Basterbrakke - Feite en geite

Hoekom eerder ‘n Basterbrak?

Daar’s ‘n rede hoekom gekruisde honde se bynaam “pavement specials” is – oor die algemeen is dit waar hulle verwek word. As jy enige DBV of dierehawe besoek, sal daar beslis ‘n hele klomp opreggeteelde honde wees, maar die meerderheid sal van gemengde rasse wees. Basterbrakke kom van die systrate en agterstegies van mense wat óf nie omgee nie óf dit nie kan bekostig om hulle honde te steriliseer nie.

Die goeie dink hiervan is dat gemengde rasse nou meer volop as ooit tevore is, so hier volg hoekom jy dit moet oorweeg om ‘n basterbrak aan te neem.

Enig-in-sy-soort beste maat

Basterbrakke is volop, maar jy sal nooit twee kry met dieselfde gene nie. ‘n Basterbrakkie is ‘n spesiale geskenk net vir jou. Nie een brakkie is dieselfde nie. Elkeen is ‘n unieke, spesiaal-gemengde resep wat net een maal gemaak kan word, ‘n kosbare skat.

Beter gene

Die waarskynlikheid is groot dat die basterbrakke wat jy by die dierehawe sien nie van twee verskillende opreggeteelde ouers kom nie, maar van ander basterouers. Hulle gene is wydverspreid en verskillend, dus sal hulle eienskappe nie net ‘n verrassing wees nie, maar ‘n groot verrassing. Baie mense sal sê dat gekruisde honde beter vaar as opreggeteelde honde, siende dat hulle ‘n verweefde poel gene het wat hulle gestel op ‘n manier sterker maak. Hierdie mening is egter nog glad nie bewys nie.

Opreggeteelde rasse is dikwels die resultaat van geselekteerde teling en onderteling om gewilde eienskappe te versterk en ongewenste eienskappe uit te teel. Dit beperk egter die genepoel, wat ook rasspesifieke gesondheidsprobleme kan veroorsaak.

Net omdat jou basterbrak geneties gesond mag wees, beteken nie dat jy sy dieet en gesondheid moet afskeep nie. Gee vir hom hoëkwaliteit kos en aanvullings en gaan gereeld veearts toe vir ‘n ondersoek. ALLE honde verdien kwaliteit gesondheid en ‘n lang en gelukkige lewe!

Red ‘n lewe

Meeste basterbrakkies begin hul lewens as ongewenste hondjies. Mense gaan nie doelbewus rond om basterbrakke te teel nie. Ongewenste basterwerpsels word sommer in ‘n boks op die voorstoep van ‘n dierehawe gelos, of langs die pad gegooi. Hierdie skattebolle wag om aangeneem te word, so gaan soek jou perfekte ‘pavement special’ en weet dat jy nie net ‘n lewe red nie, maar ook plek maak vir die volgende optelhond – dus spaar jy sommer twee lewens!

Aanpasbaar soos min

Jou basterbrak sal heel waarskynlik baie aanpasbaar en sorgeloos wees. As gevolg van sy gemengde voorgeslag, sal hy nie geneties geprogrammeerd wees om ‘n bepaalde gedrag of eienskappe te hê nie. ‘n Herdershond is byvoorbeeld een van die mees intelligente honderasse en kort amper konstante verstandelike en fisiese stimulasie om sy volle potensiaal te bereik. Daar is baie spesifieke gene op die spel. Dieselfde geld vir pointers, terriërs en ander dienshonde wat verwoestend raak as hul geneties-gedefinieerde gedrag nie gestimuleer word nie.

‘n Basterbrak se gedrag sal heel waarskynlik gematig wees en sal gelukkig wees om net bloot naby jou te wees en te doen wat ookal jy doen. Hy sal floreer op enige aandag wat jy mag gee. Julle sal baie maklik bymekaar aanpas en van die begin af beste pêlle wees.

Spaar geld

Dit sal jou baie goedkoper uitwerk om ‘n basterbrak te kry as ‘n opreggeteelde hond. Jou aannemingsfooie sal inentings, ontwurming, sterilisasie en ‘n mikroskyfie insluit. Indien jou nuwe basterbrak sterk gene het, sal jy ook nie sommer baie hoef uit te haal op veeartsonkostes later in sy lewe nie.

Gaan besoek ‘n plaaslike dierehawe en kies ‘n ou basterbrakkie wat tot jou hart praat. As jy ‘n volwasse brak kies, is dit wonderlik – jou nuwe woef sal vir ewig dankbaar wees. As jy ‘n baba ‘pavement special’ kies, baie geluk! Moenie te rigied wees in jou verwagtings nie – wees lief vir jou brak en hy sal jou tienvouding terug liefhê.

Scroll to Top