Veiligheidswenke - Maak jou huis troeteldierbestand

Maak jou huis troeteldierbestand

Dis so opwindend! Een van die dae het jy ‘n nuwe vierbeenbaba en jy wil voorbereid wees op alles wat mag gebeur. Jou nuwe kleinding gaan baie bang wees en gaan op jou staatmaak om hom veilig te laat voel. Jy wil hê dat hy jou vertrou en gemaklik voel in sy nuwe omgewing sodat hy kan groot word met selfvertroue, lojaliteit en trots. Hier is ‘n paar wenke om jou te help: 

Maak jou huis troeteldierbestand

Voordat jou nuwe troeteldier arriveer, moet jy eers rondkyk of daar nie enige gevaarlike voorwerpe rondlê wat hulle kan seermaak nie. Onthou, dit gaan vir hulle ‘n nuwe omgewing wees en hulle sal graag wil verken… ORALS!

Neem veral kennis van die volgende moontlike gevare: 

  • Verwyder potensieel giftige plante.
  • Hou alle medikasie en skoonheidsprodukte in ‘n geslote kabinet.
  • Hou asblikke toe of bêre dit hoog genoeg waar dit nie bygekom kan word nie.
  • Hou toiletbakke toe en baddens en wasbakke leeg om verdrinking te voorkom.
  • Voorkom dat elektriese kabels stukkend gekou word of dat jou troeteldier geskok word, deur kabelverbloemers of selfs PVC-pype te gebruik. Kabels kan ook deur ‘n spiraal kabelbekleedsel gesit word. 
  • Hou deure en vensters toe. Maak seker dat dit behoorlik vas en heel is sodat jou kleinding nie deurval of ontsnap nie.
  • Maak seker dat jou swembad altyd bedek is of dat die heining toe is.

Hierdie is net ‘n paar wenke en jy sal meeste van die tyd ‘n ogie moet gooi – veral gedurende die eerste paar maande – totdat jou hondjie of katjie hulleself lekker tuisgemaak het en weet wat hulle mag en nie mag doen nie. Onthou, dis net soos om ‘n kleuter in die huis te hê wat oral ronddwaal, verken en dinge aanvang wat hulle kan seermaak. Maar geniet hierdie tyd, hulle word so gou groot!

Uiteindelik is jou kleinding by die huis! Wat nou?

1. Besoek die veearts

Eerste dinge eerste. Selfs al het jy jou nuwe gesinslid as ‘n gesonde hondjie of katjie huis toe gebring, is dit steeds belangrik om haar veearts toe te vat vir ‘n ondersoek. ‘n Aangenome of geredde troeteldier sal alreeds hul inentings, ontwurming en mikroskyfie gekry het, maar as jy hiervoor verantwoordelik is is dit nou ‘n goeie tyd om dit te doen.

Jy sal ‘n inentingskaart kry wat jy altyd moet saamneem wanneer jy met jou troeteldier reis. Maak seker dat jy altyd op datum is met die inentings. Dis ook baie belangrik om vir jou nuwe troeteldier ‘n mikroskyfie te laat insit. Baie katjies en hondjies ontsnap of word gesteel – ‘n mikroskyfie is die beste kans wat jy het om jou geliefde wolbaba terug te kry as sy by die DBV of ‘n veearts sou opeindig.

Gebruik die geleentheid om deskundige advies te kry oor die beste hondjie- en katjiekos vir jou nuwe kleinding. Vind ook uit hoe gereeld hulle gevoer moet word en wanneer jy weer moet inkom vir die volgende inentings en ontwurming.

2. Eerste tuiskoms

Jou bondeltjie vreugde se eerste dag is vir julle albei ‘n groot geleentheid vol splinternuwe ervarings. Dit kan vir hom angswekkend wees. Hy’t jou nou net ontmoet en nou word hy al bekend gestel aan ‘n totaal nuwe, groot, onbekende omgewing. Dis ‘n GROOT aanpassing: groot kamers, verskillende reuke en niks wat bekend is nie. Maak nie saak of jou wolbaba van ‘n veiligheidshawe of ‘n teler is nie, hy gaan jou nodig hê om hom te beskerm wanneer hy bang is en sy mamma of maatjies mis. Stel hom stadig en geduldig aan alles bekend. Sak neer op die vloer en sien alles deur sy oë.

Maak hom gemaklik in sy nuwe bedjie en gee elke dag op dieselfde plek vir hom kos en water. Hy sal sekuriteit in hierdie roetine vind. Mettertyd sal hy vertroud raak met elke vertrek in die huis.

Noudat jou kleinding aan sy nuwe huis bekendgestel is, is dit tyd om die mense te ontmoet – een-een op ‘n slag. Laat die persoon sit of staan en laat jou kleinding na hulle toe gaan. As die persoon eerste toenadering soek, kan dit vir hom baie oorweldigend wees. Hy sal self nader aan die persoon kom as hy gereed is en met elke positiewe interaksie sal sy vertroue toeneem.

Nadat jou kleinding al die mense ontmoet het, is dit tyd om die ander troeteldiere te ontmoet – lees ons artikel oor hoe mens dit behoorlik kan doen.

3. Slaaptyd – Die eerste aand

Wat ‘n GROOT dag! Nadat jou kleinding aan sy nuwe huis, familie en troeteldiere bekend gestel is, sal hy doodmoeg wees! Nes babas, sal jou kleinding baie slaap en dis belangrik dat hulle veilig voel wanneer hulle slaap. Hy sal die veiligheid en gemak van jou teenwoordigheid verkies en sal nie daarvan hou om van jou geskei te wees nie. Tot dusver het hy die geselskap van sy boeties en sussies gehad, so hy mag bang en alleen voel op sy eerste aand by die huis.

Gee vir jou hondjie ‘n lekker groot, sagte teddiebeer en bly by hom totdat hy aan die slaap raak. Paai hom gereeld as hy bang is. Katjies is ‘n bietjie brawer en sal waarskynlik naby jou slaap of selfs bo-op jou.

4. Potjie-parade – ‘n moeilike een

Die oomblik wat jou hondjie by die huis aangekom het, het hy waarskynlik oral plassies water agtergelaat. Huisopleiding kan onmiddellik begin. Lees gerus ons artikel oor hoe om jou hondjie en katjie reg te leer.

Onthou dat goeie huisopleiding op ‘n positiewe wyse moet geskied. Wees geduldig en volg ‘n roetine. Maak jou kat se sandboks gereeld skoon.

5. Speelgoed

Hondjies en katjies is lief vir nuwe speletjies en speelgoed. Hulle sal binnekort begin tande kry en is geneig om jou meubels, skoene, plante en soveel meer te verwoes. As jy vir hulle speelgoed gee en met hulle speletjies speel, sal dit hulle besig hou en ook sommer vinniger moeg maak. Hopelik sal dit jou help om ‘n baar waardevolle huisartikels te red. Hier is ‘n oulike skakel vir DIY-speelgoed vir honde en katte wat jou nie net ‘n paar sent sal spaar nie, maar wat jy ook sal geniet om te maak.

6. Harde, bangmaak geluide

Donderweer en vuurwerke kan vir jou kleinding baie vreesaanjaend wees. Dit is natuurlik om bang te wees en sy oorlewingsinstink sal maak dat hy wil weghardloop. Honde en katte beleef die wêreld deur hulle sintuie (neus, ore en oë). Hier is ‘n paar wenke om jou en jou troeteldier deur hierdie tye te help:

Voorbereiding: Kry ‘n vertrek in die huis waar die geraas nie so erg is nie, bv. die TV-kamer waar die TV of radio hulle aandag kan aflei.

Voorsien ‘n gemaklike bed waar hulle naby jou of ‘n vriend kan lê. Katte verkies om in ‘n kas of ‘n toe spasie weg te kruip. Maak seker dat daar altyd sulke plekke beskikbaar is en dat jy weet waar om te soek.

Akklimatisering: Die beste manier om seker te maak dat jou troeteldier in sulke tye okei is, is om hulle aan harde geluide gewoond te maak. Dit kan tot met drie tot vier maande vat, maar hou aan probeer. Speel klankopnames van vuurwerke en donderstorms en sit die volume stadig harder.

Verdowing: Party diere kan regtig net nie die geluide van vuurwerke hanteer nie en hulle kan hulleself seermaak terwyl hulle probeer ontsnap. Gesels met jou veearts oor ‘n behoorllike verdowing vir wanneer jy weet daar gaan ‘n storm of vuurwerke wees. Jou veearts sal weet wat ‘n veilige dosis is volgens jou troeteldier se gewig en gesondheid.

Kommunikasie: Wanneer daar vuurwerke of ‘n donderstorm is, is dit belangrik dat jy jou kleinding in ‘n kalm en rustige stem paai. Jou troeteldier is sensitief vir jou emosies, so wees kalm en hulle sal ontspan. 

Sodra al die plof-, sweep-, en klapgeluide verby is, sal jou kleinding bly wees dat hy ‘n veilige hawe gehad het. 

7. Sterilisasie 

Jou kleinding bereik adolessensie op ses maande en kan dan al swanger word. Dis reg, jou ses maand oue baba kan ‘n baba kry. Veeartse stel voor dat jou troeteldiere gesteriliseer word voordat hulle op hitte gaan en chaos veroorsaak. Dis is ook beter vir hulle gesondheid, help in die voorkoming van kanker en keer dat hulle rondloop.

Daar is so baie honde en katte wat nie huise het nie as gevolg van onverantwoordelike troeteldiereienaars wat nie hulle diere gesteriliseer het nie. Wees een van die verantwoordelikes en steriliseer jou troeteldier voordat jy vir haar babas ook moet huis soek.

8. Sosialisering – Die beste manier om met jou woef ‘n band te vorm

Honde is mal oor sosialisering en om speletjies te speel. Dit bou ‘n band tussen jou en jou woef, een wat vir ‘n leeftyd sal hou. Jou hondjie sal jou meer vertrou en dit geniet om in jou geselskap te wees. Hierdie is ook die beste tyd om hulle te leer om met ander honde oor die weg te kom. Dis sal help om territoriale, bang en aggressiewe gedrag te voorkom en sal uitstappies en speeldae vir almal lekker maak. 

Hondeskool is ‘n wonderlike manier om jou hondjie te leer sosialiseer en hom terselfdertyd maniere en toertjies te leer. 

9. Onvoorwaardelike liefde

Jy het jou klein harebol gekies en dit is daarom jou verantwoordelikheid om te sorg dat hulle daagliks skoon water en kos het. Maar die belangrikste van als is dat jy julle moet liefhê! Hulle sal jou aandag dubbelvoudig teruggee in die vorm van onvoorwaardelike liefde: hulle sal altyd eerste wees om jou te groet; die eerste een wees wat jy sien wanneer jy jou oë oopmaak en hulle sal daar wees wanneer niemand anders is nie! Hulle vergewe, vergeet en het ALTYD lief. Kyk na hulle, elke liewe een is spesiaal. Waardeer hulle en wees jou troeteldier se grootste held. 

Scroll to Top