Bosluise en Vlooie - Hoe maak hulle my troeteldiere seer?

Bosluise en Vlooie – Hoe affekteer dit my troeteldier?

Hoe maak Bosluise en Vlooie my troeteldier seer?

Vlooie

Vlooibyte kan seer wees en baie jeuk. Vir meeste troeteldiere mag dit net ‘n klein irritasie wees, maar vir ander troeteldiere kan die gejeukery hulle mal dryf, wat in krapmerke en sere kan ontaard!

Die hoeveelheid bloed wat vlooie kan inneem, is gelykstaande aan 15 keer hul eie gewig. Honde en katte wat te veel bloed verloor kan anemie (bloedarmoede) ontwikkel wat hulle rooibloedseltelling gevaarlik laat daal. Babahondjies en -katjies is veral in gevaar weens hul laer bloedvolume. ‘n Valerige tandvleis en ‘n verlies aan energie is tekens van bloedarmoede wat deur vlooie veroorsaak word. Anemie kan lewensgevaarlik wees as dit nie vinnig deur ‘n veearts behandel word nie.

Party troeteldiere is allergies vir vlooie en kan vlooibyt-dermatitis (velontsteking) ontwikkel. Dit is ‘n allergiese reaksie wat jou troeteldier se vel teen die vlooispeeksel ontwikkel. Dit is baie algemeen om vlooibyt-dermatitis op die kop, gesig, nek of by die basis van die stert te sien. Diere met vlooibyt-dermatitis sal baie jeuk en mag selfs hare op die geaffekteerde areas verloor (a.g.v. al die gelekkery en krappery). Hulle mag ook ‘n rooi vel hê of opgeswelde knoetse en brandsiekte op die jeukerige areas. Nie alle diere sal allergies word vir vlooie nie, maar party kan so sensitief wees dat hulle al met die eerste vlooibyt allergiese reaksie wys. Simptome van allergieë sluit in: intense jeukery, haarverlies (veral waar die stert begin), brandsiekte en ‘n rooi en geirriteerde vel wat tot velinfeksies kan lei.

Alle vlooie is draers van lintwurms. Wanneer jou troeteldier homself “was”, eet hy die volwasse vlooie en kry hy so ook die lintwurms in – en katte is veral goed met die selfwassery! Lintwurms bly in jou troeteldier se derms en kan ernstige probleme veroorsaak met die opneem van voedingstowwe. Met tyd mag jy iets soos klein ryskorreltjies in jou troeteldier se stoelgang of op hulle pels bo-op die rug sien. Dit is eiertjies wat deur die lintwurms gelê word. 

Meeste van die voorkomingsmedikasie vir hartwurms behandel baie soorte dermparasiete, maar hulle behandel nie lintwurms nie. Lintwurms kan maklik met ‘n ander medikasie, wat jy by jou veearts kan kry, behandel word. 

Bosluise

Bosluise is gewoonlik baie aktief in die warmer maande, maar die volwassenes van sommige spesies is selfs gedurende die winter aktief., so vlooi- en bosluisvoorkoming met regdeur die jaar gegee word.

Bosluise is nare goggas wat baie ernstige siektes dra en wat dit aan jou honde en katte kan oordra.

Hier is ‘n paar algemene of universiële kliniese tekens wat met bosluise geassosieer kan word:

Koors

Honde wat ‘n ernstige bosluisbyt opgedoen het, se liggaamstemperatuur kan drasties verhoog. Hulle benodig onmiddellike behandeling om die infeksie onder beheer te bring.

Verlies aan eetlus

Siek honde eet nie veel nie. As jy agterkom jou hond eet skaars, is hy beslis siek. Vat hom onmiddellik na ‘n veearts vir ‘n behoorlike diagnose.

Seer gewrigte en geswelde ledemate

Bosluise kan ‘n seerheid in die ledemate veroorsaak – iets soortgelyk aan artritis.

Velinfeksies

Herhaaldelike byte en gevolglike krappery kan velinfeksies veroorsaak, bo en behalwe siektes wat deur bosluisbyte veroorsaak kan word.

Traagheid

Wanneer ‘n hond minder aktief as gewoonlik is, mag dit ‘n teken wees dat hy iets makeer. Kyk altyd uit vir vlooie, bosluise of enige ander gesondheidskwelling as jou hond traag voorkom.

Abnormale veranderinge in die bloedtelling

Bosluisbesmetting kan jou hond se rooibloedtelling verlaag en anemie veroorsaak. Dit is moeilik om dit by die huis op te tel, maar indien jy enige van hierdie simptome in jou troeteldier sien, gaan onmiddellik na die veearts vir ‘n behoorlike diagnose. Baie troeteldiereienaars maak die fout om te dink bosluise is nie ‘n ernstige gesondheidsrisiko nie, maar dis belangrik om te weet dat bosluisbyte en -siektes jou hond se immuniteitsisteem aanval en hom dus weerloos maak vir ander siektes.

‘n Paar spesifieke siektes wat deur Bosluise oorgedra kan word

Honde-Bosluisbytkoors (Ehrlichiosis)

Honde-Bosluisbytkoors (Canine Ehrlichiosis) word deur die Ehrlichia canis en Erlichia ewingii bakterieë veroorsaak. Ehrlichia canis word deur die bruinhondebosluis oorgedra en Ehrlichia ewingii deur die “lone star tick” (Amblyomma) oftewel bontbosluis. Net soos met Lyme se siekte (Lyme disease) by honde, is waarskuwingstekens nie opvallend nie. As hierdie siekte onbehandeld bly, kan dit lei tot ‘n chroniese infeksie – sonder enige kliniese tekens – wat dae, maande of selfs jare kan aanhou.

Ligte simptome wil-wil ‘n vae siekte naboots, waarvan die ooglopendste teken gewigsverlies is. Ernstige gevalle van canine ehrlichiosis wat nie gediagnoseer en behandel word nie, kan tot die dood lei. 

Mees algemene tekens van canin ehrlichiosis:

  • Depressie of traagheid
  • Verlies aan eetlus
  • Koors
  • Loperige oë en neus (afskeiding)
  • Geswelde limfkliere
  • Spontane neusbloeding
  • Kneusing (petechiae) op die tandvleis en maag
  • Lamheid of seer gewrigte

Bosluiskoors (galkoors)

Bosluiskoors is van die mees algemene siektes in honde in suidelike Afrika. Dit affekteer die lewer (perde en katte kan ook bosluiskoors kry) en veroorsaak onder andere simptome soortgelyk aan geelsig. Bosluiskoors word veroorsaak deur Babesia canis, ‘n klein parasiet wat ‘n hond se bloedstroom binnegaan deur middel van ‘n bosluisbyt, en wat dan die rooibloedselle vernietig.

Kliniese tekens van infeksie

  • Koors
  • Bloedarmoede (vaal slymvliesmembrane)
  • Anoreksie en depressie
  • Braking
  • Dehidrasie
  • Geelsug (geel slymvliesmembrane)
  • Rooi urine (haemoglobinuria)
  • Verbouereerdheid

Die bosluise wat gewoonlik op jou troeteldier teer is hoofsaaklik die geelhondebosluis (Haemaphysalis elliptica) en die hondehokbosluis (Rhipicephalus sanguineus). Beide is groot draers van honde-bosluiskoors. In ernstige gevalle kan vrektes baie gou plaasvind, selfs binne ‘n dag, behalwe as daar ‘n effektiewe reaksie op vinnige behandeling is.

Die beste manier om jou hond teen bosluiskoors te beskerm, is om hom heeltemal van enige bosluise en vlooie weg te hou. Vra jou veearts wat die beste bosluis- en vlooibehandeling is en maak seker dat jy dit gereeld toedien om jou honde en ander troeteldiere gesond te hou.

Scroll to Top