Wat is in ‘n naam? Hoe om ‘n naam vir jou nuwe troeteldier te kies

Oor die eeue heen, het die gebruik om troeteldiere name te gee, ‘n groot rol gespeel om hulle mak te maak en van hulle huisdiere te maak. Ons hou daarvan om ons kreatiwiteit uit te toets met troeteldiername en dit gee ook aan ons wolbabas titels en identiteit wat hul voorkoms en persoonlikhede uitbeeld. Party troeteldiereienaars het ‘n fantastiese gawe om vir hulle troeteldiere gepaste byname te gee, terwyl ander weer moet teruggaan na die pootloodbord.

Hier is ‘n paar wenke oor hoe om vir jou troeteldier ‘n naam te gee wat hulle verdien.

Hoe jou troeteldier sy naam ‘onthou’

Enige interaksie tussen jou en jou troeteldier, moet gepaardgaan met effektiewe kommunikasie en ‘n positiewe ervaring. Byvoorbeeld, as jy jou hond (of kat) leer om te sit, beteken dit jy gee ‘n opdrag (sit), ‘n gebaar (lig jou hand bokant hulle kop), wag dat hulle agterstewe die grond raak en gee dan ‘n lekkerny en ‘n bietjie prys. Na een of twee probeerslae, snap hulle: As ek “sit” hoor en my agterstewe op die grond sit, kry ek ‘n jammie lekkerny! Ek gaan dit doen!

Jou troeteldier leer sy naam ken in ‘n soortgelyke wyse. Wanneer jy jou troeteldier se naam binne die eerste paar dae sê en hulle na jou kyk en na jou toe beweeg of hulle stert swaai, gee vir hulle ‘n lekkerny en prys hulle dat hulle die verbintenis so vinnig gemaak het! Sommige troeteldiere besef dat hierdie vreemde, konsekwente geraas uit jou mond, die teken is dat hulle jou kan nader (‘n bevelwoord), terwyl ander regtig snap dat hiérdie woord, hulle naam, net aan hulle behoort.

‘n Paar wenke om vir jou troeteldier ‘n naam te kies

Sedert die vroeë Griekse tye, is troeteldiere – veral honde – tweelettergreepname gegee wat by hulle identiteit gepas het; enigiets van Fury tot Fencer tot Dagger tot Butcher en Killer (vertaal vanaf hul Griekse titels). En toe kom die fliek, The Mask, uit en almal noem hul Jack Russell ‘Milo’.

  • Grappies op ‘n stokkie, die reël bly staan: ‘n een- of tweelettergreepnaam met skerp konsonante en kort vokale, sal vir jou troeteldier duidelik wys dat hulle name geroep word en hulle moet reageer. ‘Snoepie’, ‘Rusty’, ‘Kitty’, ‘Lola’, ‘Coco’, ens.
  • ‘Aspoestertjie’ of ‘Repelsteeltjie’ sal ook redelike moeilik wees om regoor ‘n hondepark te skree terwyl jy agter jou feëverhaal karakter aanhardloop.
  • Kies ‘n naam waarvan jy hou, want jy gaan dit vir die res van jou troeteldier se lewe gebruik en hulle sal maklik enige positiewe of negatiewe gevoel rondom hulle naam optel.
  • Moet ook nie ‘n snaakse of aanstootlike naam kies net om ‘n reaksie by ander te kry nie.
  • Speel met die naam vir ‘n paar dae en kyk of dit pas, indien nie, kan jy dit altyd verander.
  • Vermy name wat klink soos bevele wat jy jou troeteldier wil leer. Moenie iets gebruik wat rym met ‘sit’, ‘bly’, ‘kniel’, ‘vang’, ‘poot’, ‘af’, ens. nie. ‘n Naam waar die aksent rym met ‘nee’ mag ook rampspoedig wees wanneer dit kom by gehoorsaamheidsopleiding…

Idees vir troeteldiername

Siende dat jou troeteldier jou boesemvriend gaan wees, kies ‘n naam wat by jou persoonlikheid en belangstellings pas, maar wat ook by sy eie persoonlikheid pas. Byvoorbeeld:

  • Star Wars-fanatikuste is bekend daarvoor dat hulle hulle troeteldiere ‘Jedi’, ‘Obi’, ‘Darth’, ‘Chewie’, ‘Leia’, ‘Solo’, ‘Ewok’, ens. noem. Dink bietjie oor jou fliek- of musiekbelangstellings en vernoem jou troeteldier daarvolgens. Hopelik verander jou smaak nie mettertyd nie!
  • As jy ‘n chef of fynproewer is, wat van ‘Foodie’, ‘Pasta’, ‘Fillet’ (op die Franse manier), ‘Poeding’, ens.?
  • Pas jou troeteldier se naam by sy voorkoms? ‘n Dalmation of Duitse Pointer kan ‘Dotty’ genoem word en ‘n worshond ‘Worsie’.
  • Jou troeteldier se name kan ook ironies wees, bv. ‘n reuse hond se naam ‘Kleintjie’ of ‘Muis’, terwyl ‘n kat ‘Vis’ of ‘Konyn’ kan wees.
  • As jy ‘n woord-persoon is, kan jou troeteldier se naam ‘Typo’ of ‘Shakespeare’ wees. Kunstenaars kan rondloop met hulle ‘Picasso’, ‘Dali’, ‘Frieda’, ‘Monet’ of wat van ‘Potlood’, ‘Cyan’?
  • ‘n Wêreldreisiger kan hulle troeteldiere vernoem na hul gunsteling geografiese ligging: ‘London’, ‘Parys’, ‘Indië’, ‘Miami’, ‘Vegas’, ‘Berlyn’, ‘Moskou’, ‘Dublin’… (moet net nie vir te lank weggaan en jou troeteldier alleen agterlaat nie).
  • Ag jy jouself as ‘n sommelier? Wat dan van ‘Merlot’, ‘Pinot’ of ‘Pinotage’, ‘Syrah’ en ‘Cabbie’?

Wat jy ookal besluit om jou troeteldier te noem, geniet dit en maak seker dit pas goed by jou troeteldier en sy persoonlikheid. As daar ‘n storie agter die naam is, hoop ons dis ‘n goeie een!

Scroll to Top