Jippie! Die somervakansie is om die draai en jy kan nie meer wag om die pad te vat nie! Maar wag eers, jou vierbeenbabas kom saam en jy moet daarvoor beplan! Waar begin ‘n mens? Wat moet jy in gedagte hou? Wat is die beste – vlieg of ry? Moenie verder bekommerd wees nie, ons het die regte raad om jou en jou troeteldiere te help om in gemak en styl te reis en daai wel verdiende vakansie te geniet.
Besluit eers waarheen jy wil gaan en soek vir troeteldiervriendelike verblyf. Jy sal dan ‘n goeie idee kry oor hoe lank die rit gaan wees en of jy eerder jou troeteldier moet laat vlieg. Volg hierdie maklike stappe:
Stap 1: Maak seker jou bestemming is troeteldiervriendelik:
Beplan vooruit. Dit is belangrik om te weet of jou troeteldier by die vakansiebestemming welkom sal wees. Gelukkig is daar deesdae al hoe meer troeteldiervriendelike bestemmings, maar maak heeltemal seker dat jy besprekings het by ‘n troeteldiervriendelike hotel of bed-en-ontbyt.
Iets om in ag te neem:
- Neem ander gaste, personeel en eiendom in ag.
- Hou jou troeteldier so stil as moontlik.
- Moenie jou troeteldier sonder toesig los nie – baie honde begin blaf of verwoes eiendom wanneer hulle in ‘n vreemde plek alleen gelaat word.
- Vra die bestuurder waar jy met jou hond kan gaan stap. Maak agter hom skoon.
- Onthou dat een slegte ervaring met ‘n troeteldier en sy eienaar ‘n hotel mag laat besluit om nooit weer troeteldiere toe te laat nie. Wees bedagsaam teenoor ander en laat jou kamer en die gronde in ‘n goeie toestand.
- Daar is troeteldiervriendelike strande waar jy met jou hond kan gaan stap.
As jy met vakansie is in Johannesburg, Pretoria, Durban, Kaapstad, die Wynland ens is daar ‘n paar troeteldiervriendelike restaurante wat jy kan besoek.
Step 2: Besoek die veearts
Voordat jy enigiets finaliseer of betaal, besoek eers die veearts en maak seker jou troeteldier is gesond. Jy sal gesondheidsertifisering nodig hê wat wys dat al sy inentings, en belangrikste van als, hondsdolheidsinentings op datum is. Dit is baie belangrik, siende dat dit teen die wet is om met ‘n troeteldier te reis wat nie ingeënt is nie. Hou die inentingskaart of gesondheidsertifisering in ‘n veilige plek in die kar of heg ‘n afskrif aan jou troeteldier se reismandjie. As jou troeteldier na die buiteland vlieg, is daar baie toetse wat eers gedoen moet word. Jou veearts sal jou met al die nodige stappe help. Jou troeteldier sal vir ‘n hondsdolheidstoets moet gaan en dit kan tot 3 maande neem om die resultate terug te kry, so beplan vooruit en maak seker als is in plek.
Terwyl jy by die veearts is, laat hulle sommer ook ‘n mikroskyfie in jou troeteldier sit. Honde kan baie maklik uit hul halsbande glip en wegraak, veral by ‘n vreemde plek. Deurdat hulle ‘n mikroskyfie het, is dit makliker om hulle weer terug te vind.
Stap 3: Kies jou vervoermiddel
Reis per vliegtuig
Hoe opwindend! Maar nie regtig vir jou troeteldiere nie. ‘n Vlug kan vir hulle baie stresvol wees, veral as hulle in die vraggedeelte vervoer word; dit is raserig, ongemaklik, vreemd en skrikwekkend! Behalwe as jou hond klein genoeg is om saam jou in die vliegtuig te sit, is dit beter om eerder ‘n alternatiewe reismetode te oorweeg. As jy egter steeds jou troeteldier in die vliegtuig wil saamvat, is dit belangrik om die volgende te weet:
- Elke lugredery het sy eie stel reëls om troeteldiere te vervoer. Bel vir meer inligting en tref vroegtydig reëlings. Jy kan ook gebruik maak van ‘n troeteldierreisagentskap wat dit vir jou minder stresvol maak en verseker al die papierwerk is in orde.
- All lugrederye versoek gesondheidsertifiserings en bewys van inentings.
- Sommige lugrederye vervoer nie diere wanneer dit uiters warm of koud is nie.
- As troeteldiere as vrag vervoer word, moet hulle in ‘n reismandjie of -hok wees wat deur die lugredery goedgekeur word.
- Baie ouer diere is kieskeurige eters of het spysverteringsprobleme, so wees maar versigtig met etes voor die vlug. Moenie jou troeteldier te na aan die vlugtyd kos gee nie (gee ‘n paar uur voor die tyd) en ook net ‘n ligte ete.
- Siende dat troeteldiere maklik ‘n mens se buie en energievlakke optel en geneig is om dit na te volg, is dit belangrik om ‘n goeie voorbeeld te stel en kalm te wees. Dis belangrik om hulle so ver moontlik op ‘n gewone skedule te hou, voor en na die vlug. Hoe minder hulle lewe verontrief word, hoe makliker sal hulle die vlug hanteer en by hulle nuwe omgewing aanpas.
Reis per Motor
Motorritte is hope pret vir jou troeteldiere, AS hulle van kindsbeen af geleer is om in ‘n kar te ry. Hondjies kan nes mense ook karsiek raak. Stop gereeld vir ‘n draaitjie en laat hulle bene rek en ‘n bietjie rondsnuffel. Stap net met hulle wanneer hulle aan ‘n sterk leiband vas is – verkieslik een met ‘n harnas sodat daar ‘n skraal kans is vir weghardloop. Hier is ‘n paar wenke vir motorritte:
- As jou troeteldier nog nooit voorheen per motor gereis het nie, is dit belangrik dat jy hom eers aan die kar gewoond maak.
- Laat hom vir eers net saam jou in die kar sit sonder om die oprit te verlaat. Daarna kan julle vir kort ritte gaan.
- As jy nog nooit met jou troeteldier gery het nie, is dit belangrik dat jy medikasie vir karsiekte en/of angstigheid saamvat.
- Verhoed karsiekte deur jou troeteldier op ‘n leë maag te laat ry. Maak egter seker dat hy altyd meer as genoeg water het.
- Hou die kar goed geventileerd. As jou troeteldier in ‘n hok is, maak seker dat daar goeie en vars lugvloei is.
- Vermy dit om met jou troeteldier te ry as dit té warm is.
Addisionele veiligheidswenke vir motorritte
Party honde is mal daaroor om in ‘n kar te ry. Die koppe word by die venster uitgesteek en hulle geniet dit terdeë wanneer hul wange en ore in die wind flap. Dit is egter nie so ‘n goeie idee nie, selfs al is die honde goed geleer. Dis beter dat jou hond nie vrylik in die kar loop, spring of kruip nie omdat dit ‘n ernstige ongeluk kan veroorsaak. Reismandjies is ‘n effektiewe manier om jou hond veilig te hou.
Wanneer jy ‘n reismandjie kies is dit belangrik dat dit groot genoeg is sodat jou troeteldier kan regop staan, draai en lê. Dit moet egter nie so groot wees dat jou hond met elke beweging van die kar binne-in rondgly nie. Dit moet goed geventileerd wees en ‘n sterk struktuur hê. Maak seker dat die reismandjie behoorlik vasgemaak is.
As ‘n reismandjie nie ‘n opsie is nie, is daar ook ander maniere om jou hond veilig te vervoer, soos ‘n harnas wat aan die veiligheidsgordel vasgemaak word. Dit gee die hond ‘n bietjie vryheid, maar beskerm hom tydens ‘n ongeluk. Maak seker jy koop ‘n harnas wat spesiaal vir veiligheidsgordels gemaak is.
- Moenie dat jou troeteldier met sy kop buite die oop venster ry nie. Dit kan tot oogbeserings en nog meer lei.
- Jou troeteldier mag nooit agterop ‘n oop bakkie ry nie. Dis uiters gevaarlik en kan tot ernstige beserings en selfs die dood lei. Party honde is geneig om van bewegende voertuie af te spring en dis nie net onveilig vir hulle nie, maar ook vir ander padgebruikers.
- Karritte is vir almal verveling, so vral jou kinders om nie die arme dier te terg of te irriteer nie.
- Moet nooit ooit jou troeteldier sonder toesig in ‘n toe kar los nie, veral in die somer. As jy die kar moet verlaat, laat een van die gesinslede by jou hond bly.
Stap 4: Nog handige wenke
- Vat meer as genoeg van jou troeteldier se gewone kos saam. Troeteldiere is baie sensitief teenoor dieetveranderinge. Probeer om so ver moontlik by jou troeteldier se gewone eettye te bly.
- Bly kalm – Praat met jou hond in ‘n kalm en ontspanne stemtoon regdeur die rit. Probeer om self ook te ontspan – jou hond kan optel of jy ‘n goeie of slegte tyd het en sal op hierdie emosies reageer.
- Goeie voorbereiding maak die verskil tussen ‘n positiewe en genotvolle reis of ‘n potensiële nagmerrie. Maak reg vir jou hond se behoeftes en maak sy veiligheid top prioriteit.
- As jy oor enigiets bekommerd is, gesels ALTYD eers meet jou veearts. Hulle ken jou troeteldier en sy neigings. Sodoende verseker jy almal het ‘n heerlike vakansie om nog vir lank te onthou.
Belangrikste van als is dat jy elke liewe oomblik van jou vakansie geniet en ‘n beter en groter band met jou wolbaba vorm. Herinneringe hou ‘n leeftyd!

