Senior honde - gedragsveranderinge

Senior Honde – Gedragsveranderinge

As daar nou een ding is wat elke hondeliefhebber vir hul kosbare dierekinders toewens, is dit dat hulle vir altyd sal lewe. Ongelukkig is veroudering onafwendbaar en die hartseer deel is dat ons troeteldiere baie vinniger ouer word as ons. Omdat ons ons troeteldiere elke dag sien, kom ons nie die subtiele veranderinge agter nie. Die volgende sal jou egter ‘n beter idee gee waarvoor om uit te kyk.

Soos wat jou hond sy “goue jare” betree, sal hy deur baie fisiese en sielkundige veranderinge gaan. Met tyd sal hulle geheue, sig, gehoor, algemene oplettendheid en leervermoë afneem. Veroudering kan ook hulle sosiale omgang met ander honde verander, asook hulle vermoë om ‘n draaitjie te loop. As jy hierdie veranderinge verstaan, sal dit jou help om hierdie potensiële probleme effektief en met meegevoel te hanteer. 

Laat weet jou veearts van enige veranderinge wat jy opmerk. Moenie net aanneem dat ‘n verandering (groot of klein) in jou hond se gewone patroon ouderdomsverwant is nie. Baie veranderinge kan ‘n teken van behandelbare mediese toestande wees. Daar is verskeie behandelings wat jou hond gemaklik kan hou en sy simptome kan beheer, insluitend enige pyn wat hy mag ervaar. Kyk ook na jou hond se voedingsbehoeftes, siende dat dit verander soos wat hulle ouer word. Hoor ook by jou veearts watter hondekos en aanvullings jou hond nodig het om ‘n bietjie meer gemaklik te wees.

Hier is ‘n paar gedragsveranderinge om voor uit te kyk:

1. Verlies aan eetlus

Jy kry daai honde wat altyd mal sal wees oor hulle kos, terwyl ander met tye net nie kan omgee nie. Dit is normaal en kan deur heelwat dinge veroorsaak word, MAAR as dit ‘n skielike verandering in jou hond se eetgewoontes is, moet jy eerder jou veearts besoek. Dit kan ‘n teken van iets ernstigs wees, soos infeksie of lewer- en nierprobleme. Die volgende is ‘n paar redes hoekom jou hond sy/haar eetlus mag verloor:

  • afstomping van die smaak- en reuksintuie
  • stadiger metabolisme
  • tandheelkundige probleme, soos absesse of tandbederf
  • kognitiewe agteruitgang by honde (oftewel ‘Honde-demensie’)

2. Rusteloosheid en slapeloosheid 

Slapeloosheid en rusteloosheid is baie algemeen onder ouer honde en heelwat redes kan hiervoor verantwoordelik wees, insluitend:

  • pyn of ongemak
  • angs
  • inkontinensie (blaasbeheer)
  • gebrek aan oefening – fisiese en verstandelike stimulasie
  • kognitiewe agteruitgang by honde (oftewel ‘Honde-demensie’)

3. ‘Ongelukkies’ in die huis

Dit maak nie saak hoe goed jy jou woef geleer het nie, ongelukkies kan steeds gebeur. Inkontinensie is veral algemeen onder ouer tewe, maar dit kan ook met reune gebeur. Daar is twee redes hoekom jou hond in die huis mag vuilmaak:

  • kognitiewe agteruitgang by honde (oftewel ‘Honde-demensie’)
  • siektes of kwale

4. Angs en vreesagtigheid

Jou eens op ’n tyd selfversekerde hondjie mag selfvertroue verloor soos wat hy ouer word. ‘n Sekere situasie of fisiese en sielkundige veranderinge kan angs veroorsaak. Jou hond mag skielik bang raak vir dinge wat sy hele lewe lank bekend was, bv. ‘n foon wat lui of skottelgoed wat gewas word. Die volgende kan angs of vreesbevange reaksies in senior honde veroorsaak:

  • afstomping van die sintuie, soos gehoor, sig en reuk
  • kognitiewe agteruitgang by honde (oftewel ‘Honde-demensie’)
  • pyn of ongemak
  • skielike of groot veranderinge in hulle omgewing

5. Geïrriteerde en aggressiewe gedrag

Dis nie so algemeen soos angs nie, maar sommige honde kan meer geïrriteerd, humeurig of aggressief word. Hierdie “ou hond”-gedrag het verskillende intensiteitsvlakke, wat wissel tussen matige geïrriteerdheid tot voluit aggressie. Dit word gewoonlik deur die volgende veroorsaak:

  • pyn en ongemak
  • vrees of angs
  • kognitiewe agteruitgang by honde (oftewel ‘Honde-demensie’)
  • verlies van sintuie soos sig en gehoor

6. Depressie

Ja, honde kan ook depressief raak en as jy jou hond goed ken, sal jy dit ‘n myl ver sien aankom. Probeer agter die kap van die byl kom oor hoekom jou hond so hartseer of teneergedruk is. Vat haar vir stadige, gemaklike wandelings om haar ‘n bietjie op te beur. Dis vir niemand maklik om ouer te word nie en jou hond voel heelwaarskynlik ook nie te opgewonde oor die hele verouderingsproses nie, omdat:

  • hulle pyn mag ervaar;
  • moeg en traag kan voel vir lang periodes; 
  • hulle nie meer hulle kos kan geniet nie;
  • nie meer soos altyd kan hardloop, spring en speel nie (word gou moeg). 

Moenie ophou om met jou ouer hond te speel nie. Oefening en afrigting regdeur hulle lewe, dra ongelooflik baie by tot ‘n ouer hond se gesondheid. Pas oefening en speeltyd aan volgens jou hond se ouderdom en voorkeur. Draai bietjie briek aan as jy sien jou hond hou nie by nie. Hou hulle laer energievlakke, swakker sig en gehoor en enige ander mediese kondisies in gedagte wanneer julle in die park gaan draf. 

Soek lekker maniere om jou hond nuwe en prettige truuks te leer, maar wees geduldig, dit mag dalk ‘n bietjie langer as gewoonlik neem om te leer. As jou hond besig is om sy gehoor te verloor, kan jy tydens speeltyd meer handgebare gebruik. Daar is baie maniere om jou ouer hond se lewe interessant en gestimuleerd te hou, maar onthou, hy sal altyd ontvanklik wees vir jou liefde en begrip.

Scroll to Top