Die Franse Bulhond - Feite en Geite

Die Franse Bulhond – Feite en Geite

Die Franse Bulhond, ook bekend as die beminlike ‘Frenchie’, is regtig goed met sit en oulik wees. Hulle stomp neuse en oulike gesnorkery is onweerstaanbaar! Meeste mense met Frenchies behandel hulle soos familie en bederf hulle tot in die afgrond.

Daar word gemeen dat die Franse Bulhond eintlik ‘n afstammeling van die Tibettaanse of Asiatiese bulhond is. Die Asiatiese bulhond is heel waarskynlik na Engeland uitgevoer deur die Fenisiërs. Telings met verskeie terriërs het geleidelik die ras se grootte verminder. Toe dié honderas rondom 1850 sy verskyning in Frankryk gemaak het, het dit reeds sekere oorkomste met die hedendaagse Franse Bulhond gehad. Daaropvolgende kruistelings met die Mopshond (Pug) en ander rasse het bygedra tot vandag se model.

Fransies kom in verskillende kleure voor, insluitend vaalbruin, room, verskeie skakerings van bruin/grys spikkels, soliede swart, swart-en-wit en geelbruin. Fransies het ‘n bragisefale gesig, menende ‘n kort neus. Hulle het kort stewige bene met ‘n swaar bolyf, daarom kan hulle nie swem nie. Fransies het oulike, astrante vlermuisagtige ore, wat aan hulle daai kottige voorkoms gee.

Fransies is wonderlike metgeselle en hou daarvan om naby hulle eienaar en geliefdes te wees. Hulle het nie baie oefening nodig nie en alhoewel hulle wonderlike woonsteldiere sal uitmaak, het hulle tog daaglikse stappies nodig. Party het hoër energievlakke as ander en mag dalk meer wil rondhardloop en vir ure aaneen speel. Hulle het ‘n kort pels en daarom is dit vreeslik maklik om te versorg. Maak seker die plooie om die oë is altyd droog en vry van enige vog. 

As gevolg van hulle plat gesigte, haal Fransies nie maklik asem nie en daarom moet jy veral spesiale voorsorg tref in warm weerstoestande. Hulle is ook geneig tot skildklierprobleme, oogirritasies, uitpeuloë, cherry eyes (uitstulping van traanklier), verlengde sagte verhemelte (Bragisefaalse Sindroom) en rugmurgsiekte. Hulle kan ongelooflik hardkoppig wees en dit kan moeilik wees om hulle te leer, maar hulle sal nooit byt nie. Hulle is meer geïnteresseerd om liefde te ontvang as om te gee en is graag die baas van die huis. Fransies is wonderlike gesinshonde en al wat nodig is is ‘n gereelde maagkrap en hulle sal jou vir ewig liefhê.

Ras: Franse Bulhond

Land: Frankryk

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 25 – 35 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: 8 – 14 kg

Lewensverwagting: 10 – 14 jaar

Oefeningsbehoeftes:  Daaglikse stappies

Soortgelyke Rasse: Engelse Bulhond, Boston Terriër

Hulpverlenings in Suid-Afrika: http://frenchbulldog.rescueme.org/za or https://www.facebook.com/www.frenchienetworksa.co.za/

 

Scroll to Top