Die Siamese Kat - Feite en Geite

Die Siamese Kat – Feite en Geite

Die Siamese kat is die oudste huiskat en is al vir meer as tien eeue in die omtrek. Hulle is oorspronklik vanaf Thailand (eers bekend as Siam), waar hulle as ‘n aristokratiese kat geteel is. Hulle is as heilig beskou en net Boeddhistiese monnike en koninklike families mag hulle aangehou het. Die Siamese kat is ook gebruik om die tempels op te pas. Gedurende die agtienhonderds het die koninklikes begin om die katte as geskenk aan besoekende Europese afgevaardigers te gee en die wêreld het oploop geraak met hierdie manjefieke kat. Baie mense droom om hierdie elegante kat met sy besonderse oë en treffende voorkoms te hê.

Die Siamese kat is ongelooflik intelligent en glad nie soos jou gewone, rustige, traak-my-nieagtige, ek-wil-heeldag-slaap kat nie. Op baie maniere is ‘n Siamees amper soos om ‘n hond te hê. Hulle is mal daaroor om te speel, is eiewys, vol energie en BAIE verbaal. Hulle hou nie daarvan om geïgnoreer te word nie en sal hulleself vinnig opdring. As ‘n Siamees iets wil doen sál hy, maak nie saak wat die hindernis of gevolge is nie. Die Siamees is bekend vir sy liefdevolle geaardheid en hou daarvan om op skote ‘n slapie te vang en selfs in die nag saam jou in die bed te klim. Siamese is ideaal vir families en hou meer van kinders as van grootmense. Natuurlik moet jy maar altyd ‘n ogie gooi waar kinders betrokke is, vir hulle en jou troeteldier se veiligheid.

Die Siamees is ‘n roomkleurige, korthaar kat met donker merke op die punt van hul ore, bene, stert en snoet. Hulle het ongelooflike lang, maer lywe. Die Siamees is ook bekend vir hul verruklike, amandelvormige, ysblou oë. ‘n Mens kry twee tipes Siamese rasse: tradisionele en moderne. Die tradisionele Siamese kat het ‘n stewiger bou (ronder lyf) met ‘n appelvormige kop. Aan die ander hand het die moderne Siamese kat ‘n hoekige kop en ‘n leniger lyf. Jy sal nooit die verskil agterkom as jy nie die ras baie goed ken nie. Siamese katjies word heeltemal wit gebore en kry eers later hulle puntmerke, nes Dalmatiërs. Daar’s heelwat verskillende Siamese katte: donkerbruin-punt; sjokolade-punt; lila-punt; rooi-punt; skilpad-punt en rooikat-punt. Oor die algemeen is die Siamese kat ‘n pragtige, gesonde ras wat lank lewe. Hulle is ideaal vir die binnenshuise lewe, maar jy moet gereeld met hulle speel en elke dag aandag gee.

Ras: Siamese Kat

Land: Thailand 

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 2.5 kg – 4.5 kg

Gemiddelde Volwasse Gewig: 53 cm – 58 cm

Lewensverwagting: 14 – 20 jaar 

Oefeningsbehoeftes: Daaglikse speletjies in die huis

Soortgelyke Rasse: Balinese Kat en die Oosterse kat

Hulpverlenings in Suid-Afrika: http://siamese.rescueme.org/za

Scroll to Top