Somerskeerdery - Voor- en nadele

Skeer honde vir die somer

Somerskeerdery

Somer is hier en so ook die hitte! Soos ons die lae klere afstroop en in ons swemklere en kortbroeke paradeer, wonder ons of ons nie ook ons honde van al daai onnodige lae hare moet verlos nie? Is ‘n geskeerde woef meer gemaklik?

Wat om te oorweeg

Gesondheidskwessies wat verband hou met hitte kan maklik by Bragisefaalse (plat gesig) honde gesien word, veral dié met lang hare, bv. Pekingese, Lhaso Apso, Shih Tzu en Kavalier King Charles spaniël, en veral as hulle van oefening hou. Met die Suid-Afrikaanse hitte, sal dit vir hulle regtig voordelig wees om geskeer te word. Kry raad by professionele mense, soos versorgers en veeartse as jy onseker is oor hoe om jou hond te versorg.

Oor die algemeen is daar baie voordele om jou hond in die somer te skeer. Dit hou die hond koel tydens uiterste hittegolwe en geskeerde honde hoef nie so gereeld versorg te word nie. Dit maak dit ook makliker vir eienaars om enige beserings, infeksies of vlooie en bosluise raak te sien. En sou enige van hierdie opgemerk word, is dit soveel makliker om die wond te behandel en van peste ontslae te raak. Al hierdie voordele klink wonderlik en laat die besluit om te skeer sommer makliker voorkom. Maar dit is nie so eenvoudig nie.

Oorwegings om NIE jou hond te skeer nie

Party honde se pelse bestaan uit verskeie lae wat noodsaaklik is vir die hond se gemak in die koue EN die hitte. Honde met onderpelse, soos huskies, Duitse herdershonde en border kollies, se onderpelse moet eerder nie geskeer word nie omdat dit ernstige implikasies mag inhou:

  • As jy jou hond van sy natuurlike verkoelingsisteem ontneem, mag dit lei tot ongemak en hitte-uitputting. Party honde reageer ook asof hulle van hulle superkragte beroof is. Hulle raak depressief en knorrig, veral as dit met hulle fisiologiese vermoë inmeng om hul temperatuur en gemak te reguleer.
  • Om jou hond koel te hou, is nie die enigste rede hoekom jy hom nie moet skeer nie, sy pels voorkom ook sonbrand en beskerm hom teen velkanker.
  • Party honde se pelse is nie bedoel om geskeer te word nie en dit kan óf te dun, in kolle, teruggooi óf selfs in ‘n heeltemal ander tekstuur. Dit word genoem ‘post-clipping alopecia’, en dit kan jou hond se vermoë om sy temperatuur te reguleer, vir die res van sy lewe beïnvloed.

In hierdie gevalle is dit beter om jou hond se pels net te los soos dit is en jou hond eerder gereeld te versorg sodat sy dubbelpels kan doen waarvoor dit bedoel is: om hom in die somermaande koel te hou.

Geskeer en gelukkig!

Honde met langer en beheerbare pelse (soos die mini schnauzers, poedels, shih tzus, maltese en spaniël) hou egter daarvan om hulle pelse geskeer te hê. Nadat hulle geskeer is, tree hierdie honde op asof hulle vrygelaat is en baljaar en hardloop rond! Hulle is sommer gelukkiger en meer opgewonde as ooit! Hierdie honde verkies net doodeenvoudig kort hare, nes baie mense.

Moet egter nie jou hond se hare te kort sny nie, vra eerder vir ‘n “hondjiesnit” of ‘n “wintersnit”. Hierdie snitte verwyder die lang irriterende hare, maar beskerm steeds die vel teen sonbrand. Dit gee ook beter beskerming teen velkanker, veral honde met ligte velle. Daar is heelwat sonblokmiddels om van te kies as jou hond ‘n sonbaaier is. Vra jou veearts of kyk in jou supermark vir die regte produk. 

As jy onseker is of dit ‘n goeie idee is om jou hond te skeer, en nie seker is of hy n dubbelpels het nie, vra jou veearts vir sy professionele raad.

Scroll to Top