Is hase goeie huisdiere?

Hase word geklassifiseer as klein troeteldiere. Hulle is relatief skugter diere met ‘n sagte, weelderige pels. Hierdie gediertetjies is verbasend intelligent en beide kind (gegewe hulle is verantwoordelik en empaties) en grootmens geniet hulle terdeë. Hase leef vir sowat vyf tot 10 jaar, maar met goeie versorging kan hulle tot 15 jaar leef, so hulle vereis volle toewyding. Hulle hou daarvan om naby mense te wees en is baie toegeneë, speels en skoon. Hulle kan selfs potjiedissipline aanleer. 

As jy dit oorweeg om ‘n haas as ‘n gesinstroeteldier aan te skaf, is dit belangrik om te weet wat goed is vir die dier. Dit kan lekker en oulik wees om ‘n klein wolbolletjie te koester en vas te hou, maar dit is noodsaaklik om te weet wat om te verwag en hoe om jou hasie gesond en gelukkig te hou soos wat hy groter en ouer word. Dis altyd die beste om genoeg navorsing te doen voordat jy jou aan ‘n dier verbind, vir beide jou gesin en jou troeteldier. Dit sal enige teleurstellings en gebroke harte voorkom.

Net soos ander troeteldiere, het hase ook hul eie tekortkominge, geneigdhede en persoonlikhede. Jy moet dus eers mooi na jou leefstyl kyk en sien of ‘n haas in jul huishoudelike opset sal inpas, veral omdat hase geneig is om meer broos as katte en honde te wees. As jy nou sou besluit jy’s gereed vir ‘n hasie in die huis, wat is die volgende stappe?

Neem ‘n hasie aan

Skakel die DBV of ander dierewelsynsorganisasies en hoor of hulle dalk ‘n snoesige hasie het wat opsoek is na ‘n huis. Wanneer jy jou hasie huis toe vat, moet daar reeds kos en skuiling gereed wees, en skoon water moet altyd beskikbaar wees. Dit mag dalk ‘n bietjie langer vat, maar begin maar onmiddellik met potjiedissipline. 

Voeding

In teenstelling met jou idee oor Bugs Bunny, moet hooi die grootste deel van jou haas se dieet uitmaak en vars hooi moet ten alle tye beskikbaar wees. Hooi is uiters belangrik vir ‘n haas se dieet omdat dit noodsaaklike vesel bevat vir gesonde vertering. Hooi help ook om die haas se tande te slyt vir goeie tandheelkundige gesondheid. 

Ander stapelvoedsel vir hase is groente soos wortels, selery, chinese kool en blaarslaai. Hase is ook mal oor lekkernye soos appels, frambose, aarbeie, pynappel en piesang. Beperk egter die hoeveelheid omdat té veel suiker nie goed is vir hase nie. Moenie vir hase kool of die “boompies” van broccoli voer nie, want dit kan gas veroorsaak. Vars haaspille kan dien as ‘n dieetaanvulling, veral as dit laag in proteïen is en hoog in vesel. Dis belangrik dat jy ‘n goeie begrip het van ‘n haas se voedingsbehoeftes regdeur sy/haar lewe. 

Tuiste vir jou haas

Hase is baie sosiale diertjies en is mal daaroor om in mense se geselskap te wees, mits hulle mak genoeg is. Hulle hou egter ook van hul eie spasie waar hulle ‘n bietjie alleentyd kan hê en veilig kan voel. Allokeer ‘n plekkie in jou huis wat jou haas se eie persoonlike area sal wees; maak nie saak of dit ‘n hondjie se speelhok of ‘n kartonboks is nie, maak seker dat jou haas veilig en gemaklik sal voel om in te slaap. Hase hou daarvan om in gate of toegemaakte privaatareas te slaap, so oorweeg dalk ‘n koepelbedjie, ‘n tent of ‘n klein hokkie. Sit ‘n sandbak in en begin so gou as moontlik met potjiedissipline. 

Haas-beskut jou huis

Of jou haas nou vrye teuels in die huis gaan hê en of dit in ‘n speelhok, afgesperde area of ‘n hok gaan bly, jy sal steeds jou huis moet beskut vir wanneer jou haas onder toesig oefening kry. Hase is nuuskierige skepsels en is mal daaroor om te kou. Maak seker dat jou haas nie by enige drade, projekte of belangrike papierwerk kan kom nie. En oja, jou huisplante; dit sal binne ‘n oogwink opgevreet word! 

Hantering van jou haas

Hase kan baie sosiaal en liefdevol wees, maar nes honde en katte het elke individuele haas sy eie persoonlikheid. Meeste hase hou nie daarvan om opgetel te word nie en sommige hase is meer afsydig as ander. Probeer eerder om jou haas net eers te streel voordat jy hom dadelik optel. Dit mag dalk ‘n hele ruk neem voordat sy jou genoeg vertrou, maar wie weet, eendag mag sy jou dalk toelaat om haar op te tel wanneer daar ‘n hegte band gesmee is. 

Reis

Hase raak gou gespanne wanneer hulle in ‘n onbekende of nuwe omgewing geplaas word, daarom is dit beter dat ‘n veearts eerder na jou huis kom en jy ‘n troeteldieroppasser beskikbaar het vir wanneer julle met vakansie gaan. As jy ‘n ywerige reisiger is en daarvan hou om die wêreld te verken, of as jy lang ure by die werk is, is ‘n haas heel waarskynlik nie vir jou nie.

Net soos met baie ander troeteldiere, moet jy seker maak jy weet waarvoor jy jouself inlaat. Hase kan tot 15 jaar leef en is ten alle tye van hul eienaars afhanklik. Hase is nie ‘n ‘beginnerstroeteldier’ nie en moenie as ‘n geskenk aan kinders gegee word as hulle nog nie gereed is vir die verantwoordelikheid om na ‘n haas om te sien nie. 

Scroll to Top