Voor- en nadele daarvan om vir jou hond ‘n jassie aan te trek

In ‘n vorige artikel het ons die vraag beantwoord: “Kry honde koud in die winter?” Die algemene antwoord is ja, alhoewel daar ‘n paar vrae is rakende grootte, ras en ouderdom wat sal bepaal wat jy kan doen om jou hond warm te hou. Een van die oplossings om jou woefels lekker snoesig en warm gedurende die koue maande te hou, is om vir haar ‘n hondetrui of -jassie aan te trek. Sy sal haarself warm kan hou en terselfdertyd sommer vreeslik oulik lyk! MAAR… pasop, kom ons kyk eers na die voor- en nadele daarvan om jou hond met ‘n jassie aan te trek:

VOORDELE

Warmte en gemak

Hondejassies verskaf hitte aan dié honde wie se korthaar pelse nie genoeg winterbeskerming bied nie. Korthaarhonde soos (Engelse en Franse) bulhonde, Jack Russells, bulterriërs, Boston terriërs, Weimaraners, chihuahuas, staffies, foksterriërs, windhonde en whippets doen goed in gemiddelde temperature, maar sodra die kwik tot in die lae 10’e daal, is dit tyd vir ‘n hondejassie of -trui. ‘n Goedpassende jassie sal help om hulle teen die koue temperature te isoleer en hulle gemaklik tydens die winter te hou.

Beskerming teen die elemente

Alle honde moet ‘n redelike hoeveelheid tyd buite spandeer, selfs in winter. In areas met koue en nat winters, sal ‘n waterdigte baadjie jou hond help om droog te bly en verseker dat jy nie na ‘n wandeling terugkeer huis toe met ‘n bewende en nat bolletjie wol nie.

Bo en behalwe dat jy jou ou en/of artritiese hond teen die winterkoue moet beskerm, kan hondejassies ook ekstra gemak gee vir honde met gewrigsprobleme en ouderdomsverwante pyne en kwale. Dit hang grotendeels af of die jassie of trui mooi pas. Dit mag dalk ‘n paar probeerslae vat voordat jy die perfekte jassie kry, veral as jou hond ‘n rasspesifieke vorm het: dink maar aan die verskil tussen ‘n breëbors, langbeen whippet teenoor ‘n worshondjie met sy kort beentjies.

NADELE

Verleentheid

Glo dit of nie, maar honde kan menslike emosies ‘lees’ en weet wanneer daar vir hulle gelag word. Wanneer ‘n hond in ‘n oulike jassie aangetrek word en dan vir haar gelag word, kan sy verleentheid ervaar en sal die baadjie met ‘n negatiewe ervaring assosieer. Wees bereid om te aanvaar dat jou hond emosioneel negatief geaffekteer is wanneer sy geforseer word om ‘n baadjie aan te trek (of enige ander hondekostuum of -klere), en trek dit uit as dit lyk asof sy ongemaklik of verleë voel.

Gesondheidsrisiko

As die hondejassie of -trui verkeerd pas, kan dit jou hond se bewegings belemmer en beserings en irritasie op drukpunte veroorsaak, soos die agterkant van die nek (as die trui se kraag te styf is) of onder die ‘armholtes’ (as dit te styf is om die voorbene). Die jassie moet geensins beperkend wees nie of jou hond se natuurlike bewegings belemmer nie. Dit moet ook nie te groot wees nie anders kan dit afgly en jou hond verstrik.

As jy ‘n hondejassie of -trui wil koop, maak eers seker van jou hond se mates: die lengte, wydte en borsomtrek, asook ander mates. Byvoorbeeld, ‘n windhond is ‘n groot hond met ‘n groot bors (wat moontlik ‘n diep, nou bors is), maar sy het baie kort/nou heupe. Dit skep ‘n baie unieke, gekurfde vorm van bors na heupe. Nog ‘n ewe groot hond soos ‘n mastiff of ‘n Dalmation mag dieselfde hoogte as ‘n windhond wees, maar die vorm is baie, baie verskillend.

Dis uiters belangrik dat die kledingstuk perfek en gemaklik pas, anders sal dit net ‘n oorlas of ‘n gesondheidsrisiko word.

Temperatuurregulerende probleme

As honde met hul eie ‘ingeboude’ pelse kom, hoekom het hulle dan nog hondetruie en -baadjies vir die wintertyd nodig? Elke honderas is anders – sommiges kan kouer temperature beter hanteer as ander. Honderasse wat spesifiek geteel is om in kouer klimaat te werk (dink aan huskies, Malamutes, Duitse herdershonde, borderkollies, St. Bernards, ens.) het ‘n dik, geïsoleerde onderpels en harder, waterdigte bo-pelse. Hierdie rasse sal geen probleem hê om warm te bly in Suid-Afrika se matige winterklimaat nie en kan hul eie liggaamstemperatuur tydens verskillende toestande reguleer. As jy wel vir jou hond met langer hare ‘n jas aantrek, moet dit nie heeldag aangehou word nie. Haal dit af om haar pels te borsel en koeke te voorkom en ook sodat sy haar eie liggaamstemperatuur kan reguleer.

Ten spyte daarvan dat korthaarrasse hul liggaamstemperatuur kan reguleer, mag dit nodig wees vir ‘n bietjie ekstra hulp in die vorm van ‘n hondejassie wanneer temperature bytend word. Dit gesê, ‘n sintetiese bedekking (jassie) sal help om jou hond warm te hou, maar dit kan ook jou hond se vermoë om haar temperatuur te reguleer, belemmer. Moenie die jassie onbepaald aanhou nie. Trek dit uit gedurende die warmer gedeeltes van die dag en wanneer sy toegang het tot komberse en beddegoed. Sy mag dalk nie gelykertyd ‘n jassie en komberse nodig hê nie en mag dalk oorverhit. Gebruik slegs ‘n hondejassie wanneer jou hond ekstra bedekking nodig het, soos wanneer julle op ‘n wandeling gaan of gedurende speeltyd buite.

Allergiese reaksie

Terwyl jy nooit kan voorspel of jou hond ‘n allergiese reaksie teenoor ‘n hondejassie se materiaal sal hê nie, is dit belangrik om haar gedrag dop te hou wanneer sy dit dra – maak nie saak of dit die eerste keer of die honderdste keer is nie. ‘n Hond se allergiese reaksie teenoor materiaal kan enige van die volgende wees:

  • jeukery en rooiheid
  • opswel van die gesigsgedeelte (insluitend ore)
  • rooi vel met inflammasie
  • niesery
  • opgooi en/of diarree

As enige van hierdie simptome kop uitsteek, verwyder die baadjie en kyk of dit weggaan, gesels dan met jou veearts oor die moontlikheid van ‘n allergie. Probeer ‘n verskeidenheid van hondejassies wat van verskillende materiaal gemaak is.



Scroll to Top