Hokhoes, ook bekend as aansteeklike trageobrongitis en soms genoem ‘bordetella’, is ‘n baie algemene boonste-lugweginfeksie in honde, wat deur ‘n reeks bakterieë en virusse veroorsaak word. Dit kan veroorsaak dat jou hond konstant hoes en klink asof hy aan iets verstik. Alhoewel dit jou groot sal laat skrik, kan jy gerus wees in die feit dat honde baie goed van hokhoes herstel, gegewe dat hulle die regte sorg en liefde ontvang.
Wat veroorsaak hokhoes (kennel cough)?
Interessant genoeg, word hokhoes deur virusse en bakterieë veroorsaak. Virusinfeksies veroorsaak dat honde se immuunstelsel meer vatbaar is vir bakterieë, wat dan weer na bakteriële infeksie lei met gevolglike simptome. Die virale infeksies wat met hokhoes geassosieer word, word veroorsaak deur die parainfluenza virus, canine reovirus, canine adenovirus, canine distemper en canine herpes virus.
Een of meer van hierdie virusse lê die basis vir Bordetella Bronchiseptica, wat die lugweg binnegaan en groot moeilikheid veroorsaak. Dis hoekom hokhoes ook dikwels ‘bordetella’ genoem word.
Hoe versprei dit?
Hokhoes is hoogs aansteeklik en kan vir ses tot 14 weke nadat simptome ontwikkel het, steeds aansteeklik wees. Beide die virale en bakteriële agente van hokhoes word in die lug versprei deur honde wat nies en hoes. Gesonde honde asem dan hierdie lug, wat besmet is met die siek honde se respiratoriese afskeidings, in . Bordetella bronchiseptica kan ‘n gesonde hond se lugweg binnegaan deur middel van sekere stresfaktore, bv. reis, om in ‘n besige omgewing te bly, koue temperature, omgewingsbesoedeling (bv. stof en sigaretrook), of aansteeklike virusse soos hierbo genoem.
Dis daarom geen verrassing dat honde wat in beknopte spasies opgesluit is, veral vatbaar is vir hokhoes nie. Honde wat in hondehotelle of dierehawens oorbly, of selfs by kompeterende geleenthede is waar daar baie ander honde is, is geneig tot Bordetella-infeksie omdat hulle in ‘n besige, spanningsvolle omgewing is wat gewoonlik baie warm of baie koud is.
Hokhoes-simptome
Hokhoes kan die voorste deel van die keel, die larinks, die agterste deel van die keel, die farinks en die tragea (lugpyp), affekteer. As gevolg van al die verskillende virale en bakteriële infeksies, kan ‘n hond met hokhoes een, sommige of al die volgende algemene simptome wys.
- ‘n skielike droë hoes
- nies
- skielike geproesery
- verstikking of braking as gevolg van ‘n ligte aanraking teen die lugpyp (tragea)
- spastiese hoes wanneer die hond opgewonde is of oefen
- nasale afskeidings kan ook voorkom
- koors (soms)
Na blootstelling aan die bakterie, verskyn simptome gewoonlik 14 dae na die tyd. Meestal sal honde met hokhoes aanhou eet en steeds op-en-wakker wees. Sommige gevalle kan ‘n bietjie meer ernstig wees, met diere wat traag word en hul eetlus verloor. In baie ernstige gevalle kan longontsteking (pneumonie) voorkom en in uiterste gevalle kan dit diere se lewens in gevaar stel. Uiterste gevalle vind net plaas in honde met ‘n swak immuniteit of in baie jong hondjies. Dit gebeur nie sommer dat ‘n hond met ‘n sterk immuniteitsisteem doodgaan nie.
Behandeling van hokhoes
Die simptome van hokhoes hou gewoonlik aan vir 10 tot 20 dae en kan weer opduik gedurende stresvolle tye. Meestal kan hokhoes sonder enige medikasie hok geslaan word. Sommige veeartse verkies dat hulle pasiënte se liggame op ‘n natuurlike manier genees. Gesonde honde kan tot en met drie weke neem om volkome te herstel en in die geval van ouer honde, jong hondjies en honde met ‘n swak immuniteit, kan dit twee keer so lank vat.
Dit is BAIE belangrik om ‘n afspraak met jou veearts te maak as jou hond nie binne ‘n week enige beterskap wys nie, of as die hoes vererger. Hou ook jou gesonde honde van jou ‘siek’ hond af weg as jy vermoed hy’t hokhoes – dit is vreeslik aansteeklik.
‘n Hond met hokhoes se lugpyp (tragea) is baie sensitief en daarom kan ‘n halsband baie ongemaklik en ondragend wees. As jy enigsins vermoed jou hond het hokhoes, vermy eerder ‘n halsband en gebruik ‘n harnas wat om die bors vasmaak. ‘n Hond met hokhoes moet nooit aan die nek getrek word nie, want dit sal die hoes aansienlik vererger.
Jy kan help om die simptome te verlig deur die lug te bevog. Hou jou hond se immuniteitsisteem gesond deur hom ‘n hoë-kwaliteit hondekos te voer. Om op datum te wees met jou hond se inentings en ‘n gesonde immuniteitsisteem, bly maar die beste verweer teen hokhoes.

