Nuwe Hondjie - Bekendstelling aan ander diere

Bekendstelling aan ander huisdiere

Daar is baie hondjies wat Vir-Altyd-Huise soek, so dit blyk onvermydelik dat jou dierefamilie mettertyd sal aangroei! Afgesien van die sosiale verantwoordelikheid, is dit ook vreeslik opwindend om jou nuwe aangenome wolwater huis toe te bring en deel van die gesin te maak. Dis egter baie belangrik om jou ander huisdiere in gedagte te hou. Hulle is totaal en al onbewus van jou planne en heel gelukkig met die huidige stand van sake… geen verwagting van ‘n nuwe en energieke klein hondjie wat hulle terrein gaan betree nie. Dit kan vir hulle ook baie stresvol wees.   

Beplan jou nuwe hondjie se tuiskoms. As enige roetine gaan verander, begin met die nuwe skedule ‘n week of twee voor die tyd, sodat die ander diere nie die verandering met sy aankoms assosieer nie. Byvoorbeeld, as jy beplan om jou hondjie in ‘n sekere area te sit (waar jy hom dalk wil pottie-”train”), maar dis dieselfde plek waar jou ander diere eet, begin dan reeds ‘n week of twee vroeër om jou diere êrens anders te voer, of kry ‘n ander plek om jou nuwe hondjie te leer. Doen dieselfde met slaapplek of enige ander veranderinge wat jou huisdiere mag ontstel.

Onthou, veiligheid kom eerste, so maak jou huis troeteldierbestand voordat jou hondjie tuiskom. Plaas enige drade, skoene, giftige plante, skoonmaakmiddels, oop vuilgoedblikke ens. buite bereik. Indien jy ‘n gedeelte van die huis wil afskort, kan jy ‘n hondjie- of veiligheidshek aanbring sodat hy nie in die moeilikheid kom nie.

Bekendstelling aan ander honde

Wanneer jy jou hondjie aan jou ander honde bekendstel, is dit beter om dit iewers buite in ‘n neutrale plek soos ‘n park te doen. Jou honde sal glad nie gelukkig wees om hulle spasie te deel nie. Die belangrikste is om kalm te bly, maak nie saak wat die reaksie nie, en gee jou ouer honde koninklike behandeling, ekstra liefde en al die aandag wat hulle mag nodig hê. Hulle sal dus al hierdie positiewe aandag assosieer met die aankoms van die nuwe hondjie en hom makliker aanvaar.

Hier is ‘n paar ekstra wenke:

  • Doen die bekendstelling wanneer jou ouer honde kalm is.
  • Maak seker jou hondjie is aan ‘n leiband en laat ‘n vriend hom vashou. Laat jou ouer hond nader kom (sonder ‘n leiband – as hy nie aggressief is nie).
  • Bederf jou ouer hond met ‘n lekkerny en gee hom al jou aandag.
  • As dit lyk of die klein hondjie aanvaar word, kan jou vriend die hondjie in die huis vat, maar laat jou ouer hond eerste ingaan.
  • As jy dink jou ouer hond gaan nie gelukkig wees met die hondjie in die huis nie, koop ‘n mandjie voor die tyd en sit die hondjie daarin. Maak asof die hondjie nie daar is nie en gee jou ouer hond al die aandag.
  • Bly kalm en laat jou troeteldiere dit self uitwerk. Soos wat jou ouer hond met die kleintjie verkeer, sal hy die hondjie gou op sy plek sit. As daar enige geskille is, kies jou ouer hond se kant. 
  • As jy regtig bang is dat jou ouer  hond die kleintjie kan seermaak, sit eerder ‘n muilband om sy bek en hou hom aan ‘n leiband, sodat jy maklik tussenin kan tree. 

Hoe om jou hond se daaglikse lewe by die nuwe lewendige familielid te laat aanpas 

  • Maak seker jy voer jou ander huisdiere eerste – jou nuwe hondjie sal respek en geduld leer.
  • As jy jou hondjie drie maal per dag gaan voer, verdeel jou huisdiere se kos ook in drie, sodat hulle nie afgeskeep voel nie.
  • Groet, speel met en bederf jou ouer hond altyd eerste.
  • As jou huisdiere nader staan vir aandag, terwyl jy of iemand anders met die nuwe hondjie speel, hou dadelik op en gee aandag aan die ander huisdiere. Sodra die huisdiere gewoond is aan die nuwe hondjie, kan jy dieselfde hoeveelheid aandag aan al jou diere gee.
  • Moenie dat jou hondjie enige van die ander honde se speelgoed of komberse vat nie. Hy kan geleidelik geleer word om te deel.

Bekendstelling aan katte:

As jy ‘n kat het, weet jy seker reeds dat jou kat glad nie gelukkig gaan wees met ‘n nuwe hondjie by die huis nie. Oor die algemeen hou katte nie daarvan om hulle spasie te deel nie, hoeveel te meer met ‘n hond! Heelwaarskynlik gaan jou kat doodgeduldig sit en wag dat jou hondjie nader kom, net om hom op die neus te klits. Moenie oorreageer en ‘n groot affêre daarvan maak nie, ‘n eenvoudige “Nee” sal doen. Jou kat weet dat dit lelik is om te boelie, maar hy wil seker maak jou hondjie weet hy is nie gelukkig nie en dat hy sy afstand moet hou.

Hier is ‘n bietjie raad om jou kat te help om die nuwe hondjie te aanvaar:

  • Sit jou hondjie in ‘n krat of mandjie en laat jou kat rondom die hondjie beweeg.
  • Gee vir jou hondjie ‘n kou– of speelding om sy aandag af te lei. Katte kan partykeer baie intimiderend en vreesaanjaend wees. Probeer om nie in te meng nie, maar hou maar ‘n ogie, net in geval die kloue skielik uitpop.
  • Moenie te veel bekommer as jou kat grom of na jou hondjie kap nie. Dit sal dinge net erger maak as jy jou kat berispe of dissiplineer. Jou kat baken net sy spasie af, ‘n belangrike grens.
  • Gee tyd en stel jou kat gerus. Leer jou hondjie om jou kat se grense te respekteer deur “nee” te sê en hom liggies van die kat af weg te trek.
  • As dit reg gedoen word, kan hulle selfs beste pêlle word!

Scroll to Top