(24 Mei 2021) Asof ons hondemaats enigsins ongeloofliker kan wees, het ‘n nuwe studie nou bewys dat bio-opsporingshonde die vermoë het om SARS-CoV-2 in ‘n COVID-19-positiewe persoon te identifiseer. Hoe? Deur middel van die unieke reuk wat ‘n besmette persoon se liggaam afskei. Die honde is 94% akkuraat en spoor dit blitsig op (onder 1 sekond), wat beteken dat hierdie mediese snuffelhonde baie vinniger is as die PKR (Polimerase-kettingreaksiemetode) en laterale vloeitoetse.
Wie doen die hondeopsporing?
In die Verenigde Koninkryk, het die Medical Detection Dogs in samewerking met die London School of Hygiene & Tropical Medicine en Durham Universiteit in 2020 met opleiding en toetse begin om te sien of honde vinnig en akkuraat kon bepaal of ‘n persoon positief is met SARS-CoV-2. Dis alombekend dat honde siektes soos kanker, diabetes, malaria en selfs Parkinson’s kan opspoor, so hoekom nie COVID-19 nie? Elkeen van hierdie siektes het ‘n unieke ‘reuk-“signature“‘ as gevolg van die veranderinge in die liggaamsreuk van die besmette persoon. In mediese opsporing word honde opgelei om die spesifieke liggaamsreuk te herken en dan aan hulle hanteerder uit te wys as hulle die reuk op ‘n persoon bemerk.
Hoe is die honde opgelei om COVID-19 op te spoor?
Ses honde is in die Medical Detection Dogs -proeflopies vir hierdie program gebruik – Lexie, Tala, Marlow, Asher, Millie en Kip (waarvan twee van vroeër mishandeling gered is). Hulle is oor ‘n tydperk van agt weke opgelei om SARS-CoV-2 op maskers en klerasie soos kouse en T-hemde op te spoor wat deur COVID-19 pasiënte gedra is. Na hulle opleiding is die honde in ‘n dubbel-geblinde toets op die proef gestel. Selfs die hondehanteerders en toetstegnici het geen idee gehad watter monsters positief of negatief was nie; die rede hiervoor sodat hulle nie eens die geringste wenk aan die honde gedurende die toets kon gee nie. Die honde het ‘n positiewe opsporingsyfer van 94% behaal, wat enorme implikasies inhou in die gebruik van honde as skanderingsagente van COVID-19 in publieke plekke.
Hoekom honde gebruik om COVID-19 op te spoor?
Die idee daaragter om bio-opsporingshonde te gebruik vir die skandering van COVID-19 is omdat dit ‘n vinnige en akkurate manier is om groot getalle mense te skandeer. Medical Detection Dogs sê dat die honde by lughawens en ander plekke waar groot groepe mense bymekaarkom, soos konserte, werksplekke, teaters en sportsgeleenthede, ontplooi word. Snuffelhonde is alreeds ‘n algemene gesig op lughawens, maar vir heel ander redes. Dit sal dus nie ongewoon wees om bio-opsporingshonde ook daar te sien nie. Siende dat dit honde slegs minder as ‘n sekond neem om SARS-CoV-2 te bespeur, sal dit twee honde minder as ‘n halfuur neem om 300 mense te skandeer wat van die vliegtuig afkom. So? Dit beteken dat die honde op ‘n vinnige, akkurate en ingreepsvrye manier mense vir COVID-19 kan skandeer, veral diegene met simptome. Die idee is nie dat die honde PKR-toetse vervang nie, maar dat hulle ‘n akkurate skanderingsmeganisme is om toetse vooruit te gaan. Slegs diegene wat as positief uitgesnuffel is sal dan getoets word vir COVID deur die PKR-toetse te gebruik, wat ongelooflik baie tyd en geld sal spaar.
Maar is dit veilig vir die honde en hanteerders?
Die honde wat deur die Medical Detection Dogs-organisasie opgelei word, word soos koninklikes behandel. Hulle leef saam met hul opleidingspersoneel of vrywilligers en daar is streng protokol in plek om te verseker dat hulle gesond bly. Die honde het ook geen kontak met mense wat met COVID-19 besmet is nie, maar selfs al het hulle, is dit wetenskaplik bewys dat honde nie vir hierdie siekte ontvanklik is nie. Vandat die honde geleer word om iemand met COVID-19 se liggaamsreuk uit te snuffel, werk hulle met kleremonsters, nie met die lewende virus nie, so enige risiko wat die hond of hul hanteerders mag hê om besmet te word, is uiters skraal.
Wil die honde hierdie tipe werk doen?
Die honde wat opgelei word om vir COVID-19 te skandeer, is gundog-rasse, met nuuskierigheid, reukvermoë en opsporing deel van hulle DNS. Hul reuksintuie is 100 000 keer sterker as die van mense, so gedurende opleiding en toetse sit hulle nie net hierdie sintuie aan die werk nie, maar hulle word ook daarvoor beloon. Dit is fisiese en verstandelike stimulasie op sy beste!
Hierdie suksesvolle toetse moet nog kollegiale oorsig/resensie deurgaan, maar die Medical Detection Dogs-organisasie is hoopvol vir COVID-19 bio-opsporing in die toekoms en dat meer honde vir hierdie belangrike werk opgelei sal kan word.
