Skeidingsangs
Meeste mense dink hulle honde is net verveeld en baie stout wanneer hulle tekens van skeidingsangs toon, soos om in die huis te piepie of jou tuin om te dolwe. Jy mag dink dis hulle manier om wraak te neem en jou terug te kry omdat jy hulle alleen by die huis gelos het. Dis egter ver van die waarheid; honde is nie wraaksugtig nie. Dis eerder die geval van ‘n ernstige toestand van paniek en skeidingsangs en van nie weet wat om te doen as jy nie in die omtrek is nie. Maar daar is goeie nuus: met afrigting, aanvullings en baie liefde kan jou hond vir skeidingsangs behandel word.
Tekens van skeidingsangs
Skeidingsangs moenie ligtelik opgeneem word nie. As jou hond regtig aan skeidingsangs ly, kan hy jou besittings en tuin vernietig. Hulle kan selfs verstandelik en liggaamlik seerkry.
Daar’s ‘n baie goeie kans dat jou hond aan skeidingsangs ly as hy die volgende simptome wys: uitermatige kwyling; onophoudelike blaffery; gekerm; vernietiging van artikels in die huis; krapmerke op die mure, deure en vloer; poging om te ontsnap wanneer jy die huis verlaat, ens.
Nagebootste vs ware skeidingsangs
Skeidingsangs is ‘n oordrewe vrees wat honde ervaar wanneer hulle van hul eienaars (tropleiers) geskei word. Dit word ook dikwels by papagaaie, muise en katte gesien. Hulle is bang om alleen gelos te word en kan baie skade aan hulleself en jou eiendom aanrig. Meeste troeteldiereienaars weet nie dat hul honde aan twee verskillende tipe skeidingsangs kan ly nie: nagebootste skeidingsangs en ware skeidingsangs.
Wanneer honde ‘n tekort aan stimulasie en selfbeheer het, kan dit manifesteer in nagebootste skeidingsangs. Hulle wangedra hulleself as gevolg van verveeldheid, amper meer soos ‘n stoute kind wat aandag soek – selfs al is dit negatiewe aandag. Jou hond besef dat hy stout was, maar wanneer jy hom berispe kry hy ten minste aandag vir sy wangedrag – doel bereik!
Wanneer ‘n hond ware stres toon as sy eienaar weg is, is dit ‘n teken van ware skeidingsangs.
Identifisering van ware skeidingsangs
Kyk uit vir een of meer van die volgende tekens wat gebeur wanneer jy nie by die huis is nie:
- Krapmerke op deure en vensters;
- Gekoude meubels, plante ens.;
- Konstante blaffery, gekerm en tjankery (vra jou bure);
- Piepie en vuilmaak binnenshuis;
- Intense of aanhoudende op en af trippelry;
- Pogings om uit ‘n vertrek of hondemandjie te “ontsnap”, selfs al maak hy homself seer;
- Abnormale gedrag wanneer die eienaar afwesig is;
- “Velcro-hond” – Laat nie sy eienaars buite sig nie, eienaars moet selfs die toiletdeur oophou;
- Baie geheg aan een persoon en sien nie eens ander honde en gesinslede raak nie;
- Kliniese tekens begin 30 minute nadat die eienaar vertrek het. Dit kan vir ure aanhou.
- Buitensporige opgewondenheid nadat die eienaar teruggekeer het, ongeag hoe lank hy weg was.
Te min oefening kan ook angs veroorsaak. Honde wat nie gereeld oefening kry nie, stoor hulle energie wat dan opbou en in verskeie gedragsprobleme uitkom. Wanneer jy jou huis verlaat verhoog jou hond se stresvlakke en hy weet nie wat om met al die opgeboude energie te maak nie. Dit sal baie help as jy met jou hond in die oggend en aand net voor ete kan gaan stap.
Verskeie faktore wat kan wys daar’s ‘n ernstige probleem
- Die gedrag gebeur elke keer wanneer jy weggaan.
- Die gedrag gebeur net wanneer jy afwesig is.
- Angstigheid begin selfs voordat jy weggaan. Bv. die oomblik wat jy jou sleutels en sak optel, begin jou hond rondtrippel en tjank, wetend dat jy enige oomblik die huis gaan verlaat.
Oorsake van Skeidingsangs by honde
Partykeer het iets regtig traumaties met ‘n hond gebeur wat skeidingsangs kan veroorsaak, bv. om weg te raak of te verdwaal, aardbewings en selfs die verlies van ‘n persoon. Dit kan ‘n groot litteken op ‘n klein sieletjie los. In baie gevalle is daar nie net een voorval wat dit veroorsaak nie.
Party rasse is net meer geneties vatbaar daarvoor, bv. labradors, skaaphonde (a.g.v. sy hoë energiebehoeftes), Duitse Herdershonde, Vizslas (bekend as ‘velcro-honde’), Duitse korthaar pointers, spaniëlrasse en skootbrakke soos Bichon Frise en Italiaanse windhonde.
Baie kere is dit ook die troeteldiereienaar wat die hond se skeidingsangs aanwakker deur ‘n groot bohaai te maak wanneer hy weggaan. Die eienaar mag selfs die hond beloon omdat hy skuldig voel en wil opmaak vir sy afwesigheid.
Wanneer hondjies klein is, is dit natuurlik vir ‘n troeteldiereienaar om hulle ALTYD by hulle te wil hê en die hondjies te wil laat sosialiseer. Maar wanneer hulle ouer word, word hulle alleen by die huis gelaat. Sommige honde bereik ‘n ouderdom waar hulle nie net wil nie, maar ook ‘n behoefte het om by hulle eienaars te wees. Dit gee hulle ‘n bron van vertroue, sekuriteit en geborgenheid.
Honde is MAL oor roetine. Dit laat hulle veilig voel, so wanneer hulle roetine verander kan dit skeidingsangs veroorsaak – die vrees vir die onbekende. Hierdie probleme kan aangespreek word met oefening, dissipline, aandag en om weer ‘n roetine vas te lê. Troeteldiereienaars moet ‘n balans kry tussen geduld en gehoorsaamheid en vertroue in hulle hond.
Vind oplossings
Dis belangrik dat troeteldiereienaars skeidingsangs verstaan en weet hoekom hulle honde op ‘n sekere manier optree. Die hond is nie stout, kwaad of wraaksugtig nie en moenie mee geraas of gestraf word nie. Daar moet eerder na ‘n oplossing gesoek word. Besoek jou veearts en verduidelik jou hond se gedrag voordat iets ernstigs gebeur. Skeidingsangs mag selfs mediese en/of gedragsbehandeling benodig. Gesels met jou veearts oor albei opsies en werk daaraan om jou vertrek- en aankomstye nie te ooglopend te maak nie.
Jou veearts mag jou na ‘n dieregedragskenner verwys, so werk asseblief saam met die kundiges vir die welstand van jou kosbare hond.

