Voedingsbehoeftes vir ouer hond

Versorging van jou senior troeteldier

Ons dink graag terug aan die eerste keer wat ons ons klein harebol huis toe gebring het. Ons was so opgewonde! Maar die lewe stap aan en mettertyd word ons klein hondjie ‘n ouer en wyser held. Soos ‘n hond ouer word gaan hulle deur belangrike fisiese veranderinge, bv. die manier hoe hulle liggaam energie verbrand en die hoeveelheid voedingstowwe wat hulle nodig het om energie te produseer. Eienaars van ouer honde moet die verandering in metabolisme, immuniteit en liggaamstruktuur in gedagte hou. Sommige veranderings kan nie vermy word nie en is maar deel van die verouderingsproses, maar ander kan goed beheer word met die regte dieet en voeding. 

Wanneer word my hond as ‘n senior beskou?

Kleiner honderasse kan gewoonlik tot 16 jaar oud word en groter rasse tot 10 jaar. Groter honde word rondom ses jaar as senior gesien, terwyl kleiner rasse rondom agt of nege jaar senior word. Wanneer jou hond sewe jaar oud word, kan jy jou veearts vra oor ‘n dieet vir senior honde. 

Goeie kwaliteit hondekos moet aan behoorlike voedingsvereistes voldoen, bv. verhoogde vesel om te help met gereelde ontlasting. 

Tekens van veroudering sluit in:

  • Slaap meer
  • Minder spelerig
  • Minder aktief
  • Reageer stadiger
  • Velverandering
  • Afname in spiermassa
  • Veranderinge in eetlus en gewigstoename (soos wat hulle metabolisme stadiger word) 

Nier- en lewersiekte is ‘n algemene gesondheidstoestand onder ouer honde en dit kan hulle baie siek maak. Vetsug kan tot ernstige artritis en rugprobleme lei. Hartsiekte en sig- en gehoorverlies is ook baie algemeen. Kanker en gewasse kom algemeen voor, maar is gewoonlik geneesbaar met die regte behandeing en as dit betyds opgetel word. Artritis veroorsaak geweldige pyn en moet met die regte sorg en behandeling hanteer word. Gesels met jou veearts oor hoe jy die beste sorg en gemak vir jou troeteldier kan gee.  

Wat kan ek doen?

Dis belangrik dat jou hond jaarliks vir ‘n algemene ondersoek gaan. Dit raak al hoe belangriker soos wat hulle ouer word, so vra maar of hierdie besoeke nie dalk meer gereeld moet gebeur nie. Gedurende die ondersoek sal die veearts na jou hond se hart en longe luister, sy temperatuur neem en sy vel, pels, ore, oë, mond, tande en interne organe ondersoek. Die veearts mag dalk voel dat meer gereelde skanderingstoetse nodig is om potensiële ouderdomsverwante probleme vroeër op te spoor.

Dit beteken nie omdat jou hond ouer word, hy nie meer stimulasie en oefening nodig het nie – dis altyd goed vir beide jong en ouer honde. Ons geliefde diere beteken baie vir ons! Hulle gee hulle beste jare vir ons en ons moet verseker dat hulle met soveel liefde, gemak en sorg moontlik oorlaai word, soveel te meer wanneer hulle ouer, stadiger en gryser word. 

Mees algemene siektes by ouer honde:

  • Artritis 
  • Gingivitis (Tandvleisontsteking) en Periodontale siekte
  • Oogprobleme
  • Kognitiewe Disfunksie, oftewel Senieliteit
  • Breingewasse
  • Niersiekte
  • Lewersiekte
  • Diabetes
  • Velgewasse
  • Inkontinensie (verswakte blaasbeheer)
  • Prostaatprobleme
  • Kanker

Sommige rasse is meer vatbaar vir sekere kondisies as ander en dis daarom belangrik om hulle gereeld veearts toe te vat en ‘n ogie oor jou ouer hond se gesondheid te hou.

Scroll to Top