Engelse Bulhond - Feite en Geite

Die Engelse Bulhond – Feite en Geite

Die Engelse Bulhond is uitsonderlik met sy stewige en aggressiewe bou, breë bors en kort bene. Die mond en gesig is ook breed en ru, met ‘n wye, vierkantige kaak en ‘n effe plat gesig met ‘n duidelike onderbyt (waar die onderkaak langer as die bokaak is). Bulhonde het baie oortollige vel, veral rondom die wange waar dit flapperig sywaarts opstrek. Hierdie hangwange laat die donker oë diep en gesonke voorkom. Hulle ligte ore lyk sommer klein en fyn teenoor al die bonkig- en stewigheid. Die pels is kort en reguit en lekker maklik om skoon te hou. Hulle kleur wissel tussen grysbruin, vaalgeel, spierwit, gestreepte rooi of ‘n kombinasie van al hierdie kleure. Nes hulle ore, is die stert effens fyn en kort en sit laag op die stewige lyf.

Vandag se Bulhonde is heeltemal anders as hulle voorouers wat in Engeland geteel is en afkomstig was van ‘n eeue-oue gevegshond. In 1500 n.C. is daar vir die eerste keer van hierdie honderas melding gemaak in ‘n beskrywing van een of ander man “with two Bulldogges at his tayle…” Daardie tyd was hulle vreesaanjaend en is hulle in bulteisteringsgevegte gebruik. Hulle het die bul se neus bespring en verwoed en wreedaardig daaraan geruk en pluk. Daar was egter ‘n doel agter die Bulteistering – dit het blykbaar die vleis sag gemaak.

Ten spyte van sy intimiderende voorkoms, is die Bulhond vriendelik, geduldig en uiters lojaal teenoor sy eienaar en hy’s bekend daarvoor om sterk bande met kinders te vorm. Dis hoekom hulle een van die mees gewilde troeteldiere vir gesinne is. 

Bulhonde is onaktief en het nie baie oefening nodig nie, (alhoewel dit steeds ‘n goeie idee is om hulle elke dag vir ‘n stappie te vat en sodoende oortollige vetrolletjies te keer). Julle kan in die koeler tye van die dag vir ‘n kilo of twee gaan stap, maar hy sal net so gelukkig wees met ‘n kort entjie die straat af. Hulle is binnenshuise honde en verkies ‘n rustige lewenstyl. Na sowat 15 minute se spelery, sal hulle reg wees vir ‘n slapie. Omdat hulle energievlakke so laag en matig is, kan hulle in enige tipe huis aanpas – van ‘n klein woonstelletjie tot ‘n huis met ‘n erf. 

Omdat Bulhonde sulke plat gesigte het, hou hulle nie van bloedige of yskoue weer nie. Hulle haal baie swaar asem wanneer hulle warm kry en hanteer hitte baie sleg. Hulle kry baie vinnig hitte-uitputting en so min as 30 minute buite in warm temperature, kan hulle doodmaak. Maak seker hulle is altyd in ‘n lugverkoelde omgewing en dat hulle altyd vars water het. Bulhonde kan glad nie swem nie omdat hulle massiewe koppe hulle afwaarts dwing. As jy dus ‘n swembad het – of ‘n borrelbad of visdam – maak seker jou hond is veilig en kan nie inval nie. Bulhonde mag ook sukkel om asem te haal as hulle neusholtes buitensporig nou is of hulle sagte verhemelte te lank. Hierdie kondisie is bekend as bragisefale boonste-lugwegsindroom. In ernstige gevalle mag selfs ‘n operasie nodig wees. 

Die Bulhond gaan nou nie sommer ‘n goue sterretjie vir gehoorsaamheid kry nie, maar sodra hy iets geleer het, sal hy dit nie sommer weer vergeet nie. Hulle leer die beste deur prettige opleidingsessies waar dinge baie herhaal word en hy positiewe aanmoediging kry deur geprys te word en met ‘n lekkerny beloon te word. 

Ras: Engelse Bulhond

Land: Engeland

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 31 – 40 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: 22 – 25 kg

Lewensverwagting:  8 – 12 jaar

Oefeningsbehoeftes:  Daaglikse, matige stappies om oorgewig te voorkom.

Soortgelyke Rasse: Amerikaanse Bulhond, Bokser, Franse Bulhond, Ou Engelse Bulhond, Spaanse Bulhond (Alano Español)

Hulpverlening in South Africa: http://bulldog.rescueme.org/za

Scroll to Top