Persiese Katte - Feite en Geite

Persiese Katte – Feite en Geite

Persiese Katte is een van die oudste katrasse en dateer terug na die 1600’s. In die 17de eeu het verkenners hulle uit Persië gesmokkel en vir eeue lank het die Persiese Kat ‘n grasieuse lewe in die koninklike howe van Frankryk, Italië en al die pad tot in Engeland gelei. Koningin Victoria en Florence Nightingale het hulle bo enige ander katras verkies. As gevolg van hierdie koninklike lewe en beroemdheid, hou hulle vandag steeds daarvan om hulleself oor meubels te vlei, amper om te sê: “Kyk na my, ek’s prrrrragtig!”

Die Persiese Kat is bekend vir sy unieke plat gesig (bragisefale kop), wat ‘n effense mooi popgesig gee. Die wenkbroue, neus en wange is in ‘n reguit lyn. Persiese katte het kort, stewige bene en hulle verkies om hulle pote ferm op die grond te hê, anders as die ratse Siamese kat. Hulle treffendste eienskap is egter hulle weelderige lang pels, die langste van enige katras, wat uit ‘n lang bo- en onderpels bestaan.

Die Persiese Kat is ‘n pragtige ras, bekend en geliefd deur baie en lê graag oral in die huis rond en mooi lyk. Hierdie purrrrrfekte engeltjies bly gelukkig en tevrede saam ander katte, honde en kinders. Na geslagte se gemaklike leefstyl, is hulle glad nie straatwys nie en moet hulle eerder binne gehou word. 

Persiese Katte is vatbaar vir polisistiese niersiekte – waar siste binne die niere vorm en weefsel vernietig – en nierversaking veroorsaak. Veertig persent van Persiese katte word daardeur geraak en daarom moet hulle maar gereeld gemonitor word. Hulle is ook geneig om ‘n hele klomp ander potensiële gesondheidsprobleme op te doen, veral as gevolg van hulle plat gesigte, bv. asemhalingsprobleme (wat’n gesnorkery kan veroorsaak a.g.v smal neusgate), oogkondisies (bv. “Cherry eye” en uitermatige trane) en hitte sensitiwiteit.  

Dis nie maklik om ‘n Persiese kat se pels mooi te hou nie. Hulle moet gereeld gebad en geborsel word. Party mense verkies om hulle te skeer of om ‘n hele “leeu-snit” te gee. Afgesien van die gereelde ondersoeke en dat dit nie maklik is om hulle pels te versorg nie, is hulle die perfekte, vriendelike huiskat.  

Ras: Persiese Kat

Land:  Persië (hedendaagse Iran)

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 25 cm – 38 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: 4 – 6 kg

Lewensverwagting: 15 – 20 jaar (as binnenshuis)

Oefeningsbehoeftes: Die Persiese Kat is nie bekend vir hoëgraad of stram oefening nie, so hou maar ‘n ogie op die gewig.

Soortgelyke Rasse: Peke-gesig en Popgesig Persiese kat, Himalayakat.

Hulpverlenings in Suid-Afrika: https://persianrescue.wordpress.com/ of http://persian.rescueme.org/za

Scroll to Top