Dis net soveel meer pret en neem ook sommer ‘n berg van jou skouers af, as jy jou troeteldier saam met vakansie kan vat – veral as jou troeteldier al bietjie meer aan die bejaarde kant is. Jy moet egter jou huiswerk behoorlik doen as jy so iets oorweeg.
Gesondheid en veiligheid
Dit mag dalk opwindend klink om jou troeteldier saam met vakansie te neem, maar dis onregverdig om hom deur ‘n rit te sit as dit nie goed is vir sy gesondheid en veiligheid nie. Vat jou troeteldier eers vir ‘n ondersoek en gesels met die veearts om te hoor of jou troeteldier wel so ver mag reis. Maak seker dat al sy inentings op datum is en hou ‘n rekord daarvan by jou. Gesondheidsertifisering is ‘n vereiste op vlugte.
Dink mooi en behoorlik voordat jy met jou planne voortgaan. Dit mag dalk moeilik wees om hom by ‘n vriend of familielid te los, of selfs jou vakansieplanne te verander, maar uiteindelik sal jy beter voel as jy weet jy’t die regte ding vir jou geliefde metgesel gedoen.
Indien jy besluit om wel voort te gaan met jou planne, is dit belangrik dat jy seker maak jou troeteldier bly gesond gedurende die reis. Vat genoeg van sy gewone kos en plaaslike of gebottelde water saam. Onthou ook om enige medikasie wat hy mag nodig kry, saam te bring. Probeer om so ver moontlik by sy roetine te bly sodat hy gemaklik en ontspanne kan voel.
Reismandjies
Reismandjies/draagbare hokke word van metaal, draad, plastiek of materiaal gemaak. Dit dien as ‘n veilige spasie/plekkie vir jou hond – beide by die huis en terwyl daar gereis word.
Om jou hond in ‘n mandjie te sit terwyl jy ry, is ‘n wonderlike manier om hulle veilig te hou. Dit hou hulle ook stil, so jy hoef nie bang te wees jy kry skielik ‘n hond op jou skoot terwyl jy bestuur nie. Reismandjies is ideaal vir wanneer jy by troeteldiervriendelike akkommodasie oorslaap en sal keer dat jou hond in die moeilikheid beland.
Die ideale mandjie moet die volgende eienskappe hê:
- Groot genoeg wees sodat jou troeteldier kan regop staan, draai en lê.
- Sterk wees, met handvatsels en grepe en vry van enigiets wat in die binnekant mag uitsteek en seermaak.
- Lekvrye oppervlak hê wat bedek is met ‘n absorberende materiaal.
- Ventilasie aan albei kante met rande en knoppe aan die buitekant om te keer dat die lugvloei nie geblokkeer word nie.
- “Live Animal” / “Lewende Dier”-etiket met pyle wat na bo wys, asook die eienaar se naam, adres en telefoonnommer.
- Sit ‘n gemaklike mat binne-in, jou troeteldier se gunsteling speelding en ‘n waterbak. As jou troeteldier op ‘n lang vlug gaan, sit ekstra kos in ‘n plastieksak en bind dit aan die reismandjie vas.
Leer jou troeteldier om in ‘n reismandjie te sit tydens ‘n rit
Dit is natuurlik om sleg te voel omdat jy jou bejaarde hond in so klein spasie inhok, maar probeer om nie jou gevoelens te wys nie. Hulle kan dit aanvoel en angstig raak. Gewoonlik gee honde en katte nie om om in ‘n mandjie te wees nie en party voel selfs veiliger. Dit is altyd beter om hulle van ‘n jong ouderdom af te leer, maar dis nooit te laat nie. So, wat is die regte manier om jou ouer hond te leer?
Kry hulle gereed
Laat hulle eers ‘n bietjie oefen voordat jy hulle begin afrig, bv. gaan stap met hulle of speel ‘n speletjie om oortollige energie te verbrand. Onthou ook om jou troeteldier eers vir ‘n draaitjie te vat sodat jy nie die afrigtingsessie hoef te onderbreek nie.
Wees geduldig
Anders as met klein hondjies en katjies wat nie ingewortelde gewoontes het nie, het ouer troeteldiere dalk hulle hele lewe deur nog nooit in ‘n reismandjie gereis nie. Dit beteken dat hulle heelwaarskynlik meer teen die gedagte gaan skop en baklei. Jou werk is om geduldig te wees en aan te hou probeer. Met tyd, en die regte afrigting, aanvaar die meeste volwasse troeteldiere wel die reismandjie.
Gebruik lekkernye
Laat jou troeteldier voel dat die reismandjie ‘n goeie en veilige plek is. Moedig hom aan om in te gaan deur lekkernye, speelgoed en selfs kos binne-in te sit. Uiteindelik sal die hok geassosieer word met ‘n positiewe ervaring, ‘n plek waar hulle wíl wees.
Maak dit gemaklik
Honde is mal oor ‘n lekker sagte, gemaklike kombers en hulle hou daarvan om gemaklike plekkies te kry om op te lê. So, hoekom sit jy nie ‘n snoesige kombers in die hok en skep so nog ‘n lekker lêplekkie nie. Sit sy gunsteling kombers binne-in of bederf hom met ‘n nuwe kombers op sy gewone bed.
Maak die deur toe – net vir ‘n rukkie!
Natuurlik is die doel om die deur uiteindelik heeltemal toe te hou met ‘n kalm en ontspanne hond binne-in – selfs al word die mandjie opgetel. Wanneer jy agterkom jou troeteldier raak meer gemaklik en hou daarvan om langer in die hok te bly, kan jy die deur vir langer tydperiodes toehou. Lei jou hond se aandag af met ‘n lekkerny of speelding en maak die deur toe terwyl hy besig is om dit te geniet. Sodra jy dit regkry om die deur heeltemal toe te maak, kan jy begin met periodes van vyf minute of minder, maar maak seker jy bly naby en sigbaar. Met tyd kan jy dit vir langer periodes begin toehou en die vertrek verlaat.
Jou troeteldier sal begin verstaan dat dit steeds veilig is en dat hy wel weer sal uitkom, al staan jy nie reg voor hom nie. Hou aan met hierdie roetine en uiteindelik sal jou ouer troeteldier van die hok begin hou en dit gewilliglik aanvaar. Wie weet, dalk word dit nog jou troeteldier se gunsteling slaapplekkie.
Reël ‘n speeldag met ‘n maat
Jippie! Jou hond is mal oor speeldae en dit is ‘n wonderlike tyd om hom te leer om binne-in ‘n reismandjie te ry. Op hierdie manier sal jou ouer hond gewoond raak aan ‘n hok gedurende ‘n rit en besef dat die eindresultaat altyd positief is.
Maniere van Reis
Per Motor
Dis baie makliker vir jou troeteldier om per motor te reis as per vliegtuig. Jou ouer troeteldier mag meer gereelde stoppe nodig hê vir piepiebreke en om hulle pote te rek en ‘n bietjie rond te snuffel. Doen dit egter net as hulle aan ‘n stewige leiband vas is, verkieslik een met ‘n harnas sodat daar ‘n skraler kans is vir weghardloop.
- Berei jou troeteldier voor om in ‘n kar te ry deur hom vir eers net saam met jou in die kar te laat sit, sonder om die oprit te verlaat. Daarna kan julle vir kort ritte gaan.
- As jy nog nooit met jou troeteldier gereis het nie, is dit belangrik dat jy medikasie vir karsiekte en/of angstigheid saamvat.
- Verhoed karsiekte deur jou troeteldier op ‘n leë maag te laat ry. Maak egter seker dat hy altyd meer as genoeg water het.
- Hou die kar goed geventileerd. As jou troeteldier in ‘n hok is, maak seker dat daar goeie en vars lugvloei is.
- Moenie dat jou troeteldier met sy kop buite die oop venster ry nie. Dit kan tot oogbeserings, en nog meer, lei.
- Jou troeteldier mag nooit agterop ‘n oop bakkie ry nie. Dis uiters gevaarlik en kan tot ernstige beserings en selfs die dood lei.
- Karritte is vir almal vervelig, so vra jou kinders om nie die arme dier te terg of te irriteer nie.
- Moet nooit ooit jou troeteldier sonder toesig in ‘n toe kar los nie, veral in die somer. As jy die kar moet verlaat, laat een van die gesinslede by die hond bly.
Per Vliegtuig
Dink twee keer voordat jy jou bejaarde hond op ‘n vliegtuig sit. Om in die lugvraggedeelte te vlieg kan vir hulle baie stresvol wees, veral in die koue weer. Behalwe as jou hond klein genoeg is om saam jou in die vliegtuig te sit, is dit beter om hom eerder by die huis te los waar hy veilig is. As jy steeds jou senior woef wil saamvat, moet jy die volgende doen:
- Elke lugredery het sy eie stel reëls vir troeteldiere. Bel vir meer inligting en tref die nodige reëlings lank vooruit. Jy kan ook ‘n troeteldierreisagentskap gebruik wat alles baie makliker maak en ook verseker jy’t al die papierwerk in orde.
- Alle lugrederye vereis gesondheidsertifisering en ‘n bewys van inentings.
- Sommige lugrederye weier om diere te vervoer as dit uiters koud of warm is.
- Die reishok moet deur die lugredery aanvaar word wanneer troeteldiere as vrag vervoer word.
- Baie ouer troeteldiere is maar kieskeurige eters of het spysverteringsprobleme, so wees versigtig met etes voor die vlug. Moenie jou troeteldier te na aan die vertrektyd voer nie (gee ‘n paar uur tussen voedings- en vlugtyd) en gee net ‘n ligte ete.
- Siende dat troeteldiere maklik ‘n mens se buie en energievlakke optel en geneig is om daarop te reageer, is dit belangrik om ‘n goeie voorbeeld te stel en kalm te wees. Dis belangrik om hulle so ver moontlik op ‘n gewone skedule te hou, voor en na die vlug. Hoe minder hulle lewe verontrief word, hoe makliker sal hulle die vlug hanteer en by hulle nuwe omgewing aanpas.
Maak seker jou troeteldier dra ‘n ID-plaatjie
Ouer troeteldiere dwaal maar af en mag dalk nie hoor wanneer jy roep nie. Laat hy ‘n ID-plaatjie aan sy halsband dra met jou huisadres en selfoonnommer op. Moet nooit met ‘n troeteldier reis wat nie ‘n mikroskyfie het nie en maak seker dat die inligting daarop op datum is. ‘n Mikroskyfie is die allerbeste manier om weer jou troeteldier op te spoor, sou hy uit sy halsband glip.
Maak seker jou bestemming is troeteldiervriendelik
Beplan vooruit. Dit is belangrik om te weet of jou troeteldier by die vakansiebestemming welkom sal wees. Gelukkig is daar deesdae al hoe meer troeteldiervriendelike bestemmings.
- Neem ander gaste, personeel en eiendom in ag.
- Hou jou troeteldier so stil as moontlik.
- Moenie jou troeteldier sonder toesig los nie – baie honde begin blaf of verwoes eiendom wanneer hulle in ‘n vreemde plek alleen gelaat word.
- Vra die bestuurder waar jy met jou hond kan gaan stap. Maak agter hom skoon.
- Onthou, een slegte ervaring met ‘n troeteldier en sy eienaar, kan ‘n hotel laat besluit om nooit weer troeteldiere toe te laat nie. Wees konsidererend teenoor ander en laat jou kamer en die gronde in ‘n goeie toestand.
Neem genoeg troeteldierkos saam
Maak seker dat jy genoeg van jou hond se gewone kos saamvat. Troeteldiere is baie sensitief teenoor dieetveranderings. Probeer om so ver moontlik by jou troeteldier se gewone eettye te bly.
Bly kalm
Praat met jou hond in ‘n kalm en ontspanne stemtoon regdeur die rit. Probeer om self ook te ontspan – jou hond kan optel of jy ‘n goeie of slegte tyd het en sal op hierdie emosies reageer.
Goeie voorbereiding maak die verskil tussen ‘n positiewe en genotvolle reis, of ‘n potensiële nagmerrie. Berei voor vir jou hond se behoeftes en maak sy veiligheid top prioriteit.
Wenk: As jy oor enigiets bekommerd is, gesels ALTYD eers met jou veearts. Hulle ken jou troeteldier en sy neigings. Sodoende verseker jy almal het ‘n heerlike vakansie wat vir lank onthou sal word.

