oor ‘n lang tydperk eet, gewoonlik een tot twee jaar. Meeste vel-allergieë word egter nie aan kos gekoppel nie.
Hondekosallergie-simptome is baie eners as die van ander allergieë. Die enigste verskil is dat honde met kosallergieë gewoonlik ‘n uitslag ontwikkel en heeljaar jeuk, nie net in warm weer nie.
‘n Ander belangrike teken dat jou hond met kosallergieë sukkel, is wanneer ‘n gereelde bad en anti-jeuk medikasie nie die jeukerigheid verlig nie.
Diagnose
Kosallergieë, anders as inasemingsallergieë, kan nie met bloed- of veltoetse gediagnoseer word nie. Die enigste manier om ‘n kosallergie te diagnoseer is om onbekende kos op jou hond te toets. Dit beteken eenvoudig dat jy vir jou hond kos moet gee wat hy nog nooit voorheen gehad het nie.
Wees egter gewaarsku dat dit nie so maklik is as om net jou hond se kos met ‘n ander handelsmerk te ruil nie. Baie hondekosvervaardigers beweer dat hulle diëte goed is vir honde met allergieë, maar elke hond se reaksie sal verskil. Dit verg ‘n proses van eliminasie om te bepaal vir watter hondekos jou hond nie allergies is nie.
Premium hondekos het beter kwaliteit bestanddele as die goedkoper handelsmerke, maar as jy vermoed jou hond het ‘n kosallergie is dit baie beter om saam met jou veearts na die oorsaak te soek.
Kontakallergie
‘n Kontakallergie (ook bekend as kontak-hipersensitiwiteit of kontak-dermatitis), is wanneer jou hond allergies is vir iets waarmee hy in kontak gekom het. Daar is gewoonlik ‘n onmiddellike reaksie en, saam met jeukerigheid, sal jy ook heel waarskynlik geswelde rooi knoppe sien.
Diagnose
As jy vermoed dat jou hond dalk ‘n kontakallergie het, moet jy probeer uitvind wat die oorsaak is en dit uit die omgewing verwyder. Ons weet, makliker gesê as gedaan! Gelukkig is ‘n kontakallergie skielik en uit die bloute, so jy hoef gewoonlik net te probeer onthou waaraan jy jou hond op daardie spesifieke dag blootgestel het, of wat jy nuut in sy omgewing gebring het.
Dit kan die maklikste allergie wees om te behandel, maar soms benodig dit ‘n bietjie speurwerk om uit te vind waarmee jou hond in kontak gekom het. Gewoonlik hoef jy nie jou veearts daaroor te sien nie.
Tipiese kwaaddoeners wat kontakallergieë veroorsaak is matskoonmaakmiddels, lugverfrissers, sjampoes of enige ander produk wat jy op jou hond of vloere gebruik. As jy die oorsaak van die allergie uit jou hond se omgewing kan verwyder, kan dit gou en maklik behandel word.
Alhoewel vel-allergieë by honde nie geneesbaar is nie, kan dit tog behoorlik onder beheer gehou word. Vroeë opsporing en voorsorgbehandeling is die sleutel tot sukses. Natuurlik is vel-allergieë nie die enigste rede hoekom honde jeuk en krap nie. As jy dink daar is ‘n ander rede hoekom jou hond so krap, is dit beter om jou bekommernis en jou hond se simptome met jou veearts te bespreek.

