Hierdie tyd van die jaar kry ons sommer ‘n huppel in die stap wanneer ons sien hoe die bome, blomme en gras weer nuwe lewe kry! Soveel prag, maar aitog, ook soveel niesbuie! Allergieë affekteer meeste van ons, insluitend jou kattemaat. Jy sal nou baie katte sien wat nies en hyg en met tranerige oë en jeukerige ore rondloop. Party het selfs veluitslae, alles as gevolg van allergieë.
Meeste katte kan vir meer as een ding allergies wees, alhoewel dit net een ding vat om hulle oor die allergiedrumpel te stoot en simptome te begin wys. Op die oomblik is die vlak van stuifmeel baie hoog en dit mag net die ding wees om simptome te ontlok. Selfs binnenshuise katte kan aan stuifmeel blootgestel word deur oop deure en vensters, of deur hulle eienaar wat heeldag buite was.
Algemene allergiesimptome by katte
- Tranerige oë
- Niesbuie – nes ons
- Sekondêre Herpes (koorsblare)
- Jeukerige ore met klein rooi, jeukende kolle in die kaal area by die ore.
- Uitermatige velkwale
- Oormatige selfversorging, haarverlies en selfopgelegde trauma.
Wanneer is dit nodig om jou veearts oor jou kat se allergieë te besoek?
‘n Veearts moet altyd geraadpleeg word sodra jou kat abnormaal optree, bv. verlies aan eetlus, lusteloosheid of as daar gekleurde afskeiding uit die oë of neus kom. Gaan sien jou veearts sodra jy ontsteekte plekkies op die vel sien of wanneer dit lyk asof jou kat uitermatig jeuk. Soos by mense, verlig behandeling slegs die simptome. As jou kat egter ‘n ernstige siekte onder lede het as gevolg van die allergie, mag addisionele diagnose en behandeling nodig wees om sy ongemak te verlig.
Indien die allergieë nie te erg is nie, bv. ‘n bietjie niesery, ietwat tranerige oë of effens jeukerige ore, kan jy wag dat die weer verander en kyk of die simptome weggaan. Katte is nie klakouse nie, so as hulle nie normaal eet nie of die simptome hou aan, kontak jou veearts vir ‘n afspraak.

