Die Labrador Retriever
Die labrador retriever is ook algemeen bekend as die labrador, lab of labbie. Sy gladde dubbel pels is kort tot medium lengte en die kleur kan wissel van die gewilde geel (blond), sjokoladebruin of swart. Sy kop is breed met ‘n effense punt en die swart snoet is nogal wyd. Die tande ontmoet in ‘n “skêr”-gebit. Die nek is sterk en breed, maar in verhouding tot die res van die lyf. Die lyf is bietjie langer as wat dit hoog is.
Waar kom die labrador vandaan?
Volgens geskiedenis het vissermanne Labradors in die begin gebruik om nette nader te sleep, toue te kry en vis uit die koue Noord-Atlantiese oseaan, naby Kanada, te haal. Die ras is vandag nog net so goedgeaard en hardwerkend soos sy voorouers. Moderne Labradors word gereeld opgelei om mense met blindheid/sig– en gehoorgestremdheid en outisme te help. Hulle is ook baie goeie emosionele ondersteuningshonde. Hulle vaardighede strek so ver as terapiehonde, kontroleer- en speurwerk vir die gereg, skoukompetisies en soek-en-reddingshonde. Hulle talente is eindeloos!
Eienskappe en opleiding
Die lab is gespierd en atleties met hope energie. Hulle het ook ‘n vriendelike geaardheid en is baie intelligent. Hy is ‘n gelukkige, liefdevolle ras wat toegewyd is aan sy gesin. Hy leer maklik en is altyd gereed vir ‘n nuwe toertjie of speletjie. Labs smag na menslike leierskap en interaksie en begeer om deel van die gesin te wees. Hulle kan nogal verwoestend raak as hulle nie genoeg aandag en oefening kry nie, of as hulle nie ferm leierskap 100% van die tyd kry nie. Alhoewel hulle tradisioneel ‘n sosiale ras is, is party bietjie sku vir vreemdelinge, behalwe as hulle van jongsaf daaraan blootgestel is. Volwasse labs is baie sterk en dit is dus beter om hulle van kleinsaf te leer om met ‘n leiband te loop en na opdragte te luister (en om nie voor ‘n persoon by deure en hekke uit te storm nie). Hulle is waghonde, nie sekuriteitshonde nie, alhoewel party as sekuriteitshonde gebruik word.
Kyk uit vir…
Ongelukkig is Labradors een van die honderasse met ‘n genetiese vatbaarheid vir elmboog- en heupdisplasie. Daar kan vir hierdie siektes getoets word, so dis dus belangrik om ‘n hondjie te kry wie se ouers gesonde elmboë en heupe het.
Die sagte, korthaar, dubbel pels is maklik om te versorg. Kam en borsel dit gereeld om van die los hare ontslae te raak en gee aandag aan hulle onderpels.
Ras: Labrador Retriever
Oorsprong: Kanada
Gemiddelde Volwasse Hoogte: 53 – 61 cm
Gemiddelde Volwasse Gewig: 25 – 35 kg
Lewensverwagting: 10 – 12 jaar
Oefeningsbehoeftes: Benodig gereelde oefening en stimulasie
Soortgelyke Rasse: Golden Retriever
Hulpverlening: http://www.labclub.org.za/

