Troeteldieroppasser - Hoe kry ek die regte een?

Troeteldieroppasser – Hoe vind ek die regte een?

Dis altyd erg wanneer jy beplan om met vakansie te gaan en jy weet jou geliefde troeteldier moet alleen agterbly. En dan, wanneer die vakansietyd aanbreek, kyk hulle jou aan met daardie groot hartseer oë asof hulle weet jy gaan vir ‘n ruk weg. Jy kan nie anders as om vreeslik sleg te voel nie. As jy weer in so ‘n situasie is, hoekom maak jy nie gebruik van ‘n troeteldieroppasser nie? Jou troeteldier kan in die gemak van sy eie huis bly en jy kan met ‘n geruste hart vakansie hou. Jou troeteldier sal ook nie sommer enige siektes optel nie en net deur een persoon hanteer word. Ook verhoog dit die sekuriteit by die huis.

Wat is troeteldieroppassing?

Vroeër jare was daar nie veel opsies rakende sorg vir jou troeteldier wanneer jy wou weggaan nie, maar deesdae is daar baie opsies. Een van die beste keuses is om ‘n troeteldieroppasser te gebruik wat na jou troeteldier in jou eie huis kyk. 

‘n Troeteldieroppasser kom daagliks na jou huis (soms meer as een keer per dag) en maak seker jou troeteldier is versorg en dat alles by die huis reg is. Dis so eenvoudig soos dit en ook makliker vir jou troeteldier. Hulle word nie getraumatiseer deur uit hul bekende omgewing weggevat te word nie en hulle word nie blootgestel aan siektes van ander diere nie. ‘n Verdere voordeel is dat daar na jou huis gekyk word; ligte word aan/of gesit, jou pos en koerante word uitgehaal en jou vullis word uitgesit. Dit lyk kompleet asof daar iemand in jou huis bly.  

Verskillende tipe troeteldieroppassers

1. Inwonende oppasdienste

Sommige troeteldieroppassers bied inwonende en/of oornagdienste. Inwonende versorging gedurende die dag is egter beperk en minder algemeen, omdat meeste oppassers ook na ander diere kyk of kliënte het wie se diere hulle daagliks vir ‘n stappie vat. 

2. Daaglikse stappies / stappies bedags

Om met ‘n hond bedags te gaan stap is ‘n weeklikse, deurlopende oppassingsdiens. Dagtyd-stappers word gewoonlik gehuur om met honde te gaan stap wat ‘n gereelde breek in die dag nodig het of om hulle net te besoek. Daaglikse stappies, of net ‘n paar dae per week kan geskeduleer word. Selfs twee stappies per dag kan gereël word, afhangende van jou werkskedule en jou hond se behoeftes. Die mees algemene kuiertydjies word geskeduleer vir tusssen 20 en 60 minute op ‘n tyd.  

3. Vakansie-oppasdienste

Indien ‘n troeteldieroppasser hierdie diens aanbied, beteken dit dat hulle beskikbaar is om na jou troeteldier te kyk terwyl jy weg is met vakansie of vir besigheid. Gedurende hierdie tyd sal die oppasser jou huis op geskeduleerde tye – wat jou troeteldier die beste sal pas – besoek. Tydens die onderhoud sal jou situasie, behoeftes en wense bespreek word en julle sal dan saam besluit oor hoe gereeld die kuiertjies moet gebeur. Meeste honde wat in die huis bly, sal ten minste drie keer per dag besoek moet word (oggend, middag en aand). Meeste kliënte verkies een kuiertjie per dag, of twee maal per dag vir katte. Sommige oppassers is ook bereid om elke tweede dag ‘n draaitjie te maak, maar dit word nie aanbeveel vir groot manlike katte nie, a.g.v. potensiële gesondheidsprobleme. 

Is dit veilig om ‘n “vreemdeling” in my huis te hê?

Ons besef dat dit nogal senutergend kan wees om ‘n troeteldieroppasser in jou huis te hê. Hier is ‘n paar wenke om jou te help om ‘n betroubare oppasser te kry wat ‘n goeie verhouding met jou familie sal bou. 

Wenke oor hoe om die regte oppasser te kies

  • Die oppasser moet kontakbesonderhede van vorige verwysings gee wanneer jy daarvoor vra. Maak seker jy kontak die verwysings wel.
  • Gesels met veeartse, versorgers, troeteldierwinkels en troeteldierbesighede in ander areas om meer uit te vind oor die oppassingsdiens se reputasie.
  • Maak seker dat jy heeltemal verstaan hoe die diensfooi werk. Vra watter dienste alles ingesluit is in die kwotasie. 

Ander faktore om in gedagte te hou wanneer jy ‘n oppasser huur

  • Ken die oppasser noodhulp vir diere?
  • Het die oppasser tydens die onderhoud baie vrae gevra en die antwoorde volledig neergeskryf? 
  • Het die oppasser ‘n plaasvervanger of ‘n opvolgplan in geval van ‘n persoonlike noodgeval?
  • Is dit ‘n voltydse oppasser, of is sy/haar tyd beperk a.g.v. ander werk of studies?
  • Praat die oppasser positief oor ander oppassers in die omgewing en is hy op hoogte van die industrie en ander troeteldierversorgingsdienste?

Finale vrae om met die oppasser te bespreek

  • Sal dieselfde oppasser die heeltyd na jou huis en diere kyk?
  • Mag die oppasser iemand saambring na jou huis toe?
  • Bring die oppasser ooit enige kinders saam met besoeke?
  • Hoe gereeld sal die oppasser jou op hoogte bring van wat by die huis aangaan?
  • Pas die oppasser se beskikbare tye by dié van jou troeteldier se behoeftes?
  • Hoe sal jou huissleutel gebêre of teruggegee word?
  • Het die oppasser al voorheen na ‘n troeteldier soortgelyk aan joune gekyk?
  • Aanvaar die oppasser verskillende betalingsmetodes (kontant, tjek, EFT, ens.)

‘n Paar Troeteldieroppasdienste in Johannesburg en Pretoria

Let Wel: Dienste moet vooraf bespreek word, so maak seker jy kontak hulle vroegtydig vir beskikbaarheid.

Johannesburg

Buddy Pet Care – Douglasdale 
Buddy Pet Care is in Douglasdale geleë en bied ‘n hele paar dienste aan: van daaglikse besoeke en dagsorg vir hondjies, tot troeteldier- en huisoppas en die beste “hondehotelle” in Johannesburg. Met die “hondehotel” bly jou hond in die huis van een van die Buddy Families. Jou hond het die vryheid om in die huis en tuin te baljaar en slaap binnenshuis!

Tickles and Licks – Lonehill 
Nes hulle leuse sê, bied Tickles and Licks “love and play while you’re away”. Daar is ‘n hele paar dienste beskikbaar, maak nie saak of jy weggaan met vakansie of net vir die dag weg sal wees nie. Hulle dienste sluit in: daaglikse wandelings vir honde wat by die huis bly, ‘n “mini monster madness” -diens vir hondjies en katjies wat baie aandag nodig het en nog die potjie-parade onder die knie moet kry, tot troeteldieroppasdienste (oornag, huisoppas en hondestappies). Tickles and Licks sal die perfekte opsie hê vir jou en jou “baba”. 

Fat Puppy Pet Care – Randburg 
Fat Puppy Pet Care bied bekostigbare troeteldiersorg terwyl jy van jou huis af weg is. Hulle is betroubaar en lief vir diere en sal na al jou behoeftes vir jou huis en troeteldier omsien. Die Fat Puppy Pet Care span kan in jou huis bly of net daagliks ‘n draaitjie maak om te verseker jou diere is versorg en dat hulle genoeg liefde en aandag kry.  

Pretoria

Housesitting for you – Pretoria
Hulle bied oorslaapdienste en dienste bedags aan. Jy kan kies of jy iemand wil hê om by jou huis oor te slaap terwyl jy weg is, of net iemand om een (of twee) keer per dag jou diere kos te gee en seker te maak alles is nog reg by jou huis. Hulle laat jou onmiddellik weet as iets fout sou wees – ‘n gebarste geyser, krag wat af is, ‘n ontvriesde yskas ens. 

Student.co – Gauteng
Bederf jou troeteldiere met die gemak van hulle eie huis. Elke gesin is anders, so laat hulle toe om na jou huis en troeteldiere te kyk volgens jou unieke voorkeure. Hulle is beskikbaar regoor Pretoria, Johannesburg en Centurion.

Pet Care – Pretoria
SA Pet Care Pretoria bedien die oostelike voorstede van Pretoria en kyk na jou troeteldiere terwyl jy weg is met vakansie of siek in die hospitaal is. SA Pet Care se dienste is regdeur die jaar beskikbaar en hulle versorg jou troeteldier in sy eie bekende omgewing. 


Lonely Pets Pet Sitting Service – Pretoria Noord

Lonely Pets bedien areas in Pretoria-Noord, Moot en Montana. Hulle versorg jou troeteldier terwyl jy weg is met vakansie of op ‘n besigheidsbesoek. Hulls is al meer as vier jaar in die bedryf en stap altyd die ekstra myl vir hulle kliënte en hulle geliefde troeteldiere. 

Scroll to Top