Koue Maande - help jou troeteldier met Artritis

Koue Maande – Help jou troeteldier met artritis

Meeste troeteldiere, insluitend katte, ly aan artritis. As jy self artritis het, sal jy weet dat die geringste koue die pyn vererger, om nie eens van die wintertye te praat nie! So, hoekom help jy nie jou arme diere deur hulle so gemaklik en pynloos as moontlik in die koue tye te hou nie?

Wat is artritis?

Artritis, ook bekend as osteoartritis (gewrigsontsteking), kan deur baie faktore veroorsaak word: vorige trauma, degeneratiewe siekte, ontwikkelingsversteurings en infeksie. Hierdie is maar net ‘n paar van die mees algemene oorsake van pynvolle gewrigte. Meeste mense dink dit kom net by ouer troeteldiere voor, maar dis nie waar nie, jonger diere kan dit ook oorkom. 

Wat is die simptome?

  • Stadiger staan en sit
  • Hinkepink
  • Beweeg moeilik rond
  • Ruggraatprobleme
  • Moegheid
  • Spieratrofie – verlies van spierweefsel as gevolg van onaktiwiteit en minder gebruik van die spiere

Wat kan jy doen om te help?

Ongelukkig is artritis ongeneesbaar, maar daar is ‘n paar maniere en metodes om die pyn te help verlig, soos om die veearts gereeld te besoek en jou troeteldier se pyn te monitor. Vra ook die veearts uit oor jou ouer troeteldier se voedingsbehoeftes en hoe jy hulle pyn kan help verlig en hom gemaklik hou.

Dis baie moeilik om te weet wanneer katte artritis het, omdat hulle nie sommer enige kwale wys nie. Katte moet sorgvuldiger gemonitor word en moet ook die veearts meer besoek. Katte se aktiwiteitsvlak kan afneem as gevolg van die erge pyn wat artritis kan veroorsaak. 

Daar is baie maniere hoe jy jou troeteldier kan help om minder pyn te hê en gemakliker te wees: 

Ouer troeteldiere met artritis raak styf wanneer dit koud is en dis daarom baie belangrik om hulle warm te hou, veral rondom die gewrigte.

Handige wenke

  1. Verhit ‘n warmsak in die mikrogolfoond en sit dit in jou troeteldier se mandjie in die nag of in sy hok gedurende die dag.
  2. Sodra jou troeteldier gaan inlê het vir die nag, kan jy ‘n lekker dik kombers oor hulle gooi.
  3. Daar is verskeie soorte warmsakke, elektriese komberse en warmwaterbottels om jou baba warm te hou. Maak net seker dis veilig en dat jou troeteldier dit nie uitmekaar skeur of stukkend byt nie. Veiligheid kom altyd eerste!
  4. Sit ‘n verwarmingslamp in jou troeteldier se mandjie of hok – maak seker dat daar nie aan die lamp of draad gekou kan word en jou troeteldier seerkry nie.
  5. Afhangende van jou troeteldier se ras en tipe pels, mag dit dalk nodig wees om vir hulle ‘n trui in die winter aan te trek.
  6. Maak seker die hok is uit die wind en dat dit met ‘n kombers toegemaak is.
  7. As jou hond gedurende die dag in sy hog is, kan jy die mandjie/hok vanaf die ysige vloer lig en isolerende materiaal soos strooi, borrelplastiek of karton onder die hok sit om die koue af te keer. Jy kan ook ‘n warmwatersak in die gaping sit vir ondervloerse verhitting op ‘n besondere koue dag.
  8. Onthou, as dit nie vir jou warm genoeg is om ‘n nag in te spandeer nie, is die hok ook nie warm genoeg vir jou hond nie.

Dit is nie meer aanvaarbaar om honde in die wintertyd buite te laat slaap nie. Gee vir hulle ‘n spesiale plekkie waar hulle gedurende die nag binne kan slaap – nie net sal dit jou hond se artritis verlig nie, maar jy sal sy hart warm maak deur hom by die gesinspasie in te sluit. Bly warm!

Scroll to Top