Senior kat voeding
Ons sal ons kat altyd onthou as daardie piepklein sagte harebol wat ons op die ouderdom van ses weke huistoe gebring het. Ongelukkig bly hulle nie klein nie en ons katjie word uiteindelik ‘n senior. Katte is geneig om meer grasieus ouer te word as honde en ons kom nie so gou agter dat hulle stadiger begin beweeg en hul kleur verbleik soos met honde nie. Behoorlike voeding is die beste manier om jou kat te help om ‘n gesonde hoë ouderdom te bereik. Dit kan baie meer jare tot jou kat se lewe voeg en dit vertraag ook die ontwikkeling van baie siektes.
Soos ‘n kat ouer word, gaan hulle deur aansienlik baie fisiese veranderinge en hulle voedingsbehoeftes sal daarvolgens ook verander. Die grootste rede hiervoor is dat hulle liggame energie anders begin verbruik en daarom sal die hoeveelheid voedingstowwe wat hulle nodig het vir energie, ook verander.
Lewensduur en ouderdom
Die gemiddelde lewensduur van ‘n gesonde kat is 14 tot 15 jaar, alhoewel sommige katte tot 21 jaar kan leef! Oor die algemeen word katte vanaf agt jaar as ‘n senior gesien. Dit hang af van jou kat se ras en algemene lewenstyl – en onthou, geen kat is identies nie. ‘n Ouerwordende kat gaan deur baie metaboliese- en liggaamsveranderinge. Party van hierdie veranderinge is onvermydelik, maar ander kan met die regte dieet goed beheer word. Gesels dus met jou veearts oor ‘n dieet vir seniors sodra jou kat sewe of agt jaar oud word. Spesiaal geformuleerde kos vir senior katte moet laer in vet en hoër in proteïne wees om spierverswakking te voorkom.
‘n Paar tekens van veroudering sluit in: slaap meer, speel minder, ‘n afname in fisiese aktiwiteit oor die algemeen, reageer stadiger, verandering in vel- en pelskwaliteit en gewigstoename as gevolg van ‘n stadiger metabolisme. Gaan sien asseblief jou veearts indien jou kat drasties gewig verloor.
Wat van gewigstoename en voeding?
Indien jou kat gewig optel, is dit beter om haar op ‘n laer kaloriedieet te sit – net soos met mense. Vra jou veearts vir ‘n gekombineerde aanvulling, veral omdat katte nie duidelike tekens van artritis wys nie (selfs al is hulle in pyn). Vir makliker toegang tot haar kos, kan jy haar voerbak laer sit of vir haar trappies gee om by haar kos uit te kom. Droë kos of korrels is die gesonder opsie vir mondhigiëne, maar party mense voel dat klam kos die inname van water stimuleer, wat weer baie goed is vir ‘n gesonde urineweg.
Wat is die algemene ouderdomsverwante toestande by katte?
- Algemene toestande in ouer katte kan nier- en lewersiektes insluit, wat moontlik kan lei tot ‘n ernstige chemiese wanbalans, bloedarmoede, swak immuniteit, bloeding en die agteruitgang van verstandelike funksies. Niersiekte is ‘n ernstige probleem in ouer katte.
- Oorgewig verhoog jou kat se risiko vir diabetes en lewersiekte en kan tot artritis en rugprobleme lei.
- Gehoor- en sigverlies is ook redelik algemeen.
- Kanker en gewasse is nie ongewoon nie, maar omtrent 80% daarvan is behandelbaar en geneesbaar as dit vroegtydig opgespoor word. Katte hou hulle kloue kort deur dit gereeld te skraap.
- Ouer katte is egter geneig om op te hou met skraap en dit lei tot langer en dikker naels, wat mag keer dat die naels weer ten volle in die pote teruggetrek kan word. ‘n Algemene bewys hiervan is wanneer jou kat se pote in die mat of kombers vashaak. Die beste is om jou kat na die veearts te neem vir ‘n pedikuur sodat die naels nie in die voetkussing ingroei nie.
Katte moet jaarliks deur hul veearts ondersoek word, veral wanneer hulle ouer word. Gesels met jou veearts en vind uit of sulke besoeke meer gereeld moet gebeur. Tydens die ondersoek luister die veearts na jou kat se hart en longe, neem sy temperatuur en ondersoek die vel, pels, ore, oë, mond, tande en inwendige organe. Jou veearts mag ook roetine ontledingstoetse doen, sodat ouderdomsverwante probleme vroegtydig opgespoor kan word.
Ons geliefde troeteldiere is vir ons baie belangrik. Hulle het die beste deel van hul lewens vir ons gegee en daarom moet ons seker maak ons gee vir hulle al die liefde, sorg en gemak moontlik.

