Katjies en Tandekry

Katjies en Tandekry – wat om te doen

Kom ons wees maar eerlik, katjies sal aan enigiets kou. So, hoe kan jy jou klein katjie deur hierdie aaklige en pynvolle tandekry-stadium kry?

Soos jou katjie se tande begin deurbreek en groei, kan dit baie pyn en sensitiwiteit in die mond veroorsaak. Die klein babatande kan baie irriterend wees en ongemak veroorsaak, wat weer kan maak dat hulle nie soos altyd wil eet of speel nie. Wees sensitief vir jou katjie se klein en seer bekkie. Moenie te rof met speelgoed speel wanneer dit in haar mond is nie.

As jy jou katjie se tande borsel, moet jy dit liefs vermy totdat die tandekry verby is. Jy wil nie hê dat jou katjie tandeborsel met pyn assosieer nie. Gee sagte kos wat hulle nie sal seermaak wanneer hulle dit byt of kou nie en dink daaraan om ‘n tandering te koop wat spesiaal vir katjies gemaak is.

Nes jong kinders verloor katjies ook hulle tande, maar net op ‘n baie vroeër ouderdom. Katjies begin om hulle tande vanaf nege weke te verloor en hulle volwasse tande is ten volle uitgegroei op vyf tot ses maande. Gedurende hierdie tyd kan jy maar verwag dat jou katjie baie aan jou vingers en tone gaan wil kou. Moenie dit persoonlik vat nie, sy probeer nie stout wees nie; sy wil maar net die ongemak in haar mondjie verlig.

Dit is die perfekte tyd om jou katjie te leer om nie aan goed te kou wat sy nie mag nie. Hier is ‘n paar wenke hoe jy jou katjie kan afleer om te byt.

1. Gee ‘n speelding

Kouspeelgoed is nie net vir honde nie. Daar’s baie speelgoed wat spesiaal vir jou katjie en selfs ouer katte gemaak word. Katjies hou daarvan om met speelgoed te speel en die gespelery laat hulle instink  op ‘n gepaste manier inskop. Julle albei sal dit geniet om jag-en-vang te speel. Daar is verskillende speelgoed wat hulle met die wissel van tande kan help: sommiges kan verkoel word om seer tandvleis te verlig; fermer kougoed om hul kaakspiere te oefen en nylongebaseerde tandespeelgoed.

2. Speel, speel, speel

Lekkerrr, dit is vet pret om met jou katjie te speel, so hou altyd ‘n gunsteling speelding byderhand. Dit sal keer dat jou katjie jou nie aanval en aan jou begin kou nie. Die interaktiewe spelery sal jou katjie ook help om van al die oortollige energie ontslae te raak en terselfdertyd haar krag en balans ontwikkel. Probeer om twee keer per dag vir so 10 – 15 minute, of selfs langer, op ‘n slag te speel. ‘n “Terg”-speelding soos ‘n towerstokkie, is ideaal en sal sommer ook julle band verstewig.   

Loer na ons DIY-towerstokkie vir katte.

3. Hande tuis

Dis belangrik om jou hande van jou katjie se mond weg te hou wanneer jy haar streel, en selfs wanneer julle speel. Moenie jou vingers of hande as ‘n speelding gebruik nie. Dalk moet jy jou hond leer om die kat se speelding vas te hou – maak net seker hulle speel nie té rof vir jou katjie se mond nie.

4. “Eina!” en af

Partykeer kan katjies en katte hulleself so in ‘n speletjie inleef dat hulle jou selfs per ongeluk kan seermaak. Wanneer dit gebeur, sê “Eina!” in ‘n hoë stemtoon sonder om dit te oordoen. Wanneer katte speel en mekaar seermaak, gee die slagoffer instinktief ‘n skril uitroep en die aanvaller tree terug. Jou katjie of kat moet dan op die vloer neergesit word, sodat sy kan leer daar is nagevolge vir byt en rof speel en dat speeltyd nou verby is.

5. Wanneer om die veearts te besoek

Dit gebeur partykeer dat ‘n babatand agterbly, selfs al het die permanente tand langsaan begin uitgroei – meestal met die slagtande. As dit vir meer as ‘n week nog daar bly moet dit deur die veearts getrek word, anders kan dit die ander tande verdring en selfs pyn veroorsaak. Dis altyd ‘n goeie idee dat jou veearts jou kat se tande op ses tot agt maande ondersoek, of wanneer jou kat gesteriliseer word, net om seker te maak al die tande is waar hulle moet wees.

6. Wees voorbereid

Dis seker een van die vreugdevolste oomblikke wanneer jy ‘n katjie kry. Ag ma, hulle is so klein en skattig en so afhanklik! Maar dis maar goed om eerder voorbereid te wees. Hou altyd geskikte kouspeelgoed naby, maak nie saak waar jy is nie. As jy sien jou katjie wil aan iets kou, hou net ‘n speelding uit en sê: “Hier, kou hieraan!” 

Dis baie belangrik dat jy hierdie les op ‘n liefdevolle manier vir hul leer, en wees konsekwent. Uiteindelik sal jou katjie verstaan dat daar net sekere goed is waaraan sy mag kou en byt. As jy nóú met die gedragsafrigting begin, sal jy ‘n standaard stel wat vir jou baie probleme vorentoe gaan spaar.

Scroll to Top