Wat katte mag en nie mag eet nie
| Asseblief, moenie my die volgende voer nie! | Ons is mal oor … |
| * Alkohol * Sjokolade * Koffie * Tee * Energiedrankies * Suiwelprodukte * Vetafsnysels * Rou vleis * Druiwe en rosyne * Uie * Knoffel En meer: | * Gekookte vellose Hoenderborsies * Gewone laevet jogurt * Piesangs * Hawermout * Pampoen * Brood * Appels * Bloubessies en aarbeie * Ertjies * Kaas En meer: |
Wat mag katte nie eet nie:
Katte kan vol fiemies wees, maar moenie hiermee geflous word as hulle honger is en daar’s mensekos beskikbaar nie. Hulle sal van ‘n slegte stuk vleis wegstap, maar nie sommer van ‘n oop blik tuna wat net so gevaarlik kan wees nie. Om die waarheid te sê, jy sal verbaas wees om te weet van watter alledaagse kosse hulle nooit mag eet nie.
Dit kan moeilik wees om nie jou pragtige katvriend met ietsie lekkers van die eettafel te bederf nie, maar soos wat wyse kateienaars weet, is baie mensekos onveilig omdat ons voedingsbehoeftes heelwat anders is as dié van katte. Selfs die kos wat jou kat mal oor is en voor mag bedel, kan groot probleme vir hul spysverteringsisteem veroorsaak.
Rosyne
Rosyne is ‘n heerlike en gesonde peuselhappie vir mense, maar kan giftig wees vir jou kat. ‘n Handvol rosyne kan skielike nierversaking veroorsaak. Vermy rosyne, asook druiwe en wees op die uitkyk vir tekens van vergiftiging as jou kat dit per ongeluk inkry.
Tekens kom gewoonlik binne 24 uur voor en sluit in: diaree, verlies aan eetlus, traagheid, swakheid, maagpyn en ‘n afname in urinering.
Vetafsnysels
Klein hoeveelheid vet is goed, maar dis nie ‘n goeie idee om al daai vet wat jy van jou gekookte biefstuk afgesny het, vir jou kat te voer nie. Dit kan maagprobleme veroorsaak, insluitend braking en diaree. Die beste is om vir hulle kos te gee wat spesiaal vir katte goedgekeur is.
Bene
Bene is seker een van die gevaarlikste kos op die lys. Alhoewel dit glad nie giftig is nie, kan dit splinter wanneer mens dit kook en interne skeuring of dermblokkasie veroorsaak. Selfs rou bene kan ‘n gevaar van verstikking inhou, al splinter dit nie soos gekookte bene nie. Pluimveebene moet ook vermy word. Saam met dermprobleme, kan kraakbeen of bene met vet om ook spysverteringsprobleme veroorsaak en jou kat kan begin braak en diaree kry.
Melk of room
Sodra katte volwasse word, ontwikkel hulle ‘n weerstand teen laktose. Die onvermoë om laktose in melkprodukte te verteer, kan diaree veroorsaak. Ongesteldheid kan lei tot dehidrasie en as dit nie vinnig behandel word nie, kan hulle vir ‘n tydjie by die veearts opeindig. Vermy room of melk, behalwe as jy laktoosvrye produkte gee.
Avokadopeer
Die skynbaar onskuldige avokadopeer (insluitend die boomstam en blare) bevat Persin, wat baie giftig is vir diere. Moet dus ook nie jou kat toelaat om met die skil of pit te speel nie. Afhangend van die hoeveelheid Persin ingekry, kan jou kat maag- en asemhalingsprobleme opdoen of selfs vloeistof rondom die hart opbou. Soms kan hierdie probleme lei tot die dood.
Sjokolade, koffie en tee
Sjokolade bevat natuurlike methylxanthines kafeïene en teobromien. Die hoeveelheid teobromien is baie hoër as die van kafeïene, maar albei is giftig vir katte (en honde). Hierdie chemiese elemente werk as ‘n diuretiese dwelm wat veroorsaak dat die liggaam vloeistof verloor. Dit is ‘n kardiologiese stimulant wat maak dat die hart vinniger begin klop en is ook ‘n sentrale senuweestelsel stimulant. Alle soorte sjokolade moet vermy word, insluitend donker, melk, wit en kakaopoeier.
Ander kosse wat jou kat nie moet eet nie:
- Soja en Ryssemel
- Bederfde of gemufde kos – selfs al is dit net ‘n bietjie af.
- Lewer
- Uie
- Knoffel
- Sout
Mense is omnivore en ons kan dus op vleis en groente oorleef. Katte is karnivore en het dus vleis nodig om te oorleef (of ten minste om te floreer). Dit is dus waar dat katte, anders as mense, nie baie voedingstowwe uit groente kry nie. Koolhidrate is egter nie sleg vir katte nie, maar hulle kry meer energie uit proteïene en gebruik dit ook meer effektief. Party katte hou daarvan om nou en dan aan ‘n plant te knibbel vir ‘n bietjie growwigheid en vesel.
So, watter tafelkos kan Fluffy met veiligheid eet?
Gekookte salm
Salm is ‘n goeie bron van proteïene en omega-3-vetsure. Dit is ‘n lekker en smaaklike lekkerny en mens kry dit gereeld in kommersiële katkos. Alhoewel party katvriendelike mensekos vir jou kat rou gegee kan word, moet jy egter seker maak dat wanneer jy vir jou kat salm gee, dit gekook is!
Spinasie
Dit is vol vitamiene (insluitend vitamiene A, C en K) en minerale soos yster en kalsium. Spinasie is dus ‘n gesonde, katvriendelike lekkerny. As jou kat egter ‘n geskiedenis van kalsiumoksalaat-blaasstene het, moet jy spinasie eerder vermy.
Visolies
Troeteldiereienaars is geneig om eerder mensekos vir hulle honde as vir hul katte te gee, maar visolie is vir albei spesies baie goed. Daar is ‘n hele paar opsies soos salm en kabeljou-lewerolie (lewertraan). Die omega-3 in visolie help met ‘n droë wintersvel en hou jou kat se pels regdeur die jaar gesond.
Eiers
Eiers is ‘n baie goeie bron van proteïene en vitamiene B en kom in baie katkosse voor. Dit is veilig vir jou kat om te eet, maar maak net seker dit is gekook om die risiko van siektes wat in kos kan uitbroei, te verlaag.
Spanspek
Spanspek is hoog in anti-oksidante en beta-karotien en help vir ‘n gesonde vel en oë. Dit is een van ‘n paar vrugte wat veilig is vir katte.
Kaas
Kaas is katvriendelik en as jou kat belangstelling wys, voer eerder harde kaassoorte soos Cheddar, Switserse of Gouda. Hierdie kase is hoog in kalsium en proteïene en kan maklik in ‘n peuselhappie gebak word of net so rou in klein hoeveelhede gegee word.
Ander kosse wat jou kat mag eet:
- Piesangs
- Hawermout
- Pampoen
- Brood
- Appels
- Bloubessies
- Aarbeie
- Ertjies
Matigheid moet altyd voor oë gehou word en dis altyd beter om eers by jou veearts te hoor of dit veilig is om sekere kosse vir jou kat te gee. Katte is nie almal dieselfde nie en hulle kosinname kan verander soos wat hulle ouer word. ‘n Ou lekkernytjie nou en dan sal nie skade doen nie, maar dis altyd beter om eerder hoëkwaliteit koskorrels te gee.

