Hondjies en Tandekry - alles wat jy moet weet

Hondjies en Tandekry – hoe hanteer ek dit?

Hondjies en tandekry

Afhangende van jou hondjie se ras, kan hulle vanaf 10 tot 12 dae begin tande kry. Die klein, skerp melktandjies word later deur die groter volwasse tande uitgestoot. Saam met hierdie ontwikkelingsfase kom ‘n paar nuwe uitdagings, onder andere hondjies se weergawe van die ‘terrible two’s’. Traprelings, vensterbanke, huisplante, leibande, meubelpote, skoene en sokkies kan alles die prooi word van ‘n hondjie wat nie goeie grense ken nie. Enige iets wat hul bekkies kan raakvat sal pret wees om te vernietig! 

Hoe lank is die tandekry-fase?

Hondjies begin tussen drie tot ses weke tandjies kry en so rondom 3 maande kom die volwasse tande uit. Hulle behoort al ‘n volle stel tande teen 6 maande te hê. Die wisseltande se wortels is dunner en langer. Soms kan hierdie wortels kraak en jou hondjie blootstel aan infeksie en nekrose. Indien jy enigiets vreemd in jou hondjie se mond sien, moet jy dadelik jou veearts besoek.

Wees ook op die uitkyk vir enige tande met skewe belyning. As die boonste en onderste tande nie behoorlik in lyn is nie, kan dit ‘n ‘skewe byt’- veroorsaak. Dit beteken dat die kakebeen eenkant toe trek as gevolg van ‘n tand wat nie mooi in lyn is met die boonste of onderste kaak nie. In ernstige gevalle kan mens duidelik sien hoe die onderste kaak skeef trek, wat dit vir die hond baie moeilik maak om te kou. As jy dit vroegtydig optel, kan die ‘moeilikheidmaker’ verwyder word en die kakebeen kan normaal ontwikkel. 

Hou in gedagte dat, soos jou hondjie tande kry, die kakebeen ook baie vinnig groei en die tandvleis as gevolg van die nuwe tande wat wissel, sensitief is. Dit maak dat jou arme hondjie oor die algemeen maar bra mistroostig voel. Hier is ‘n paar wenke en hulpmiddels om die pyn te verlig en jou hondjie se koubehoeftes in die regte rigting te lei.

Wenke vir wanneer jou hondjie tande kry

 1. “Los Dit!”

Dit is ‘n goeie idee om jou hondjie “Los dit!” te leer sodra jy haar huis toe bring. ‘n Toutrekkery tussen julle kan ‘n waardevolle artikel in ‘n erger toestand los as toe jy dit aanvanklik in jou hondjie se bek gesien het. ‘n Ferm “Los dit!” kan so ‘n situasie voorkom.

Image result for puppy teething chart

Leer jou hondjie “Los dit!” deur met sy gunsteling speelding tou-trek te speel. Wanneer jy wil hê jou hondjie moet die speelding los, sê “Los dit!”. Hou die speelding in een hand en wys ‘n lekkerny in die ander hand. Die hondjie sal die speelding vir die lekkerny los en jy vergoed weer jou hondjie deur te sê: “Mooi, los dit!” Later kan jy die lekkerny met ‘n ander gunsteling speelding vervang en tussen ‘n beloning van sy gunsteling speelding of ‘n lekkerny begin afwissel. Sodra jou hondjie goed verstaan wat “Los dit!” beteken, kan jy hom verder leer om artikels te los sonder om dit met ‘n speelding of lekkerny te vervang. 

2) Uitruil 

Wanneer jy jou hondjie aan iets onbehoorlik sien kou, sê “nee”. Ruil dit dan met ‘n speelding wat jy weet sy van hou. Prys haar sodra sy aan die regte speelding begin kou.

Probeer altyd om iets te kry waarvoor jy jou hondjie aan die einde van enige afrigtingsessie of berisping, kan prys. As daar geen deurbraak na ‘n afrigtingsessie was nie, sluit die sessie af deur ‘n opdrag te gee wat jou hondjie baie goed ken, sodat die sessie tog eindig met ‘n “Mooi honne”-prys en ‘n bederfhappie. 

3) Sagtemond-afrigting vir jou hondjie

Dit is soms nodig om jou hand in jou hond se bek te kan sit wanneer jy ‘n pil gee, of iets uit haar keel moet verwyder as gevolg van iets wat sy nie mag insluk nie. Dit is dus baie belangrik om van jongs af jou hondjie te leer om ‘n “sagtemond” te hê en ‘n gebytery af te leer. ‘n Hondjie se oulike hap of byt kan eendag in ‘n gevaarlike risiko ontaard wanneer hy groot is.

Jy kan jou hondjie leer om ‘n sagte mond te hê deur saam op die vloer te lê en met ‘n speelding toutrek te speel. Vat die speelding weg en speel saggies met jou hondjie se onderste kaak. Dit is okei as sy jou hand saggies hap, maar as sy harder byt, gee ‘n skerp, hoë toon “eina!”. Druk dan haar bek saggies maar ferm toe vir sowat 2 – 3 sekondes. As sy weer byt, sê “nee” en druk weer haar bek vir 2 – 3 sekondes toe.

Hierdie aksie na-aap die ma se teregwysingsmetode en het ‘n kalmerende effek op die hondjie. Wanneer ‘n ma haar hondjie iets sien doen waarvan sy nie hou nie, sal sy die hondjie se mond met sagte, vinnige byte toehap. Jy kan ook hierdie tegniek gebruik om happery en ‘n geblaffery stop te sit. Wanneer hulle bekke toegedruk word, is dit net so erg as wat hulle koppe in ‘n toilet gedruk sou word, so moet asseblief nie oorboord gaan en hulle bekke vir langer as 2 – 3 sekondes toedruk nie.  

4) Touspeelgoed

Touspeelgoed is die beste speelgoed vir tandekry. Dit is goedkoop, maklik om skoon te maak, veelsydig en dit hou lank. Touspeelgoed is wonderlik om jou hondjie te leer vang-en-bring, trek of net om aan te kou. Dit bevorder ook mondhigiëne deur die tandvleis te versterk en tande te help skoonmaak. Spoel die speelgoed elke nou en dan uit met gewone seep en water en vries dit terwyl dit nog nat is vir ‘n ekstra salwende kou-ervaring. 

Sien hier hoe om jou eie DIY-touspeelgoed te maak.

5) Koue wortels is goed vir jou hondjie

‘n Koue wortel is strelend vir die tandvleis, proe lekker en is ryk in Omega 6 vetsure, vitamine A, vitamine K en kalium (potassium). Hondjies hou daarvan om aan wortels te kou en dit te sien disintegreer. Wortels is egter ook hoog in vesel, so hou maar by een wortel per dag om ‘n omgekrapte magie te voorkom.

6) Borsel jou hondjie se tande

Dit is baie belangrik dat jy reeds met die gewoonte begin om jou hondjie se tande tussen die ouderdom van agt tot 16 weke te borsel. Dit sal ook die werk makliker maak vir wanneer jou hond ouer is. Koop tandepasta wat spesiaal vir honde geformuleer is. Dit is gewoonlik vleisgegeur, so honde is mal oor die smaak. Begin deur ‘n klein bietjie op jou vinger te sit en jou hondjie te laat proe. Glip dan jou vinger onder die bolip in en smeer die tandepasta op die tande. Gee vir jou hondjie ‘n bederfhappie wanneer jy klaar is. Later kan jy ‘n tandeborsel vir babas of kleuters koop, of selfs een wat spesiaal vir honde ontwerp is, en jou hond se tande begin borsel

Die ideaal is om jou hond se tande elke dag te borsel, nes jou eie. As jou skedule dit egter nie toelaat nie, probeer om jou hond se tande ten minste ‘n paar keer per week te borsel. Kleiner hondjies en dwerghondjies (Brachycephalic ras) – honde met ‘n plat of kort breë snoet, soos ‘n Mopshond en Bulhonde – mag meer gereelde borsel nodig hê. Hulle tande is gewoonlik teen mekaar gedruk en dit maak dat plaak saampak en hulle ‘n hoër risiko het om tandsiektes (periodontitis) te ontwikkel. 

7) Gereelde veeartsbesoeke

Gereelde veeartsbesoeke word altyd aanbeveel. Die veearts sal na jou hondjie se tande en sommer na sy algemene gesondheid kyk.

vet: vet

Speelgoed om te vermy

Moenie jou hondjie verwar en vir hom oulike speelgoed gee wat nes voorwerpe lyk wat jy juis van hom af probeer weghou nie, bv. piepende rubber tennisskoene, nagemaakte afstandbeheertoestelle of selfone. 

Onthou, konsekwentheid is die sleutel tot alle suksesvolle hondafrigting. Die tandekry-fase hou nie vir altyd aan nie, maar die goeie gewoontes wat jy hulle nou leer sal vir ‘n leeftyd bly!

Scroll to Top